Saturday 17 October 2015

Vorderings

Die afgelope weke het daar baie gebeur met my navorsing: ten eerste het ek aangesluit by die SAGenealogie-poslys. Dis moeilik om jou 'n vriendeliker en meer behulpsame groep mense voor te stel. Na jare van alleen werk, is dit heerlik om inligting en idees te kan uitruil met ander mense.

Ek het uiteindelik die rekords van Izenberge, Wes-Vlaandere (1631-1681) klaar deurgewerk. My bevindings bespreek ek breedvoerig in hierdie plasing, asook watter moontlike plekke van herkoms ek in die toekoms aandag aan gaan gee.

Ek het geleer dat Joost en Burgert alleen na die Kaap gereis het, 5 jaar vroëer (en beide sowat 10 jaar ouer) as wat oorspronklik aangeneem is (Joost se bladsy moet nog opgedateer word om hierdie bevindings te weerspieël). Dat hul vader nie Jan Pietersz. geheet het nie en nie saam met hulle gereis het nie en dat die meisie wat deur die Geslagsregister as hul suster gesien is, eintlik Burgert se buite-egtelike dogter was.

Alhoewel ek nog besig is om die een of ander oor Joost Pietersz. uit te vind voor ek sy bladsy opdateer, begin ek ook nou kyk na sy seun, Sybrand (die seun van hom waarvan ons afstam). Ons het naamlik twee takke wat na Joost van Dijk (en Sybrand) lei, nie net deur Oupa Hennie se pa, Izak van Dyk, nie, maar ook een deur Oumagrootjie Tina. Izak van Dyk (en dus ook ons Van Dykies) was deur een van sy oumagrootjies óók 'n direkte afstammeling van Burgert van Dijk.

Ek sal ook graag meer wil leer oor die Van Vuuren-kant, maar, alhoewel die inligting oor die stamvader geredelik beskikbaar is,weet ek nog nie van watse een van sy kinders ons afstam nie (ek het nog nie die tak tot by hom kon trek nie). Vir al wat ek weet, leer ek dat sy aanvaarde geskiedenis net so vol foute as dié van Joost en Burgert is. Maar ek haak baie vas met die Van Vuurens...

Die Skotse McDonalds en Engelse Robinsons wat eers later hul verskyning gemaak het, wil ek ook nog in meer detail bestudeer, asook sommige van ons meer eksotiese, noemenswaardige of blootweg interessante voorouers.



No comments:

Post a Comment