Wednesday 6 April 2016

Van Dyk Y-DNS-resultaat

Tydens die Kersvakansie het ons diep in ons beursies gegrou, al die kleingeld onder die bank se kussings gehaal en die spaarvarkie stukkend geslaan om 'n DNS-toets deur familytreedna.com te laat doen. Met behulp van 'n DNS-monster, is my pa se Y-DNS deur hulle getoets (siende dat ek vroulik is, het ek nie 'n Y-chromosoom nie...). Hul bevindings is in Maart aan my gestuur, maar dit het 'n rukkie gevat voordat ek mooi verstaan het wat alles beteken.

My pa, en dus waarskynlik Joost, se haplogroep is I-M223 (ook bekend as I2a2a). Wat beteken dit? As ek dit reg verstaan, beteken dit dat Joost en Burgert (of hul voorvader) uit een van die volgende gebiede kom:

Nou nie dat ek 'n lengte- en breedtegraadligging verwag het nie, maar om met só 'n wye gebied gekonfronteer te word, maak mens ook maar moedeloos. Mens kan wel verder laat toets (en hier is waar my brein begin breek) vir SNP's - 'n Singe Nucleotide Polymorphism, wat 'n verandering van mens se DNS-kode by 'n spesifieke punt is. So kan mens jou klade meer spesifiek vasstel. Daar is vier subklades wat onder I-M223 val:

  • I2a2a1 (M284+) word byna geheel en al in Britanje gevind, waar dit blykbaar 3000 jaar terug ontwikkel het.
  • I2a2a2 (L701+) is wyd verspreid. Dit word in die hele Middel Europa gevind, van Duitsland en die voormalige Oostenrykse Keiseryk, tot Pole, Romenië en Oekraïne. Maar ook, in minder mate, in Griekeland, Italië, Frankryk, Spanje, Engeland, Ierland en Armenië (waar dit moontlik deur die Gote versprei is). Hierdie klade is afwesig in Skandinawië en Skotland.
  • I2a2a3 (Z161+) is die grootste van die vier subklades en word hoofsaaklik in Germaanse lande gevind, veral in Denemarke, Duitsland, Nederland, Engeland en die noordwestelike deel van Sisilië (waar 'n Noorse vestiging was). Dit word ook in minder mate gevind in die res van Europa, van Portugal tot Rusland.
  • I2a2a4 (L1229+) is tipies van Engeland, Normandië (en ander dele van Frankryk) asook Midde- en Noord-Duistland. Die hoë aantal gevalle in Duitsland en Engeland (en afwesigheid in Denemarke en Sisilië), dui op 'n Angel-Saksiese lyn, eerder as 'n Noorse/Viking-lyn.
Op die webwerf van FamilyTreeDNA is daar slegs 1 persoon wie se DNS-kode sterk ooreenkom met my pa s'n. (Dít, terwyl ander persone 100e ooreenkomstige treffers het.) Dit is dus 'n redelike skaars haplotipe (verskeie haplotipes behoort tot 'n haplogroep). Ons enigste treffer is ene Fredric Ollerstam uit Swede.  Mnr. Ollerstam se stamboom op die webwerf is "privaat" gestel (alhoewel sy moederlyne wel besigtig kan word - almal Sweeds) en alhoewel ek hom benader het om vaderlyne te vergelyk, het hy jammer genoeg nie na my toe teruggekom nie. Hoe naby is ons familie? Wel, aldus die webwerf, is daar 'n 22.84% kans dat Fredric Ollerstam en my pa 12 generasies terug 'n gemeenskaplike voorouer gehad het. 12 generasies terug is Joost en Burgert se oupa - dus is daar 'n 22.84% kans dat húl oupa ook die voorvader was van Mnr. Ollerstam. Hoe verder mens terug gaan, hoe beter raak die kanse, met 'n 10-15% verhoging vir elke twee generasies. Teen 24 generasies terug, is daar 'n 90% kans dat ons dieselfde voorvader gehad het. Maar 24 generasies terug was ons in die 1300's, so dit is ook moontlik dat ons gemeenskaplike (moontlik Sweedse) voorvader êrens tussen 1300 en 1600 na Duitsland/Nederland/Frankryk gegaan het en dat Joost en Burgert tóg van Middel- of Wes-Europa kom.

Maar dan wonder ek weer oor die van "Isberg/Isenberg/IJsenberg".  Soos ek al voorheen genoem het, kom die familienaam "Isberg/Isenberg" in Swede voor, asook die voorname Just/Jest en Berger/Borger/Birger. (As ek na Joost se handtekening kyk, wonder ek of die mense aan die Kaap nie maar net "Joost"gehoor het nie. Burgert se naam kom in alle variasies voor, van Borchard tot Borger tot Burgert.)

Joost se handtekening uit 'n V.O.C.-kontrak uit die 1690's.

Joost se handtekening in sy 1718 testament.

Miskien sit ek die bal mis en kom die twee uit Nederland, Frankryk, België of Duitsland. Maar op die oomblik is my plan van aanpak as volg:

1) Om myself te verdiep in Sweedse genealogie/geskiedenis en hopelik vas te stel of dit 'n realistiese plek van oorsprong kon wees.
2) Ek is ook van plan om 'n SNP-pakket te bestel, om die subklades van my pa se DNS verder vas te stel (wat 'n Skandinawiese oorsprong kan uitsluit).
3) Verder wil ek ook drie ander manlike Van Dyks vind wat bereid is om hul DNS te laat toets, om uit te sluit dat een van die voorvaders op die stamboom die melkman se kind was. Die beste sal wees om afstammelinge van die volgende persone te vind:
  • Nog één van Joost se seuns: verkieslik Burgert of Hendrik - wie se ma Catharina Verburgh was. Of dan Andries of Joost (junior). Ons stem self van Sybrand af.
  • Twee van Burgert se seuns: een afstammeling elk van Adam en Tobias.
Om hierdie DNS-toetse te help betaal het ek weer begin werk, maar dit het ongelukkig meegebring dat ek glad nie meer tyd het vir genealogiese navorsing nie. Asof die wiele nie reeds stadig genoeg gedraai het nie...

Op FamilyTreeDNA.com is ook die Cape Dutch DNA Stamouer Project. Al die DNS van die Suid-Afrikaanse stamouers, kan daar besigtig word.