Sunday 14 September 2014

Geplaas: Joost van Dijk (c.1675-1718)

Nou net Joost van Dijk se inskrywing geplaas. Dit was 'n interessante twee weke wat ek met hom en sy baie vrouens spandeer het. Ek het aansoek gedoen om lidmaatskap by die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, waardeur ek hopelik in die toekoms makliker en meer inligting sal kan kry.


Saturday 6 September 2014

van Dijk, Jan - opgedateer

Ek het so pas die bladsy van Jan van Dijk opgedateer met 'n bronnelys en  die volgende inligting:

Welke datum Jan van Dijk dan ook in Suid-Afrika aangekom het, hy is in 1691 grond toegeken in die buurt van Stellenbosch, wat toe nog maar pas aangelê was. ... Die plase was groot genoeg vir landbou-doeleindes, maar te klein vir vee. Die boere het egter al die naburige land, wat aan niemand gegee is nie, as gemeenskaplike weivelde gebruik. Die huise van die verskillende boere was relatief naby aan mekaar, wat 'n gevoel van isolasie teëgewerk het. 

Die koloniste het dikwels in kontak gekom met die Khoi (destyds genoem die Hottentotte, 'n naam wat die klanke van hul taal gena-aap het). Die inboorlinge sou ligte werk op die plase doen, soos velde oes, in ruil vir tabak en alkohol. Die jonger Khoi-meisies het werk aangeneem as bediendes, wat daartoe bygedra het dat die Nederlandse taal verder versprei het.




Die begin

Dis nou al jare wat ek wil-wil ondersoek doen na my familie (van Dyk) se stamboom en na 'n paar halwe beginne het ek uiteindelik halsoorkop in die genealogie-wêreld ingeduik met 'n Premium Plus rekening op myheritage.com. Gewapen met die "definitiewe" geslagsregister (gepubliseer 1975) het ek begin om my wortels op te grawe. Mettertyd het ek egter moes leer dat die geslagsregister nie so betroubaar is as wat ek (en baie ander amateur-genealoë) gedink het nie. Sommige familielede verskyn glad nie daarin nie, terwyl ander verkeerdelik as getroud genoem word - ander het selfs die verkeerde ouers.

Die blog (of webjoernaal, as jy wil) is dus bedoel om hierdie foute te korrigeer: alhoewel my stamboom vir iedereen toeganklik is op www.hoogendoorn-vandyk.myheritage.com (lewendige persone se inligting is slegs toeganklik vir diegene wat 'n individuele uitnodiging ontvang het), is dit lank nie baie gebruikersvriendelik nie en is dit moeilik om 'n oorsigtelike prentjie te kry van 'n persoon of sy gesin.

Ek het drie hoofdoele:
1. Om meer uit te vind oor die van Dyk's en hul herkoms uit Wes-Vlaandere.
2. Om die moederlyne na te vors tot in Europa (ek het immers 2048 direkte voorouers as ek 11 geslagte terug kyk).
3. Die gegewens oor die meer onlangse geslagte volledig in te vul.

Punt 2 is ook waarom die blog SA Stamboom, in plaas van Van Dyk Stamboom heet: ek is net soveel 'n Van Vuuren, Kruger, Schoeman, Mouton, McDonald, De Klerk, Robinson, Nel, Siewerts, de Vlamingh, ens. as wat ek 'n Van Dyk is en dit sou jammer wees om nie ook die verhale van hierdie families in te sluit nie.

En dus, sonder enige verdere uitstel, bied ek die eerste inskrywing:
Jan Pietersz. van Dijk (c. 1635-73)