Friday 7 November 2014

Paleografie

Wanneer dit voorkom asof die stamboomondersoek nie vinnig vorder nie, is dit nie omdat ek niks doen nie, maar omdat ek slegs geen vordering maak in die werk wat ek wél doen nie.

Ek sit nou al lank en wonder oor die Van Dyk-familie se herkoms. Ja, ja, ek weet die Geslagsregister sê ons kom uit Ysenberge (tans Izenberge) in België: maar wanneer is Jan van Dyk of sy kinders gebore - hoe oud was hulle toe hulle in Suid-Afrika aangekom het, wat het van die ma geword en, waaroor ek die meeste wonder, waarom het hulle na Suid-Afrika gegaan?

In 'n poging om hierdie vrae te beantwoord, is ek besig om deur die doop- huweliks-, en sterfteaktes van Ysenberge in die periode 1634 tot 1690 te sif. Maar dit vat baie lank, of liewer: baie, baie, baie lank. Hoekom? Wel, om mee te begin is die inskrywings in Latyn, nié 'n taal waarmee ek baie ervaring het nie. Asof dit nie erg genoeg is nie, was dit ook nie altyd 'n taal waarmee die pastoor baie ervaring gehad het nie, wat beteken dat woorde uitgelaat of verkeerd gespel word. En derdens, laat hierdieselfde pastore se handskrifte dikwels veel te wense oor. Dit laat mens met 'n werk wat eintlik voltydse toewyding nodig het, maar waarvoor ek slegs 'n uur of twee per week oor het.

Hier volg 'n paar voorbeelde uit die doopregisters van Ysenberge/Izenberge, met transkripsies en vertaling, ter informasie en vermaak.



Die eerste voorbeeld is die maklikste: hierdie pastoor het redelik duidelik geskryf en kan ek dit sonder te veel moeite oorskryf en vertaal (wat dan ook die betekenis van paleografie is: die oorskrywing van antieke tekste). Die woorde in hakies kom nie self in die teks voor nie en 'n vraagteken dui daarop dat ek nie seker is oor die woord nie.


Die vigesima septima februarij
anni milesimi sexentesimi septuagesimi
quarti baptisavi corneliam filiam
francisci venderloo et Anna van hille
c-jugium nataam vigesima quinta huius (mensis)
susceperunt Joannes venderloo ex
beueren et cornelia van hille ex Isenb:

J Flamour pl? (pastor loci)

Op die 27ste Februarie,
in die jaar 1674 (letterlik uitgeskryf)
is gedoop Cornelia, dogter van
Franciscus Venderloo en Anna van Hille,
eggenote. Gebore die 25 van hierdie (maand).
Doopgetuies was Joannes venderloo uit
Beveren en Cornelia van Hille uit Izenberge.

J. Flamour, plaaslike pastoor


Buiten die woord wat die pastoor uitgelaat het ("mensis"/"maand"), bied bostaande nog 'n voorbeeld van 'n stok tussen my speke: afkortings. By die derde reël van onder is die eerste woord cjugium, maar die c het 'n strepie bo-op. Dit beteken dat die woord afgekort is: dit is eintlik conjugium. Ek herken die woord, want ek het hom al telkemale in ander rekords teëgekom, maar daar is helaas meer as genoeg afgekorte woorde wat ek nie herken nie. Die pastore besluit immers self wat hulle gaan afkort en hoe, eerder as om 'n vooraf bepaalde stelsel te gebruik. Ook is in hierdie geval die woord "maand" ("mensis") uitgelaat.

En dan is daar ongelukkig heeltemal te veel inskrywings waar die pastoor soos 'n krap geskryf het:


Dan probeer ons maar ons bes:

xxiije aprilis
baptizavi barbaram filiam
irberti de holander et petronilla
bransbers/? conogm natum xxi nat:
susceptores Jacobus de holander
ex Ijsenberge Joanna uxor
Jacobi onterseune filij maliardi
ex IJsenberge
23ste April (1634)
Gedoop, Barbara, dogter van
Irbertus de Holander en Petronilla
Bransbers/?, eggenotes. Gebore die 21ste gebore.
Doopgetuies Jacobus de Holander
uit Ysenberg, Joanna, vrou van
Jacobus Onterseune en dogter van Maliardi
uit Ysenberge.

Bogenoemde pastoor het nie baie hard probeer nie: 'n naam soos Irbertus is haas onmoontlik en "gebore die 21ste gebore", is nie baie sinvol nie. Nie seker oor die "Brantbers"-van nie, dit kan ook byvoorbeeld Brantlers of Branslers wees (weereens, 'n uiters ongewone van, selfs vir dié tyd - laat my wonder of die ou hardhorend was).

Die inskrywings volg egter almal dieselfde volgorde, wat dit maklik maak om woorde te herken en die nodige inligting raak te sien.

Maar dan kry mens nou soms 'n inskrywing soos die volgende, wat my hart breek:


My vertaling in hierdie geval moet met 'n knip sout geneem word, want hier is baie nuwe woorde (en Latynse woorde se betekenis verander afhangende van die plek in die sin en die agtervoegsels). Weer het ons Mnr. Flamour, wat nou nie weer só mooi skryf soos in die eerste voorbeeld nie.


