Een van die
handjievol lesers van hierdie blog, André van Dyk, het my daarop gewys dat
Isenbruch en Dieck, geleë in die Duitse streek Selfkant, ook 'n moontlike
herkoms vir die broers Joost en Burgert van Dyk kon wees.
André het my reeds
vroeër daarop gewys dat Joost se boedelinventaris verwys na 'n "Hoogduyts
Gebede boekje" en dat hy 'n Duitse herkoms vermoed. Met die wete dat daar
Duitse vanne soos Dieck en Dieckmann is, het hy gaan rondkrap op die Duitse Wikipedia
en afgekom op die gehuggie Dieck, geleë sowat ses kilometer wes-suidwes van 'n
dorpie met die naam Isenbruch. Om te recap:
Joost en Burgert is in die skeepsoldyboek opgeteken as Joost Pietersz en
Burgert Peters, beide van Isberg. Soos met baie ander V.O.C.-werknemers, is
daar 'n moontlikheid dat hulle name, van en plek van herkoms verNederlands is.
Met ander woorde, hulle sê een ding, en die Nederlandse V.O.C.-amptenaar skryf
op wat hy hoor. Dit word duidelik as mens kyk na al die ander dokumente waarin
die broers se name en plek van herkoms genoteer staan: Pietersz, Peters en
Petersen; Isberg, Ysenberg, IJsberg, Eijsenbergh. Arme Burgert se naam is op
elke moontlike manier verdraai, van Burgert, tot Borgert to Borchard (en
variante daarvan, soos Burchert). Ongeveer 1699-1700 het die broers die van Van
Dyk aangeneem. Ek vermoed sterk dit was om hulself (en hul kinders) as familie
te identifiseer tussen al die hordes Pieters/Peters-persone aan die Kaap. André
se vermoede is dus dat "Isberg" verwys na Isenbruch en "van
Dyk" kan verwys na Dieck.
Mens kan ook 'n
beter idee kry van hoe mense hulle name uitgespreek het deur hulle
handtekeninge na te gaan. Interessant genoeg het die broers nooit hulle name as
"van Dyk" geteken nie, maar altyd met hulle patroniem. Burgert het
nie baie kon skryf nie: aanvanklik het hy dokumente met 'n kruis geteken, later
met 'n BP (aanvanklik uiters bewerig, later met meer selfvertroue). Joost het
as Jost of Just
Peters geteken (ook nou nie die mooiste handskrif nie), en op testament
as Jost (of Just) Peters van Isenb..g (laaste
letters nie afsonderlik te identifiseer nie).
Net
om seker te maak dat Burgert nooit sy volle naam leer skryf het nie, het ek
weer gaan kyk na al die beskikbare dokumente, en per ongeluk Joost se seun
Burgert se testament oopgemaak. Groot was my verbasing om te sien dat hierdie
seun sy naam as Burger van Dieck geskryf het (was ook redelik verbaas dat hy
hoegenaamd kon skryf).
Burgert was Joost se
eerste seun en dit is dus waarskynlik dat hy van sy ouers leer praat het
(anders as Joost se jongste kinders, wat hom nouliks geken het). Dit beteken
dat daar 'n goeie kans is dat Joost (en moontlik ook Burgert) hul van as van Dieck uitgespreek het, wat die kans vir
Dieck versterk.
So, ons het 'n
ooreenkoms vir Peters/Pietersz, vir Dyk/Dieck en vir Isenberg/Isenbruch. Maar
wat van hulle voorname? Het hulle in die streek voorgekom in die tyd?
Ongelukkig is dit nie so maklik om agter te kom nie, aangesien die kerkrekords
uit die tydperk nie meer bestaan nie (of nog êrens, onontdek, in 'n stowwerige
argief lê). As ons egter ingedagte hou dat Isenbruch teen die grens van Limburg
(die suidelikste provinsie van Nederland) lê, kan ons gaan kyk tussen die
beskikbare rekords van daardie provinsie (wat wél vir die tyd beskikbaar is).
As mens daar soek (www.allelimburgers.nl),
is dit duidelik dat beide name wel deeglik in die gebied voorkom.
Omdat die DTB-boeke
(doop-, trou- en begrafnisboeke) van die kerke waartoe Dieck en Isenbruch
behoort vir die betrokke tydperk ontbreek, sal enige moontlike papierspoor wat
na hulle verwys gesoek moet word in Duisburg. Dit is waar die argiewe van
Selfkant gehuisves word. Die argiewe is helaas nie aanlyn beskikbaar nie -
selfs die indeks van die argief is nog nie volledig aanlyn beskikbaar nie. Dit
is dus 'n missie vir 'n ander jaar (Duisberg is ver en dit sal 'n paar dae neem
om die argiewe deur te gaan), maar in die tussentyd het ek dit goedgedink om 'n
besoek aan Selfkant te bring en 'n gevoel te kry vir die plek.
Selfkant is die
mees-westelike deel van Duitsland, teen-aan die grens van die suidelike deel
van Nederland:
Die
grens, in donkergrys loop Noord tussen Echterbosch en Waldfeucht en suid onder
Gangelt.
Isenbruch is
links, teen die grens met Nederland. Dieck is regs, ongeveer waar die
"Hongener und Saeffeler Bruch" is. Isenbruch is 'n klein dorpie, met
ongeveer 308 inwoners. Dieck is nog kleiner, 'n gehuggie met met sowat 10
inwoners: slegs 'n paar plase en 'n koffiewinkel (Café Diecker Fahrradtreff op
die kaart).
Isenbroick
(Isenbruch, bo Susteren) op 'n kaart in 1747. Dieck is geleë in die
"Zafel Bosch", tussen die E en J.
