Van Dijk, Jan Pietersz. (c. 1635-c1700)

Opdatering: Ek het intussen tot die konklusie gekom dat daar géén Jan Pietersz. van Dijk, vader van Joost en Burgert, aan die Kaap was nie. Soos ek hier onder meld, is alle verwysings na hom in sekondêre bronne en kom hy glad nie voor in enige van die oorspronklike dokumente wat ek kon vind nie. Gesien dat byna elke feit m.b.t. Joost en Burgert se aanvanklike lewe aan die Kaap foutief verhaal word in die Geslagsregister (datum van hul koms, ouderdom, werk, ens.), glo ek dat die skrywer ook in hierdie geval verward geraak het tussen die verskeie dog eenders-klinkende name. 

Ek laat egter die inligting hier onder só, dit kan dien as voorbeeld van hoe maklik 'n persoon uit die niet geskep kan word en waarskuwing dat, in stamboomnavorsing, die enigste betroubare bron die oorspronklike een is.

Jan Pietersz. van Dijk (later van Dyk) was die vader van die twee van Dyk-stamvaders van Suid-Afrika: Joost en Burgert.
My hoofbron vir hierdie persoon is die Geslagsregister van die boers Joost en Burgert van Dyk (1975), maar dit het mettertyd duidelik geword dat hierdie bron glad nie so betroubaar is as wat hy hom voorgee nie.

Maar eers 'n vinnige ietsie anders: die "Pietersz" of "Pieterszoon" (soms verbaster na "Pieterse") is nie deel van Jan se naam óf van nie, maar 'n patroniem, oftewel vadersnaam, wat dui op die naam van Jan se vader, wat dus Pieter (of Peter, of selfs Petrus) was.
Die ligging van Izenberge in Belgium.

Om Jan se storie af te skop, haal ek uit die Geslagsregister aan:

In 1691 het Jan Pietersz. van Dyk met sy twee jong seuns, Joost en Burgert en 'n dogtertjie, Anna, uit Ysenberg (Izenberge) in Vlaandere hier aangekom.

Die geslagsregister maak geen melding van 'n moeder nie en net soos J.H. van Dyk, die samesteller van die geslagsregister, neem ek aan dat Jan as wewenaar met sy kinders hierheen verhuis het. 


Hoe het die Geslagsregister op die 1691-datum besluit? Daar word melding gemaak van "amptelike opgawes", maar geen beskrywing van welke opgawes presies nie. Die enigste amptelike opgawes wat ek kon vind is die "monsterrolle": jaarlikse opgestelde lyste van al die inwoners aan die Kaap. Hierdie lyste is teruggestuur na die VOC-outoriteite in Den Haag, waar hulle tot vandag nog is. Ongelukkig bestaan daar geen rolle vóór 1692 nie (en ek is nie seker of hulle ooit bestaan het nie). Die plan is om eendag (op 'n reëndag) die tog aan te pak Den Haag toe en daar in die Nationaal Archief die rolle in te sien. Dit sal egter 'n reusagtige onderneming wees, daar dit duisende en duisende bladsye sal wees. Maar dis op my "te doen"-lys.

Wel is daar 'n engel met die naam Richard Ball, werksaam by eggsa.org - die elektroniese of virtuele tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika. Hy het met groot moeite 'n groot deel van hierdie rolle se teks oorgetik en op die internet beskikbaar gesit. Let wel dat hy nie die oorspronklike rolle ingesien het nie, maar kopieë wat deur die hand gemaak is deur die geskiedkundige G.M. Theal aan die einde van die 1800's.

Aan die hand van Ball se werk, het ek die volgende Van Dyk's opgespoor:

1690: p84 Jan van Dijck; Pieter Pieters - compagnons
1691: Jan Jacobsz van Dijk (Stellenbosch);
 1695: p145 Jan Jacobsz van Dijk en Anna Jansz. 1 kind, (Stellenbosch)
1695: p153 Clas Cornelisz van Dijk, ('t Caabse District)
(1701-)1702: p17 Joost Pietersz van Dijk, ('t Caabse district)
1702 p1 Annetje Jansz, wede van Jan Jacobsz van Dijk, (Stellenbosch)
1712 p266 Burgert Pietersz van Dijk; Joost Pietersz van Dijk, (de Caab)
1713 p286 Joost Pieterse van Dijk; Burgert Pierss van Dijk (waarskynlik steeds die Kaap, maar moontlik ook Stellenbosch - die rolle het hierdie jaar nie die onderskeid gemaak nie)