1676
Die tertia Januarij anni supradicti
baptisavit Infrascriptus Joannam de Leugen
Inventura in porticu annexo ecclesia Isenbergam
cuius pater et mater facto huiur inde
examine nescitus. susceperunt Petrus
van Roesten disci magister et Catharina Hudens
testetrix uterqe ex Isinberge
J. Flamour
1676
Op die derde dag van Januarie in die jaar hierbo aangegee,
het die ondergetekende gedoop, Joanna de Leugen,
gevind in 'n kamer verbind aan die kerk van Isenberg.

Wie die vader of moeder van die kind inderdaad is,
het ondersoek nie kon toon nie/moet ondersoek word?
Doopgetuies was Petrus  van Roesten "disci magister" en Catharina Hudens, 
beide getuies uit Isinberge.



 Die gegewe van, "Leugen", verwys na die kerkportaal waar sy gevind is: in baie Wes-Vlaamse dorpies het die kerkportaal as "De Leughen" bekend gestaan, want dit is waar almal na die oggenddiens gaan staan en skinder het oor die plaaslike skandale.

Alhoewel ek nog hoegenaamd geen van Dyk's gevind het nie - en ook geen persone met dieselfde voorname nie  - is die 'n interessante tydverdryf: mens leer die inwoners en pastore van hierdie klein dorpie in die 1600's - en die manier waarop hulle gelewe het - baie goed ken. Ek betwyfel intussen egter sterk of énige van die Van Dyk's daar gebore is. Moontlik het die vader as kind daar grootgeword en homself as "van Ysenberg" beskou (alhoewel hy nie daar gebore is nie), of het hy daarheen verhuis ná die gebore van sy jongste kind, Anna. Hoe dit ook al sy, ek sal dit eers met sekerheid kan bevestig ná ek al die rekords deurgesif het.





Sunday 14 September 2014

Geplaas: Joost van Dijk (c.1675-1718)

Nou net Joost van Dijk se inskrywing geplaas. Dit was 'n interessante twee weke wat ek met hom en sy baie vrouens spandeer het. Ek het aansoek gedoen om lidmaatskap by die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, waardeur ek hopelik in die toekoms makliker en meer inligting sal kan kry.


Saturday 6 September 2014

van Dijk, Jan - opgedateer

Ek het so pas die bladsy van Jan van Dijk opgedateer met 'n bronnelys en  die volgende inligting:

Welke datum Jan van Dijk dan ook in Suid-Afrika aangekom het, hy is in 1691 grond toegeken in die buurt van Stellenbosch, wat toe nog maar pas aangelê was. ... Die plase was groot genoeg vir landbou-doeleindes, maar te klein vir vee. Die boere het egter al die naburige land, wat aan niemand gegee is nie, as gemeenskaplike weivelde gebruik. Die huise van die verskillende boere was relatief naby aan mekaar, wat 'n gevoel van isolasie teëgewerk het. 

Die koloniste het dikwels in kontak gekom met die Khoi (destyds genoem die Hottentotte, 'n naam wat die klanke van hul taal gena-aap het). Die inboorlinge sou ligte werk op die plase doen, soos velde oes, in ruil vir tabak en alkohol. Die jonger Khoi-meisies het werk aangeneem as bediendes, wat daartoe bygedra het dat die Nederlandse taal verder versprei het.




Die begin

Dis nou al jare wat ek wil-wil ondersoek doen na my familie (van Dyk) se stamboom en na 'n paar halwe beginne het ek uiteindelik halsoorkop in die genealogie-wêreld ingeduik met 'n Premium Plus rekening op myheritage.com. Gewapen met die "definitiewe" geslagsregister (gepubliseer 1975) het ek begin om my wortels op te grawe. Mettertyd het ek egter moes leer dat die geslagsregister nie so betroubaar is as wat ek (en baie ander amateur-genealoë) gedink het nie. Sommige familielede verskyn glad nie daarin nie, terwyl ander verkeerdelik as getroud genoem word - ander het selfs die verkeerde ouers.

Die blog (of webjoernaal, as jy wil) is dus bedoel om hierdie foute te korrigeer: alhoewel my stamboom vir iedereen toeganklik is op www.hoogendoorn-vandyk.myheritage.com (lewendige persone se inligting is slegs toeganklik vir diegene wat 'n individuele uitnodiging ontvang het), is dit lank nie baie gebruikersvriendelik nie en is dit moeilik om 'n oorsigtelike prentjie te kry van 'n persoon of sy gesin.

Ek het drie hoofdoele:
1. Om meer uit te vind oor die van Dyk's en hul herkoms uit Wes-Vlaandere.
2. Om die moederlyne na te vors tot in Europa (ek het immers 2048 direkte voorouers as ek 11 geslagte terug kyk).
3. Die gegewens oor die meer onlangse geslagte volledig in te vul.

Punt 2 is ook waarom die blog SA Stamboom, in plaas van Van Dyk Stamboom heet: ek is net soveel 'n Van Vuuren, Kruger, Schoeman, Mouton, McDonald, De Klerk, Robinson, Nel, Siewerts, de Vlamingh, ens. as wat ek 'n Van Dyk is en dit sou jammer wees om nie ook die verhale van hierdie families in te sluit nie.

En dus, sonder enige verdere uitstel, bied ek die eerste inskrywing:
Jan Pietersz. van Dijk (c. 1635-73)