Showing posts with label Stamouers. Show all posts
Showing posts with label Stamouers. Show all posts

Saturday, 15 December 2018

'n Besoek aan Isenbruch en Dieck in Duitsland


Een van die handjievol lesers van hierdie blog, André van Dyk, het my daarop gewys dat Isenbruch en Dieck, geleë in die Duitse streek Selfkant, ook 'n moontlike herkoms vir die broers Joost en Burgert van Dyk kon wees.

André het my reeds vroeër daarop gewys dat Joost se boedelinventaris verwys na 'n "Hoogduyts Gebede boekje" en dat hy 'n Duitse herkoms vermoed. Met die wete dat daar Duitse vanne soos Dieck en Dieckmann is, het hy gaan rondkrap op die Duitse Wikipedia en afgekom op die gehuggie Dieck, geleë sowat ses kilometer wes-suidwes van 'n dorpie met die naam Isenbruch. Om te recap: Joost en Burgert is in die skeepsoldyboek opgeteken as Joost Pietersz en Burgert Peters, beide van Isberg. Soos met baie ander V.O.C.-werknemers, is daar 'n moontlikheid dat hulle name, van en plek van herkoms verNederlands is. Met ander woorde, hulle sê een ding, en die Nederlandse V.O.C.-amptenaar skryf op wat hy hoor. Dit word duidelik as mens kyk na al die ander dokumente waarin die broers se name en plek van herkoms genoteer staan: Pietersz, Peters en Petersen; Isberg, Ysenberg, IJsberg, Eijsenbergh. Arme Burgert se naam is op elke moontlike manier verdraai, van Burgert, tot Borgert to Borchard (en variante daarvan, soos Burchert). Ongeveer 1699-1700 het die broers die van Van Dyk aangeneem. Ek vermoed sterk dit was om hulself (en hul kinders) as familie te identifiseer tussen al die hordes Pieters/Peters-persone aan die Kaap. André se vermoede is dus dat "Isberg" verwys na Isenbruch en "van Dyk" kan verwys na Dieck.

Mens kan ook 'n beter idee kry van hoe mense hulle name uitgespreek het deur hulle handtekeninge na te gaan. Interessant genoeg het die broers nooit hulle name as "van Dyk" geteken nie, maar altyd met hulle patroniem. Burgert het nie baie kon skryf nie: aanvanklik het hy dokumente met 'n kruis geteken, later met 'n BP (aanvanklik uiters bewerig, later met meer selfvertroue). Joost het as Jost of Just Peters geteken (ook nou nie die mooiste handskrif nie), en op testament as Jost (of Just) Peters van Isenb..g (laaste letters nie afsonderlik te identifiseer nie).


Net om seker te maak dat Burgert nooit sy volle naam leer skryf het nie, het ek weer gaan kyk na al die beskikbare dokumente, en per ongeluk Joost se seun Burgert se testament oopgemaak. Groot was my verbasing om te sien dat hierdie seun sy naam as Burger van Dieck geskryf het (was ook redelik verbaas dat hy hoegenaamd kon skryf).




Burgert was Joost se eerste seun en dit is dus waarskynlik dat hy van sy ouers leer praat het (anders as Joost se jongste kinders, wat hom nouliks geken het). Dit beteken dat daar 'n goeie kans is dat Joost (en moontlik ook Burgert) hul van as van Dieck uitgespreek het, wat die kans vir Dieck versterk.

So, ons het 'n ooreenkoms vir Peters/Pietersz, vir Dyk/Dieck en vir Isenberg/Isenbruch. Maar wat van hulle voorname? Het hulle in die streek voorgekom in die tyd? Ongelukkig is dit nie so maklik om agter te kom nie, aangesien die kerkrekords uit die tydperk nie meer bestaan nie (of nog êrens, onontdek, in 'n stowwerige argief lê). As ons egter ingedagte hou dat Isenbruch teen die grens van Limburg (die suidelikste provinsie van Nederland) lê, kan ons gaan kyk tussen die beskikbare rekords van daardie provinsie (wat wél vir die tyd beskikbaar is). As mens daar soek (www.allelimburgers.nl), is dit duidelik dat beide name wel deeglik in die gebied voorkom.