Aldus die Geslagsregister was Jan Pietersz. en sy gesin tot en met 1710 die enigste Van Dyk-familie in Suid-Afrika, maar dit is dus duidelik foutief, tensy Jan Jacobsz. en Jan Pietersz. dieselfde persoon is? Ek dink self dit is onwaarskynlik, maar het dit nog nie uitgesluit nie. Clas Cornelisz. is duidelik nie dieselfde persoon nie, maar hy is wel verdere bewys dat dit Geslagsregister slegs 'n gids kan wees en die inligting nie as onbetwisbare feite aanvaar kan word.


Geen melding word egter van die familie gemaak in die "soldijboeken" van die V.O.C. nie. Hierdie boeke bevat al die passasierslyste van die togte van Suid-Afrika. Sowat 5% van die boeke het verlore gegaan, dus is dit vermoedelik dat die van Dyk's in een van hierdie verdwene boeke moet verskyn.

Pogings om die familie in die doop- of huwelikaktes van Izenberge op te spoor is nog gaande.

Welke datum Jan van Dijk dan ook in Suid-Afrika aangekom het, hy is in 1691 grond toegeken in die buurt van Stellenbosch, wat toe nog maar pas aangelê was. (Sien kaart hier onder.) Die plase was groot genoeg vir landbou-doeleindes, maar te klein vir vee. Die boere het egter al die naburige land, wat aan niemand gegee is nie, as gemeenskaplike weivelde gebruik. Die huise van die verskillende boere was relatief naby aan mekaar, wat 'n gevoel van isolasie teëgewerk het.

Die Kaapkolonie in 1688
Die koloniste het dikwels in kontak gekom met die Khoi (destyds genoem die Hottentotte, 'n naam wat die klanke van hul taal gena-aap het). Die inboorlinge sou ligte werk op die plaas doen, soos velde oes, in ruil vir tabak en alkohol. Die jonger Khoi-meisies het werk aangeneem as bediendes, wat daartoe bygedra het dat die Nederlandse taal verder versprei het.

Jan word in G.M. Theal se History of South Africa under the VOC (vol. 1) genoem as 'n noemenswaardige inwoner van Stellenbosch, maar hierdie inskrywing, waarvan die inligting uit die 1691 sensus geneem is, maak melding van Jan van Dyk (sonder patroniem), mét vrou en twee kinders.

Dit lei tot 'n aantal waarskynlike moontlikhede:
1. Die eerste bron, Geslagsregister van die broers van Dyk, se aankomsdatum van 1691 is foutief en die gesin het al vroeër na Suid-Afrika verhuis. Ten tye van die sensus is Jan al hertrou en is die oudste broer dan al volwasse en word dus nie as één van die paartjie se kinders getel nie.
2. Jan het wél in 1691 sonder (of dalk met ) vrou hier aangekom, is byna onmiddelik getroud en klein Anna is oorlede.  Hierdie is nie só onwaarskynlik as wat dit op eerste oogopslag lyk nie.
3. Dit is 'n heeltemal ander Van Dyk (byvoorbeeld Jan Jacobsz.)

Dit is tot op hede die enigste inligting wat ek oor Jan van Dyk kon vind.

Hoe dit ook al sy, Jan het aan Stellenbosch geboer en sy twee seuns, Joost en Burgert, sou hulle ook uiteindelik op die boerdery toelê - en dit is hierdie twee wat as die werklik stamvaders van die Van Dyk's in Suid-Afrika beskou word.

Bronne:

  • Geslagsregister van die broers Joost en Burgert van Dyk, deur J.H. van Dyk, M.A., M.Ed. Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Pretoria, 1975
  •  Geslagsregisters van ou Kaapse families, deurC.C. de Villiers en C. Pama.
  • Geschiedenis van Zuid-Afrika, deur George McCall Theal, LL.D. Kaapstad, Port Elizabeth en Johannesburg 1897
  • History of South Africa under the VOC 1652 to 1795, deur George McCall Theal. London 1897

No comments:

Post a Comment