Pieter Becker se
lewe en misdade word ook beskryf in die boek "Pieter Becker ('n
stamvader): sy misdade en verhore", deur J.L. Buys (1992).
Belangstellendes kan dit by, byvoorbeeld, die webwerf van die Genealogiese
Genootskap van Suid-Afrika koop. Waarskynlik verskyn daar baie meer inligting
in, as dit wat ek hieronder bied. (Self het ek dit nog nie gelees nie.)
Één van die dinge
waarteen mens moet waak wanneer mens stamboomondersoek doen, is om nie die
geskiedenis te romantiseer nie. Dit is maklik om bewondering te kry vir iemand
wat sy vaderland die rug keer, om in die middel van nêrens met sy gesin 'n nuwe
toekoms te bou. Dit roep beelde op van hardwerkende boere, besig om te oes; hul
vrouens wat die klere was en kos maak; kinders wat skool kry by die dominee (of
die sieketrooster) en Sondag trek almal mooi klere aan en gaan kerk toe, soos
dit hulle betaam. Maar nie ál mens se voorouers was vroom of goedhartig nie -
daar sal 'n paar skurke ook in skuil.
Pieter Becker was één van die 1024 voorouers wat ek 10 generasies terug
gehad het (tegnies-gesproke 1024, maar in Suid-Afrikaners se geval is dit nader
aan 600-900, a.g.v. oor-en-weer trouery). Ek twyfel dan ook of ek tussen die
honderdes nog iemand sal kry wat so gewelddadig en wreedaardig as Pieter Becker
en sy vrou Jannetjie de Clercq was.
Becker is die
stamvader van sommige van die Bekkers in Suid-Afrika, m.a.w. hy is die Bekker-voorvader waaruit baie ander Bekkers spruit. Sommige families het slegs een
Stamvader, maar in die geval van die Beckers was daar ses verskillende,
onverwante Bekkers wat in die 1600s en 1700s na Suid-Afrika gekom het en vandag in
Suid-Afrika 'n nageslag het. Pieter Becker was die eerste en is ook die direkte
stamvader van beide my ma én my pa (sover vier takke aan my ma se kant en drie
aan my pa se kant) en sy verhaal verdien om gehoor te word, al is dit ook net
om te dien as ontnugtering vir die romantiese beeld wat "stamvader"
oproep (en die besef dat die appel darem ook baie ver van die boom kan val).
Pieter Becker is
ongeveer 1673 gebore in Königsberg, Pruise. Die stad is byna heeltemal verwoes
tydens die tweede Wêreldoorlog en is daarna deur die Sowjet-Unie beset.
Vandag staan dit as Kaliningrad bekend en vorm dit deel van die Kaliningrad
Oblast, 'n Russiese enklawe tussen Pole en Litaue aan die Baltiese See.
In 1694 sluit hy by
die V.O.C. aan. In hul rekords is hy genoteer as "Pieter Becker van
Deventer", wat daarop dui dat hy waarskynlik 'n wyle in Deventer,
Nederland, gewoon het. Hy sluit as soldaat aan by die Amsterdamse afdeling van
die V.O.C., bekend as Kamer Amsterdam (daar was ook afdelings vir Zeeland,
West-Friesland en Maaze) en op Vrydag, 31 Desember 1694, vertrek hy met die
skip Voetboog van Texel, Nederland, na Batavia (tans Jakarta, Indonesië).
Pieter Becker van Deventer se rekening by die V.O.C. |
Die
Voetboog kom op Saterdag, 16 April 1695 in die Kaap aan, en vertrek weer op 10
Mei, sónder die 22-jarige Becker aan boord. Hy bly egter in diens van die V.O.C. en word
uitgehuur as "knecht" aan Ernst Friedrich Walter, om te werk op sy
plaas Lubeck, in die distrik Drakenstein. Becker ontvang ƒ15,5 (florijne, of gulde) plus kos, drank en blyplek. Dit is nie bekend hoe
lank hy vir Walter gewerk het nie, maar dit was waarskynlik tot en met die vergunning van sy vryburgerskap op 18
Mei 1697. V.O.C. soldate is op versoek vrygestel van hul kontrakte en toegelaat
om te boer, ambagsman te word of vir ander te gaan werk.