Omdat die DTB-boeke (doop-, trou- en begrafnisboeke) van die kerke waartoe Dieck en Isenbruch behoort vir die betrokke tydperk ontbreek, sal enige moontlike papierspoor wat na hulle verwys gesoek moet word in Duisburg. Dit is waar die argiewe van Selfkant gehuisves word. Die argiewe is helaas nie aanlyn beskikbaar nie - selfs die indeks van die argief is nog nie volledig aanlyn beskikbaar nie. Dit is dus 'n missie vir 'n ander jaar (Duisberg is ver en dit sal 'n paar dae neem om die argiewe deur te gaan), maar in die tussentyd het ek dit goedgedink om 'n besoek aan Selfkant te bring en 'n gevoel te kry vir die plek.

Selfkant is die mees-westelike deel van Duitsland, teen-aan die grens van die suidelike deel van Nederland:

 Die grens, in donkergrys loop Noord tussen Echterbosch en Waldfeucht en suid onder Gangelt.




Isenbruch is links, teen die grens met Nederland. Dieck is regs, ongeveer waar die "Hongener und Saeffeler Bruch" is. Isenbruch is 'n klein dorpie, met ongeveer 308 inwoners. Dieck is nog kleiner, 'n gehuggie met met sowat 10 inwoners: slegs 'n paar plase en 'n koffiewinkel (Café Diecker Fahrradtreff op die kaart).


Isenbroick (Isenbruch, bo Susteren) op 'n kaart in 1747. Dieck is geleë in die "Zafel Bosch", tussen die E en J.
(Carte particuliere des environs de Maeseyck Stochem et Hinsberg, gedruk deur Covens & Mortier.)

Die onlangse geskiedenis van Selfkant, alhoewel nie van genealogiese belang nie, is tog interessant. Selfkant en Maasland (die Nederlandse gebied net oor die grens) is deur die eeue al verbind of verenig gewees, hetsy polities of kerklik. Hulle was byvoorbeeld beide deel van die Hertogdom Jülich, waarvan bostaande kaart geteken is. Met die Kongres van Wenen in 1815 en die ontstaan van die Duitse Statebond, is 'n grens getrek wat die streek geskei het. Van toe af was Selfkant deel van die Duitse Statebond, en die dorpe wes van die grens, deel van die Hertogdom van Limburg.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Duitsland die gebied aan Nederland geskenk, as kompensasie vir die verliese wat Nederland tydens die oorlog gely het. Vir die inwoners van Selfkant was dit om't ewe: beide Maasland en Selfkant besig sowieso dieselfde dialek en het 'n gedeelde kultuur. Des te meer, noudat hulle deel van Nederland was, het die inwoners skielik toegang gehad tot koffie en tabak, iets wat relatief skaars was in na-oorlogse Duitsland. Die huise en strate is as deel van Nederland beter herbou en in stand gehou. Op 1 Augustus 1963 word die gebied egter weer deur Duitsland teruggekoop. Handelaars het trokke en huise vol koffie, sigarette en ander smokkelware volgestop en gewag vir die klok om middernag te slaan. 23:57, 23:58, 23:59 en siedaar! Tonne produkte vir die Duitse mark is die land inge"smokkel" - die handelaars het geen belasting daarvoor hoef te betaal nie. Die inwoners het redelik bedrieg gevoel en besluit om 'n esel as eerste voetganger oor die grens te stuur.


En is dat nou ons kleine Zelfkantje?! Spotprent uit 'n Nederlandse koerant van 1949.


 Die eerste grensoorgang in 1963, na Selfkant weer aan Duitsland behoort het.


