Thursday 3 September 2015

'n Voorbeeld van 'n Stamboom-speurtog

Ek is terselfdertyd besig met 'n aantal takke van die stamboom: terwyl ek op soek is na meer inligting oor die Van Dyk en Van Vuuren-takke, probeer ek ook die stamboom-legkaart as geheel invul. M.a.w. probeer ek elke tak na te vors tot ten minste by die eerste Stamvader in Suid-Afrika (of verder, indien moontlik).

In baie gevalle is dit maklik, veral met behulp van webwerwe soos MyHeritage.com en Geni.com, waar baie mense al die moeilike werk vír my gedoen het. Maar soms het mens 'n voorouer soos Wesselina Hendrik Cornelia de Beer, getroud met Barend Jacobus Hendrik van Dyk (1865-1947). Hulle was die ouers van my Oupagrootjie Izak Matthys (getroud met Oumagrootjie Tina).

Al wat ek van haar gehad het is haar naam, verkry uit die Geslagsregister van die broers Joost en Burgert van Dyk (1975). Verder kon ek net mooi niks opspoor nie. Ek het selfs 'n navorser betaal om haar sterfkennis in die Nasionale Argiewe te Pretoria te fotografeer. In die sterfkennisse word 'n persoon se ouers, asook hul kinders (dikwels met geboortedatums) gelys. Helaas het Wesselina se seun, Izak Matthys van Dyk (dis nou Oumagrootjie Tina se man) slegs "oorlede" ingevul by die spasies vir die ouers. Gelukkig kon ek daar wél sien waar sy gebore is en ongeveer wanneer sy gebore is en wanneer sy oorlede is (c1874-1941.10.23). (Moet byvoeg dat hy ook ander dokumente van ander familielede gefotografeer het - sommige waaruit ek báie geleer het.)


Aangesien Willemina in die Vrystaat gebore is, het ek toe in die beskikbare Vrystaatse sterfkennisse en boedelinventarise op die webwerf van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika geduik, sonder enige geluk. Daarna sommer deur die beskikbare dokumente van die ander provinsies ook gesnuffel, sonder enige raakskote. (Daar is nog baie meer sulke dokumente wat nie op die webwerf is nie - en waarvoor mense self na die betrokke argief moet reis of 'n navorser moet betaal - maar as jy nie weet watse dokument jy soek nie, m.a.w. die name van één van haar ouers, is dit 'n onbegonne taak.)

Ek gaan loer toe op die uitstekende webwerf British Concentration Camps of the South African War 1900-1902. Hierdie uiters waardevolle bron is die werk van ene Dr. Elizabeth van Heyningen en haar span navorsers aan die Universiteit van Kaapstad. Daar kan mens rekords opsoek van burgers wat tydens die Anglo-Boereoorlog gevangene geneem is en in kampe geplaas is. En dis toe ook waar ek die volgende rekord vind:

Personal Details

Name:
Mrs Wesselina Hendrina van Dyk
Born in camp?
No
Died in camp?
No
Gender:
female
Race:
white
Marital status:
married
Nationality:
Transvaal
Registration as head of family:
Yes
Unique ID:
86249
Camp History

Name:
Age arrival:
28
Date arrival:
03/03/1902
Date departure:
18/04/1902
Destination:
Wentworth, Natal
Tent number:
Farm History

Name:
District:
Status of Husband

Type:
POW
Notes:
Barend Jacobus
Relationships

Mrs Wesselina Hendrina van Dyk

      is the mother of Master Tobias Johannes van Dyk

      is the mother of Master Izaak Matthys van Dyk

      is the unknown of Miss Anna Susanna Elizabeth de Beer

      is the mother of Miss Susarra Maria Catharina van Dyk

      is the mother of Miss Wesselina Hendrina van Dyk

Sources

Title:
Type:
Camp register
Location:
National Archives, Pretoria
Reference No.:
DBC 84
Notes:
p. 63

Hier leer ek toe dat Wesselina saam met haar kinders gevangene geneem is op hul plaas Boschkloof in Middelburg én dat, terselfde tyd, 'n Mejuffrou Anna Susanna Elizabeth de Beer by haar op besoek was, of moontlik vir 'n wyle by hulle gebly het (as mens op die plaas se naam kliek, kan jy sien wie almal daar gevangene geneem is).

Deur Susarra/Sara Maria Catharina verder na te vors en haar as suster van Wesselina aan my stamboom te voeg, het ek gisteraand 'n ooreenkoms tussen my stamboom en dié van 'n Paul Vorster gekry. Sy stamboom bevat die ouers van Wesselina en Sara Maria Catharina, plus al hul broers en susters (verkry uit die ouers se sterfkennisse) - maar sonder die nageslag van Wesselina. Dus weet ek nou dat Wesselina Hendrina Cornelia de Beer die oudste dogter is van Izak Matthys de Beer (1827-1892) en sy tweede vrou, Carolina Wilhelmina Stoltz/Stols (c1830/57-c1888). Gesien dat Wesselina en Barend se eerste seun ook Izak Matthys genoem is, is verdere bevestiging dat dit hier om dieselfde Wesselina gaan. Wesselina se pa het ook vier dogters by sy eerste vrou, Maria Petronella Wessels, gehad.

Buiten haar halfsusters, het sy self ook nog vier susters gehad en twee broers gehad. Haar Pa se voorouers het ek nou al vir élke tak tot by die Stamvader nagetrek. By haar ma sit ek vas. Ek het net haar naam en my eie gissings rakende haar geboortedatum en afsterwe. Verder kan ek net mooi niks opspoor nie. En so duur die speletjie voort...

(En as my man vanaand by die huis kom en wonder hoekom sy klere nie gestryk is nie, dan weet hy nou.)