Op 26 Februarie 1698
is André Gauch, Stamvader van die Gouws-familie, naby sy huis in die
Drakenstein-distrik vermoor. Sy jongste kind, Andries, was skaars 'n maand
oud. Hy was besig om vee te gaan
inspekteer, toe iemand hom drie dodelike houe teen die kop gegee het. Die dader
is nooit geïdentifiseer nie, maar bewyse het daarop gedui dat die moordenaar
Pieter Becker was, moontlik met hulp of kennis van Gauch se vrou, Jannetjie de
Clercq. Dit was sekerlik ook rede vir
agterdog toe Becker en De Clercq kort na Gauch se dood getrou het. Alhoewel hul
trourekord nie gevind kan word nie, is daar 'n rekord waaruit blyk dat hulle in
November 1698 al getroud was. In dié rekord, 'n verhoor, erken hy dat hy 'n
slaaf gestraf het. As dit hoegenaamd genoem word in 'n regsaak, moes dit as 'n
uitsonderlike swaar straf beskou word (ek het elders gelees die slaaf is
doodgeslaan, maar ek kon dit nie bevestig nie). Burgers was nie toegelaat om
hul slawe swaar te straf nie, maar moes hulle in sulke geval rapporteer, dan
sou die outoriteite hulle straf. Hierdie verhoor sal later in die verhaal weer
te voorskyn kom.
In 1700 kry die 27-jarige Pieter sy eerste kind by die 24-jarige Jannetjie: Hester. Sy is op 5 September 1700 gedoop
en my ma stam direk van haar af. (Aldus stamouers.com het Pieter ook 'n vroeër
kind gehad, Gideon, wat in 1698 gebore is en jonk gesterf het. Ek kan egter in
geen ander bron 'n bevestiging van hierdie kind kry nie.)
Op Saterdag 1
Oktober 1701 was die jaarlikse Optrek. Alle burgers was dienspligtig en die
Optrek was 'n groot militêre oefening waar almal teenwoordig moes wees. Becker
was by die kerkhof, waar die kruit uitgedeel is, en het geskel en luidkeels aan
almal vertel dat hy weier om onder Kornet Jan Stevens Botma se bevel te val en
dat hy nie saam met hom wil optrek nie.
Op daardie tydstip
het Kaptein Olof Berg en die onderkoopman Jacobus Cruse ook by die kerkhof
opgedaag. Becker het volgehou met sy wangedrag en skeltaal, waarop Kaptein Berg
hom "eenige rottang slaagen gegeeven heeft om hem daar door an sijn
behoorlijke pligt te doen gedenken; dog dat hy gevangen in plaatze van dien,
nog hitzigen en kwaaden werdende, tot die buitensporigheeden is
vervallen". 'n Hitsige en kwaad
Becker, met sy hand op sy sabel, dreig toe dat hy Bergh sal onthoof: "so
den kaptein Bergh my weeder slaat sal ik hem die kop voor sijn voeten
leggen".
Later het die
dragonders (waarvan Becker deel was) verby die tent van die Politieke Raad se komitee gemarsjeer. Becker het voor uit sy gelid gery en met sy voorlaaier
voor (of voor in) die tent, teen die grond geskiet "dat het sand door de
tent is gevloogen". Vermoedelik het kornet Jan Stevens Botma in die tent
gesit, want Becker sou later skuldig bevind word aan 'n aanval op Botma.
Becker se gedrag dié
dag was nie aanvaarbaar nie en bietjie meer as 'n maand later, op 11 November
1701, word hy skuldig bevind van verskeie aanklagtes. Vir sy eerste straf moet
hy drie keer met sy naakte rug deur die spitsroede loop: die "spitsroede"
is twee rye soldate, waartussen die skuldige deur moet loop, terwyl hy deur
hulle met latte geslaan word. Sy tweede straf was 'n boete van 50 ryksdaalders.
Sy derde straf was
verbanning na Mauritius vir 10 jaar. Volgens bevel moet hy op Robben-eiland
gevange gehou word tot hy kan soontoe kan gaan. Hy ontsnap egter en teen 1710
is daar weer rekord van hom te Drakenstein. Sy vrou baar ook steeds kinders by
hom, dus het hy waarskynlik ná aan sy huis geskuil.
Al in 1702 is hy
weer betrokke by 'n gewelddadige insident: Daniel Hugot (nog 'n voorvader, aan
die Van Vuuren-kant) vertel dat hy rusie gehad het met Hercule en Francois du
Pré en Pieter Becker rakende 'n Hottentotskraal wat naby sy wingerd was en die
skade wat die vee veroorsaak het. Becker het hom tydens die rusie
"slaagen" toegedien. Maar
blykbaar het niks hiervan gekom nie.
In 1702 is ook
Becker en Jannetje se tweede kind gebore: Helena, gedoop op 24 Desember 1702.
Kinders is nie noodwendig kort na hul geboorte gedoop nie: in Drakenstein was
dit soms 'n lang pad na die kerk en het dit soms maande geduur voordat nuwe
ouers die pad afgelê het. Jare gaan verby, met nuwe kinders as die enigste
rekord waarop sy naam verskyn: In 1705 word die
paartjie se derde kind gebore: Stephanus, gedoop op 16 Augustus 1705. En
ongeveer twee jaar later word hul vierde kind gebore, Dorothea Maria.