(Carte particuliere des environs de Maeseyck Stochem et Hinsberg, gedruk deur Covens & Mortier.)
(Carte particuliere des environs de Maeseyck Stochem et Hinsberg, gedruk deur Covens & Mortier.)
Die onlangse
geskiedenis van Selfkant, alhoewel nie van genealogiese belang nie, is tog
interessant. Selfkant en Maasland (die Nederlandse gebied net oor die grens) is
deur die eeue al verbind of verenig gewees, hetsy polities of kerklik. Hulle
was byvoorbeeld beide deel van die Hertogdom Jülich, waarvan bostaande kaart
geteken is. Met die Kongres van Wenen in 1815 en die ontstaan van die Duitse
Statebond, is 'n grens getrek wat die streek geskei het. Van toe af was
Selfkant deel van die Duitse Statebond, en die dorpe wes van die grens, deel
van die Hertogdom van Limburg.
Ná die Tweede
Wêreldoorlog het Duitsland die gebied aan Nederland geskenk, as kompensasie vir
die verliese wat Nederland tydens die oorlog gely het. Vir die inwoners van
Selfkant was dit om't ewe: beide Maasland en Selfkant besig sowieso dieselfde
dialek en het 'n gedeelde kultuur. Des te meer, noudat hulle deel van Nederland
was, het die inwoners skielik toegang gehad tot koffie en tabak, iets wat
relatief skaars was in na-oorlogse Duitsland. Die huise en strate is as deel
van Nederland beter herbou en in stand gehou. Op 1 Augustus 1963 word die
gebied egter weer deur Duitsland teruggekoop. Handelaars het trokke en huise
vol koffie, sigarette en ander smokkelware volgestop en gewag vir die klok om
middernag te slaan. 23:57, 23:58, 23:59 en siedaar! Tonne produkte vir die
Duitse mark is die land inge"smokkel" - die handelaars het geen
belasting daarvoor hoef te betaal nie. Die inwoners het redelik bedrieg gevoel
en besluit om 'n esel as eerste voetganger oor die grens te stuur.
En is dat nou ons kleine Zelfkantje?! Spotprent
uit 'n Nederlandse koerant van 1949.
Die
eerste grensoorgang in 1963, na Selfkant weer aan Duitsland behoort het.
In Selfkant het ons
gebly in die Gasthof Peters, 'n herberg wat al sedert 1650 bestaan het en al 'n
paar eeu diens doen as herberg. Die gebou het eers aan ander families behoort,
waaronder die Familie Welschen in 1650 en daarna die Familie Reynders. Vóór
1824 was die herberg se naam Dyks - in hierdie jaar het Leonard Peters met die
eienaresse, Maria Dyks (!), getrou, en het die herberg die eerste keer die naam
Peters gekry. (Deur hierdie paartjie se stamboom te ondersoek, kan mens
moontlik 'n gemeenskaplike voorouer van die Van Dyk-broers kry.)
Ek het oorspronklik
gehoop om op die Sondag by die twee kerke in te sluip ('n kapel in Isenbruch en
'n kerk in Saeffelen, waartoe Dieck behoort). Ek het iets soortgelyks gedoen
tydens ons besoek aan Texel 'n paar jaar terug. Jammer genoeg moes ek toe leer
dat die hele Selfkant - 'n uiters streng godsdienstige streek - elke dag kerk
het, maar elke dag in 'n ander dorpie. Die kerke wat ek wou besoek, se beurte
was in die week, en nie in die drie-dae tydperk wat ons die plek besoek het
nie.
Elke oggend om
ses-uur is ons wakker gelui deur die streek se kerkklokke, wat die inwoners
herinner dat dit tyd is om hul dag te begin met gebed. Die klokke is ook
ses-uur die aand weer gelui. By die deure is in kryt, of mb.v. van plakkers,
die jaartal, plus die letters C+M+B geskryf, 'n tradisie waarmee die huis vir
die jaar geseën word. My dogter het die eerste ete by die Gasthof deurgebring
deur al die gekruisigde Jesus-beeldjies teen die muur te tel (nege, as ek reg
onthou).
Hierdie
streng-gelowigheid is ook te sien by die begrafplase. Die grafte is almal,
sonder enige uitsondering, uiters netjies en versorgd. Ons het drie begrafplase
besoek om te sien of die name Peters/Pieters of Van Dyk nog daar voorkom.
Peters is 'n baie algemene naam in die omgewing van Dieck, maar daar was nie
een Peters-graf naby Isenbruch nie.
'n Peters-graf in
Höngen, aangrensend met Dieck.
Die blou riviertjie
op die kaart, wat 'n dyk genoodsaak het (waarna die naam Dieck verwys), is die
Saffelbeek, of Saeffelerbach in Duits. Hierdie stroompie stel vandag nie baie
voor nie, of hy in die verlede bruisender was, weet ek nie. Dit is wel so dat
ons op die oomblik een van die droogste jare in die geskiedenis beleef, dus is
die rivier waarskynlik gewoonlik hoër. Mens kan egter aan die bank sien dat hy
selfs as hy vol is, nie baie breed is nie:
Die volgende stap is
om die argiewe in Duisburg te besoek (moontlik dat die argiewe in Sittard ook
van hulp kan wees). Aangesien kerkrekords van die tyd nie meer beskikbaar is
nie, kan mens kyk na boedelaktes, eiendomsaktes of enige ander burokratiese dokumente
van die tydperk wat vandag nog bestaan. Dit kan ook loon om te soek vir
genealoë in die streek op Duitse genealogie-forums, wat Dyks/Dieck en Peters
navors.
Enige vordering sal
gemeld word.