In Selfkant het ons gebly in die Gasthof Peters, 'n herberg wat al sedert 1650 bestaan het en al 'n paar eeu diens doen as herberg. Die gebou het eers aan ander families behoort, waaronder die Familie Welschen in 1650 en daarna die Familie Reynders. Vóór 1824 was die herberg se naam Dyks  - in hierdie jaar het Leonard Peters met die eienaresse, Maria Dyks (!), getrou, en het die herberg die eerste keer die naam Peters gekry. (Deur hierdie paartjie se stamboom te ondersoek, kan mens moontlik 'n gemeenskaplike voorouer van die Van Dyk-broers kry.)

Ek het oorspronklik gehoop om op die Sondag by die twee kerke in te sluip ('n kapel in Isenbruch en 'n kerk in Saeffelen, waartoe Dieck behoort). Ek het iets soortgelyks gedoen tydens ons besoek aan Texel 'n paar jaar terug. Jammer genoeg moes ek toe leer dat die hele Selfkant - 'n uiters streng godsdienstige streek - elke dag kerk het, maar elke dag in 'n ander dorpie. Die kerke wat ek wou besoek, se beurte was in die week, en nie in die drie-dae tydperk wat ons die plek besoek het nie.

Elke oggend om ses-uur is ons wakker gelui deur die streek se kerkklokke, wat die inwoners herinner dat dit tyd is om hul dag te begin met gebed. Die klokke is ook ses-uur die aand weer gelui. By die deure is in kryt, of mb.v. van plakkers, die jaartal, plus die letters C+M+B geskryf, 'n tradisie waarmee die huis vir die jaar geseën word. My dogter het die eerste ete by die Gasthof deurgebring deur al die gekruisigde Jesus-beeldjies teen die muur te tel (nege, as ek reg onthou).

 
Hierdie streng-gelowigheid is ook te sien by die begrafplase. Die grafte is almal, sonder enige uitsondering, uiters netjies en versorgd. Ons het drie begrafplase besoek om te sien of die name Peters/Pieters of Van Dyk nog daar voorkom. Peters is 'n baie algemene naam in die omgewing van Dieck, maar daar was nie een Peters-graf naby Isenbruch nie.


'n Peters-graf in Höngen, aangrensend met Dieck.

Die blou riviertjie op die kaart, wat 'n dyk genoodsaak het (waarna die naam Dieck verwys), is die Saffelbeek, of Saeffelerbach in Duits. Hierdie stroompie stel vandag nie baie voor nie, of hy in die verlede bruisender was, weet ek nie. Dit is wel so dat ons op die oomblik een van die droogste jare in die geskiedenis beleef, dus is die rivier waarskynlik gewoonlik hoër. Mens kan egter aan die bank sien dat hy selfs as hy vol is, nie baie breed is nie:

Die volgende stap is om die argiewe in Duisburg te besoek (moontlik dat die argiewe in Sittard ook van hulp kan wees). Aangesien kerkrekords van die tyd nie meer beskikbaar is nie, kan mens kyk na boedelaktes, eiendomsaktes of enige ander burokratiese dokumente van die tydperk wat vandag nog bestaan. Dit kan ook loon om te soek vir genealoë in die streek op Duitse genealogie-forums, wat Dyks/Dieck en Peters navors.

Enige vordering sal gemeld word.

Saturday, 25 November 2017

Hersien: Helena Siewertsz. (1690-1727)

Ek het gister die biografie van Helena Siewertsz. opdateer. Dit is ook beskikbaar by die Van Dyk-register: http://vandykregister.com/histories/helenasiewertsz.php

Bietjie meer inligting bygvoeg oor haar tweede man, Anthonij Wagenaer, asook sommige spekulasie regverdig of verwyder.

Maar verreweg die interessantste toevoeging kom uit 'n reeks boeke wat ek onlangs aangeskaf het: die Requesten (Memorials) 1715-1806 deur H.C.V. Leibbrandt; 'n opsomming van gevalle wat deur die Raad aan die Kaap verhoor is.