Op
12 Mei 1709 word die paartjie die peetouers van Martha Mouton. Martha was die
dogter van Jacques Mouton en sy derde vrou, Francina Bevernage. Jannetjie se
broer, Abraham, is met Madeleine Mouton getroud, een van Jacques se dogters uit
sy tweede huwelik (Abraham en Madeleine is ook voorouers van ons). Die skrywer
Ad Biewenga, in sy boek De Kaap de Goede Hoop, wonder hoe op aarde 'n dominee
iemand soos Pieter Becker kan aanvaar het as doopgetuie. Want, skryf hy (en sal
ons aanstons nog leer), "het mag duidelijk zijn dat
Becker en De Clercq niet direct tot het slag mensen behoorden, van wie we
vertrouwen dat ze kleine kinderen de christelijke beginselen goed kunnen
bijbrengen."
Die volgende deel is nie vir
sensitiewe lesers nie. (En ek bedoel dit.)
Kort
na Paasfees in 1710 het Becker sy slavin, Maria van Ceijlon, gestraf omdat sy blykbaar 'n pan nie goed skoongemaak nie - "om het niet wel schoon maken van een pan". Hierdie
"straf" was om die volgende drie dae deur hom en Jannetjie op
sadistiese wyse gemartel te word.
Die eerste
dag is sy teen 'n leer vasgemaak en met 'n kweperlat ("queepeeren
garden") van soggens agtuur tot tien- of elfuur geslaan.
Daardie aand
het Becker, sy vrou Jannetjie en hul kneg Matthijs Craal, saam kaart gespeel en
wyn gedrink. Becker het sy degen ('n reguit steekwapen) uitgehaal en op die
tafel gesit en toe sê hy vir Maria "Ik moet mijn plaisier nogh wat met jou
nemen". Tot middernag het hy haar
na elke teug wyn met die degen op haar naakte liggaam geslaan.
'n Degen. Foto deur Garitan. |
Die
volgende gebeurtenis was óf direk hierna, soos genoem op stamouers.com, of op die derde dag, soos
geïnsinueer in Ad Biewenga se boek, De Kaap (ek vermoed self die eerste dag, om
verskeie redes).
Die Khoi,
Jochem, het haar met 'n mengsel van urine en sout gewas en gevryf, waarna sy
gedwing is om vuur te maak. Daarna het Becker 'n wa-ketting geneem met 'n
(hout)blok aan en om haar nek gedraai. Die res van die ketting het hy styf om
haar lyf getrek en toe vasgemaak aan die ketting bó die vuurherd (waaraan hulle
potte ens. gehang het om kos en water warm te maak).
Sy was so
naby die vuur dat sy begin braai het en, toe Jochem haar weer was, val 'n stuk
vlees van haar boud afval. Maria het dit opgetel, waarop Jannetjie toe sê
"Wat wil je daar me doen? Kom, vreet het nu". Sy is toe gedwing om 'n
tyd lank daaraan te kou, tot Jannetjie
sê " 't is nu al genoeg, beest, spouwt [spoeg]
't maar in 't vuur". Daarna het Becker Jochem beveel om 'n tang te neem en
nog loshangende stukke vel en vlees van haar af te trek.
Hierna is sy
gedwing om 'n mengsel te drink, gemaak van die verhitte urine van Jannetjie,
wat gemeng is met fyn peper. Die mengsel is ook gebruik om haar weer te was.
(Becker sou later verweer dat die urienmengsels bedoel was om genesing te
bevorder.) Terwyl die kneg, Matthijs Craal, en die Khoi, Jochem, haar gewas
het, het hulle ook handevol peper in haar geslagsopening gestop.
Op die tweede dag is
Maria twee uur lang deur die bogenoemde drie en die Khoi Jochem, gegesel. 'n
Gesel is 'n slaanding wat gemaak is uit 'n bondeltjie dun rieme of toutjies,
waaraan knope, koeëltjies of skerp stukke metaal aan die einde vasgemaak is.
Op die derde dag is
sy nog 'n kwartier gegesel.
Maria het
verklaar dat sy in die drie dae nie kon piepie nie, alhoewel ek nie seker is of
sy nie toegelaat is nie, en of sy nie fisies in staat was nie. Ek vermoed
laasgenoemde: "Dat sij de lijderesse in drie dagen haar water nie heeft
kunnen loosen."
Maria sou
miskien nog verder gemartel en uiteindelik vermoor word, as dit nie vir die
vreemde gedrag van Becker was nie. Hy het sy dade duidelik nie as buitensporig
gesien nie, want na die drie dae het hy haar saamgeneem toe hy by op besoek by
'n ander boer gegaan het. Volgens dié boer kon Maria skaars loop en het sy
vreeslik gestink. Toe sy stilstaan, het sy baie gebewe en was haar knieë
gebuig. Die boer het geskrik en gedink dat "sij na oogenschijn haast de
waereld soude moeten verlaten". Ook ander inwoners het Maria moontlik
gesien, want Becker is vinnig hieroor aangekla.
