Wednesday 12 October 2016

Nuwe lewe ingeblaas


Die Engelse het 'n gesegde "it never rains, but it pours" (ook soms "when it rains, it pours"), dikwels gebruik as klomp slegte dinge tegelykertyd gebeur. Siende dat ek uit die droë bosveld kom, het ek dit nooit soseer as 'n negatiewe uitdrukking gesien nie en gebruik dit dikwels as baie goeie dinge tegelykertyd gebeur. Soos die afgelope twee weke in die genealogiese sfeer:

  • Uiteindelik, na nege maande se wag, het die digitale weergawe van die Huis te Zilverstein se skeepsoldyboek beskikbaar geword op die Nationaal Archief se webwerf.  Daar het ek die inskrywings vir beide Joost en Burgert kon kry. 'n Kopie, transkripsie en verduideliking sal nog volg.
  • Die "bewys" dat Mari Eali en (Anna) Maria Pieterse van Dyk een en dieselfde persoon is, het berus op 'n dokument uit 1719, wat ek uiteindelik met die hulp van Johan van Breda opgespoor het in die Kaapse argiewe. Haar blad sal nog hiermee opgedateer word.
  • Uit die bloute het ek J.H. van Wyk sr (my pa se oupa aan moederskant) se sterfkennis ontdek (en met 'n bietjie speurwerk en hulp van my pa, kon bevestig), wat weer baie leidrade gegee het vorentoe. Kliek hier vir sy persoonsblad.

Wat my by 'n ander punt uitbring. Ons het besluit om van MyHeritage weg te beweeg na Rootsmagic. Rootsmagic is 'n sagtewareprogram wat jou ook die kans gee om 'n aanlyn-stamboom te hê. Anders as MyHeritage, is dit nie moontlik om die stamboom aanlyn te wysig nie, dus sal enige wysigings of korreksies aan my deurgestuur moet word en ek dit dan hier wysig. (Ek dateer die aanlyn-stamboom so een keer 'n week op.)

Rootsmagic bied 'n paar dinge wat ek voel MyHeritage mis.
  • Die program is baie goedkoper: eenmalig $30 dollar, teen MyHeritage se jaarlikse fooi van €197,30.
  • Dit is baie makliker om bronne vir elke feit by te voeg - iets waaraan ek baie meer aandag wil gee in die toekoms. As daar nie 'n bron bystaan nie - selfs in my stamboom, moenie inligting goedsmoeds oorneem nie. (Behalwe vir onlangse generasies. Ek het miskien nie hul geboortesertifikate nie, maar ek weet wat my gesin se name en geboortedatums is. So ook vir die inligting wat ek van ander familielede ontvang het. In die toekoms sal ek "mondelinge oorlewering" as bron byvoeg vir sulke inligting.)
  • Die program bied uitstekende hulpfunksies soos 'n "problem search" (wat kyk dat gegewe datums strook - is jou ouma miskien getroud toe sy drie jaar oud was? Verbasend hoeveel tikfoute mens maak), en 'n "duplicate search" en "person merge", wat persone wat dubbeld ingevoer is saamsmelt (weereens, die takke in 'n SA-stamboom kruis só baie, dat dit baie voorkom).

Rootsmagic se webwerf lyk wel nie so mooi soos dié van MyHeritage nie: meeste sagteware bied 'n "pedigree"-aansig aan, wat 'n betrokke persoon met sy voorouers wys, of "family"-aansig, wat die gesin wys, of 'n "descendants"-aansig, wat (ja, jy't reg geraai) die nageslag wys. MyHeritage is, sover ek kon sien, uniek om alles-in-een te vertoon. Maar uiteindelik is dit nie die letterlik honderde euros per jaar werd nie.

Hier onder is 'n vergelyking van die stamboom-aansigte:

Rootsmagic se sagteware-aansig

Rootsmagic se webwerf-aansig


MyHeritage se webwerf-aansig
Sowat 90% van die rekords wat ons tot dusver deur MyHeritage ontdek het, is ook toeganklik daarsonder - mens sal net self moet soek. MyHeritage soek nou wel vir ál jou familielede, terwyl mens self miskien net op 'n paar persone fokus, maar weereens, nou nie juis die einde van die wêreld nie.

Met die eks- en importeer van die Gedcom (die stamboom-datalêer), het daar 'n paar goedjies verlore gegaan. Meestal foto's, wat mens handmatig moet oordra. Ek is nog besig om dit te doen.

Ons sal nog wel ons MyHeritage-lidmaatskap behou tot Julie volgende jaar (ons het vergeet om dit te kanselleer voordat dit outomaties hernu is hierdie jaar).

Hier is die skakel na ons nuwe stamboom by Rootsmagic:  http://sites.rootsmagic.com/hoogendoorn-vandyk/index.php

No comments:

Post a Comment