Die eerste twee volumes is al lank op die Internet beskikbaar, gesien dat hulle in 1905 geskep is en dus lankal nie meer onder kopiereg beskikbaar word nie. Leibbrandt is egter in 1911 oorlede voordat die res van die reeks gepubliseer is. Sy manuskrip vir volume 3 was grotendeels klaar, maar vir volume 4 was daar slegs 'n paar bladsye beskikbaar. Werknemers van die argief het die werk reeds in 1920 voltooi en in die tagtigerjare het Me. Fransie Rossouw volume 5 geskep - 'n 453-bladsy lange indeks wat die eerste vier volumes dek.

Meeste van die Van Dyks kom in volume 4 voor, gesien dat dit alfabeties gerangskik is. Waaronder ook die volgende, gesorteer onder 1716:


 Ek het al jare gewonder na watse "hindernisse" Joost in sy testament verwys het, as rede waarom hy nooit met Helena kon trou nie. Nooit gedroom dit sou só iets wees nie. Met 'n bietjie geluk het Johan van Breda vir my die oorspronklik kon opspoor in die Kaapse argiewe, wat ek ook by haar biografie gevoeg het (skakel bo, of in die kieslys regs).

Die toevoeging van verwysings in HTML bly 'n nagmerrie en baie tydrowend.


Tuesday, 14 November 2017

Herkoms van die Broers van Dyk 2

Ek het al baie gespekuleer oor die herkoms van die broers Joost en Burgert van Dyk (sien hier), maar onlangs het André van Dyk die volgende uitgewys:

"Geleë in die munisipaliteit Selfkant, in die verre weste van Duitsland teen die Nederlandse grens is die twee klein dorpies genaamd ‘Isenbruch’ en ‘Dieck’. Kon hulle moontlik tussen die twee plekke groot geword het of op albei? En dit dalk was hoekom hulle soms ‘Van Ysenberg’ en soms ‘Van Dyk’ is. Uit ‘n Nederlandse oor is dit eenvoudig om te sien hoe van Isenbruch ‘van Ysenberg’ [geword het, of] ‘Dieck’ ‘ dyk’ word."

Die ligging (ongeveer) van Isenbruch (links) en Dieck (regs) in Duitsland, aan die grens met Nederland.

Ek het byna van my stoel afgeval. Nog nooit hierdie gehuggies teëgekom in my eie soektogte nie. Aanvanklik was ek skepties (soos ek maar oor alles is), maar dit wil lyk asof "Joost" en "Burchart" (en variante) baie algemene name was in hierdie gebied in die betrokke tydperk. My hoofrede om Wes-Vlaandere destyds as plek van herkoms af te skryf, was nie slegs omdat geen van die seuns in die doopboek van Izenberge voorkom nie, maar ook omdat hul voorname slegs met enkele uitsonderings (Joost) of selfs glad nie (Burgert) daar voorgekom het nie.

"Dieck" is dan ook 'n ou Duitse woord vir "dyk". Die dorpe was deel van die gemeente St. Lucia. Ongelukkig begin die kerkboeke vir die gemeente eers in 1696 (die kerk is reeds in 1510 gebou) - en is ook nie aanlyn beskikbaar nie.

Isenbruch behoort tot die gemeente van St. Gertrud Havert. Die kerkboeke van hierdie gemeente begin nog later - eers in 1734, alhoewel die kerk (of oorspronklike kapel) reeds uit die 16de eeu stam.

Hoe nou gemaak? Wel, sover ek kan sien, is daar geen maklike opsies nie (alle voorstelle welkom). Mens kan die Dieck-boeke deurgaan om te kyk of daar 'n familie is waarin die seuns sou pas (as Joost en Burgert familiename was, sou hulle steeds in die agtergeblewe familie voortgebruik geword wees). Dit is wel 'n monumentale taak, maar nie 'n onmoontlike een nie: as mens sowat dertig tot vyftig jaar van 'n doop (en, as ons gelukkig is, trou- en sterfboek) transkribeer, kry mens 'n baie goeie beeld van die verskillende families van 'n plek.

Isenbruch s'n begin te laat om van nut te wees, dink ek.