Hy is op 24 April skuldig bevind en gevonnis tot vier jaar lank
dwangarbeid in kettings op Robbeneiland (waar hy ook gevange gehou sou word).
Na die vier jaar om is, sou hy verban word terug Europa toe.
Jannetjie was tydens hierdie alles swanger, want hul
vyfde kind, Marthinus, is op 14 Desember 1710 gedoop. (Marthinus is ook nog 'n
voorouer: twee takke aan beide die Van Dyk- en die Van Vuuren-kant van die
familie.)
Tydens sy verblyf op Robbeneiland het hy ook intieme
besoeke van Jannetjie ontvang, waartydens hulle gemeenskap gehad het. Só is hul
volgende kind c1712 gebore: Catharina Margaretha.
Of sy werklik Becker se kind was,
wonder ek, want in 1715, na hy terug is in die Kaap en op die punt staan om na
Europa te vertrek, daag hy Jannetjie voor die Raad van Justitie. Hy beweer dat sy tydens sy gevangenisskap
owerspel gepleeg het met die korporaal van die Land van Waveren en dat sy 'n
kind van hom gebaar het (moontlik Catharina?). Becker het die ontbinding van
die huwelik geëis. Aangesien Jannetjie nie gretig was om saam met hom terug na
Europa te gaan nie, het sy die eis nie teengestaan nie. Die Justitie het die
huwelik ontbind en Becker het toestemming gekry om weer te mag trou, indien hy
sou wou. Jannetjie het 'n boete van 100 Ryksdaalders gekry en moes enige en al
Becker se goedere wat sy in haar besit gehad het, aan hom teruggee.
Kort
daarna vertrek Becker na Europa. Daar sluit hy gou weer by die V.O.C. aan en
kom weer in 1717 na die Kaap. Na sy aankoms word hy binne 'n jaar weer gearresteer en
gevonnis tot lewenslange gevangenis te Robben-eiland.
In 1732 verskyn hy
egter weer saam met Jannetjie as doopgetuie by die doop van Johan Christophel
van den Berg, in Drakenstein. Ek het Delia Robertson van The First Fifty YearsProject hieroor gekontak en sy vertel dat gevangenes van Robbeneiland dikwels moes werk
aan publieke werke op die vasteland (byvoorbeeld bou van nuwe paaie). As hulle
eers terug in die land was, is hul vonnisse soms ook vergeet, hetsy tydelik of
permanent.
In Becker se geval,
hoop ek dat die doop toevallig geval het saam met sy dienstyd - die idee dat
hierdie sadistiese man nie sy volle straf uitgesit het nie gee my 'n pyn op my
maag. Volgens die 1946-boek, Personalia of the Germans at the Cape, is Becker wél
tussen Junie 1742 en Junie 1747 op Robbeneiland oorlede. Ek het nie al die
bronne kon insien waarna die boek verwys nie, maar ek hoop die outeur is
korrek.
Ek vermoed dat
Pieter Becker se kop nie lekker gewerk het nie, alhoewel dit nie 'n verskoning
is nie en ook nie die gedrag van sy vrou, hul kneg Matthijs of hul diensjonge
Jochem verduidelik nie. Ek wonder ook oor hul kinders - wat het hulle alles
gesien en meegemaak, en hoe het dit hulle affekteer? Die paartjie se dade was
wreedaardig genoeg dat hulle, of liewer Becker, aangekla is. Tog het mense met
hulle bevriend gebly en is hulle selfs gevra om peetouers te wees van mense se
kinders. Laat mens wonder hoe barbaars die lewe in die Kolonie was aan die
begin van die 1700's - of liewer, watse soort mense hulself daar bevind het.
Bronnelys
Geslagsregister van
Ou Kaapse Families, opgestel deur G.M. Theal uit die navorsing van C.C.de Villiers. 1894
Robertson, Delia. The First Fifty Years Project. Opgedateer 2015.01.30.
Bydraes tot die
Genealogie van ou Kaapse Families. John Hoge. Amsterdam: Balkema, 1958.
VOC-Opvarenden, by die Nationaal Archief van Nederland
VOC Skeepssoldijboeken, by die webwerf van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika.
Openarch.nl Nationaal Archief, Verenigde Oostindische Compagnie, archief 1.04.02, inventarisnummer 5414, folio 151.
Ad Biewenga, De Kaap de Goede Hoop -- Een Nederlandse vestigingskolonie
1680 - 1730. 1999
Bekker, Pieter. By Stamouers.com. Geskryf deur AM van Rensburg en Alwyn P Smit. verkry op 09.09.2015
No comments:
Post a Comment