Saturday 25 November 2017

Hersien: Helena Siewertsz. (1690-1727)

Ek het gister die biografie van Helena Siewertsz. opdateer. Dit is ook beskikbaar by die Van Dyk-register: http://vandykregister.com/histories/helenasiewertsz.php

Bietjie meer inligting bygvoeg oor haar tweede man, Anthonij Wagenaer, asook sommige spekulasie regverdig of verwyder.

Maar verreweg die interessantste toevoeging kom uit 'n reeks boeke wat ek onlangs aangeskaf het: die Requesten (Memorials) 1715-1806 deur H.C.V. Leibbrandt; 'n opsomming van gevalle wat deur die Raad aan die Kaap verhoor is.

Die eerste twee volumes is al lank op die Internet beskikbaar, gesien dat hulle in 1905 geskep is en dus lankal nie meer onder kopiereg beskikbaar word nie. Leibbrandt is egter in 1911 oorlede voordat die res van die reeks gepubliseer is. Sy manuskrip vir volume 3 was grotendeels klaar, maar vir volume 4 was daar slegs 'n paar bladsye beskikbaar. Werknemers van die argief het die werk reeds in 1920 voltooi en in die tagtigerjare het Me. Fransie Rossouw volume 5 geskep - 'n 453-bladsy lange indeks wat die eerste vier volumes dek.

Meeste van die Van Dyks kom in volume 4 voor, gesien dat dit alfabeties gerangskik is. Waaronder ook die volgende, gesorteer onder 1716:


 Ek het al jare gewonder na watse "hindernisse" Joost in sy testament verwys het, as rede waarom hy nooit met Helena kon trou nie. Nooit gedroom dit sou só iets wees nie. Met 'n bietjie geluk het Johan van Breda vir my die oorspronklik kon opspoor in die Kaapse argiewe, wat ek ook by haar biografie gevoeg het (skakel bo, of in die kieslys regs).

Die toevoeging van verwysings in HTML bly 'n nagmerrie en baie tydrowend.


Tuesday 14 November 2017

Herkoms van die Broers van Dyk 2

Ek het al baie gespekuleer oor die herkoms van die broers Joost en Burgert van Dyk (sien hier), maar onlangs het André van Dyk die volgende uitgewys:

"Geleë in die munisipaliteit Selfkant, in die verre weste van Duitsland teen die Nederlandse grens is die twee klein dorpies genaamd ‘Isenbruch’ en ‘Dieck’. Kon hulle moontlik tussen die twee plekke groot geword het of op albei? En dit dalk was hoekom hulle soms ‘Van Ysenberg’ en soms ‘Van Dyk’ is. Uit ‘n Nederlandse oor is dit eenvoudig om te sien hoe van Isenbruch ‘van Ysenberg’ [geword het, of] ‘Dieck’ ‘ dyk’ word."

Die ligging (ongeveer) van Isenbruch (links) en Dieck (regs) in Duitsland, aan die grens met Nederland.

Ek het byna van my stoel afgeval. Nog nooit hierdie gehuggies teëgekom in my eie soektogte nie. Aanvanklik was ek skepties (soos ek maar oor alles is), maar dit wil lyk asof "Joost" en "Burchart" (en variante) baie algemene name was in hierdie gebied in die betrokke tydperk. My hoofrede om Wes-Vlaandere destyds as plek van herkoms af te skryf, was nie slegs omdat geen van die seuns in die doopboek van Izenberge voorkom nie, maar ook omdat hul voorname slegs met enkele uitsonderings (Joost) of selfs glad nie (Burgert) daar voorgekom het nie.

"Dieck" is dan ook 'n ou Duitse woord vir "dyk". Die dorpe was deel van die gemeente St. Lucia. Ongelukkig begin die kerkboeke vir die gemeente eers in 1696 (die kerk is reeds in 1510 gebou) - en is ook nie aanlyn beskikbaar nie.

Isenbruch behoort tot die gemeente van St. Gertrud Havert. Die kerkboeke van hierdie gemeente begin nog later - eers in 1734, alhoewel die kerk (of oorspronklike kapel) reeds uit die 16de eeu stam.

Hoe nou gemaak? Wel, sover ek kan sien, is daar geen maklike opsies nie (alle voorstelle welkom). Mens kan die Dieck-boeke deurgaan om te kyk of daar 'n familie is waarin die seuns sou pas (as Joost en Burgert familiename was, sou hulle steeds in die agtergeblewe familie voortgebruik geword wees). Dit is wel 'n monumentale taak, maar nie 'n onmoontlike een nie: as mens sowat dertig tot vyftig jaar van 'n doop (en, as ons gelukkig is, trou- en sterfboek) transkribeer, kry mens 'n baie goeie beeld van die verskillende families van 'n plek.

Isenbruch s'n begin te laat om van nut te wees, dink ek.

Mens kan ook kyk vir ander dorpies wat tot dieselfde gemeente behoort. Daar is 'n skraal kans dat hulle doopboeke wél vroeër begin en dat die seuns in een van hierdie dorpies gedoop is en later na Dieck/Isenbruch getrek het.

Mens kan ook soek vir ander bronne - letterlik enige boeke geskryf in die tydperk oor die plekke, waaruit name van destydse inwoners geneem kan word. Weereens, iets wat net so links van "onbegonne taak" lê. Maar ek sal nog daarby uitkom (tensy 'n ander vrywilliger sy hand opsteek).

Ek is nog nie gereed om Skandinawië as plek van herkoms af te skryf nie, veral gesien die DNS-ooreenkoms met 'n Skandinawiër. Maar Middel-Noord-Europa (waar Dieck/Isenbruch) geleë is, is dan ook nie só ver dat dit onmoontlik is nie - die gemeenskaplike voorvader se familie het 300 jaar tyd gehad om te migreer.

Enige iemand wat my wil borg sodat ek voltyds aandag hieraan kan bestee?





Wednesday 25 October 2017

Nuwe Van Dyk-webwerf: vandykregister.com

Saam met Wilhelm van Dyk en Kobus van Dyk het ek vandykregister.com opgerig. Hulle bemoei hulle met al die Van Dyks, ek bemoei my met die eerste geslagte en my eie "Middelburg"-tak. Die doel is om alles m.b.t. die Van Dyks in een boom, op een plek - met bronne! - te hê. My navorsing sal ek nog steeds hier plaas, maar daar word dit ook outomaties opgelaai en opdateer.

Ek begin dink om so 'n webwerf vir my en my man se familie ook te skep - dit sal dan nie net Van Dyks wees nie (dog slegs die van my tak), maar ook Jansen van Vuurens, van Wyks, Hoogendoorns, Nelle, Schutte en Staudte ... te veel om op te noem. Dit sal 'n bietjie meer struktuur bied as slegs 'n "blog" en enige navorsing kan daar geplaas word en aan die betrokke persone gekoppel word.

Ek het baie lank gesoek na die regte publikasie-sagteware en uiteindelik op TNG: The Next Generation of Genealogy Sitebuilding besluit. Ek is baie bly met die resultaat.