Mens kan ook kyk vir ander dorpies wat tot dieselfde gemeente behoort. Daar is 'n skraal kans dat hulle doopboeke wél vroeër begin en dat die seuns in een van hierdie dorpies gedoop is en later na Dieck/Isenbruch getrek het.

Mens kan ook soek vir ander bronne - letterlik enige boeke geskryf in die tydperk oor die plekke, waaruit name van destydse inwoners geneem kan word. Weereens, iets wat net so links van "onbegonne taak" lê. Maar ek sal nog daarby uitkom (tensy 'n ander vrywilliger sy hand opsteek).

Ek is nog nie gereed om Skandinawië as plek van herkoms af te skryf nie, veral gesien die DNS-ooreenkoms met 'n Skandinawiër. Maar Middel-Noord-Europa (waar Dieck/Isenbruch) geleë is, is dan ook nie só ver dat dit onmoontlik is nie - die gemeenskaplike voorvader se familie het 300 jaar tyd gehad om te migreer.

Enige iemand wat my wil borg sodat ek voltyds aandag hieraan kan bestee?





Monday, 11 January 2016

Besoek aan Texel, Nederland

Die naweek vóór Kersfees het ek en my man my ouers na Texel geneem, 'n eiland in die Noordooste van  Nederland. Dit is die eiland waarvandaan Joost en Burgert Pieterse (later van Dyk) as soldate in diens van die V.O.C. op 24 Mei 1686 na Suid-Afrika geseil het, met die skip Huis te Silversteyn.

Texel is die grootste van die eilande in die Waddesee en word "Tessel" uitgespreek. (Die rede hiervoor is 'n taalkundige interessantheid - tydens 'n geskiedkundige klankverandering in Nederlands is alles x-klanke verander na s, dink maar aan die Engelse en Duitse "fox/Fuchs" en "ox/Ochs" in vergelyking met die Nederlandse/Afrikaanse "vos" en "os".)

Links: die ligging van Texel m.b.t. tot Nederland (noordwes). Regs: Texel, met Oudeschild aan die suidooste.

Texel in 'n 1725-reproduksie van 'n kaart uit 1691.
Op Texel het ons gebly in die dorpie Oudeschild - in die 17de eeu slegs bekend as 't Schilt.

Oudeschild is die dorpie wat as basis gebruik is vir die Rede van Texel, waarvandaan baie van die V.O.C. se skepe vertrek het ('n "rede" is 'n veilige anker- of aanlêplek vir skepe). Hierdie rede het vanaf Oudeschild gestrek tot by Fort de Schans. Die gebied van De Schans na die suide strek vandag in 'n lang, reguit lyn, maar destyds was daar baie meer van 'n inham, alhoewel hierdie nie bevaarbaar was nie a.g.v. sandbanke. As mens 'n destydse kaart met 'n moderne een vergelyk, het die eiland se aangesig al drasties verander.
 
Oudeschild is vandag nog baie klein, met sowat 1100 inwoners. In die tweede helfte van die 1600's was hy ongeveer dieselfde grootte of selfs kleiner en het maar uit twee parallel strate bestaan: een langs die seedyk (tans De Ruiterstraat) en een waarin die kerk gestaan het (vandag Trompstraat).

Zoom by die kaart hieronder in om 'n goeie beeld te kry van Oudeschild. Die gekleurde merkers is plekke wat ek hier onder bespreek.

 
Die strate was verbind met stegies, waarvan een deurgeloop het as 'n pad na die "Wezenputten" - putte waaruit die skepe se watervoorraad teen betaling gehaal is. Die Weeshuis in die dorpie Den Burg was die eienaar van die putte (vandaar die naam) en die geld is dan ook gebruik vir die weeshuis. Nie slegs drinkwater nie, maar ook skape (waarvan daar ook nog vandag baie op Texel rondloop) is op die skip geneem, om geslag te word as vars vleis benodig is.


Daar was oorspronklik vyf putte, maar vandag is daar slegs twee oor. Die water is met behulp van 'n pomp in houtvate gegiet. 

Oupa wonder of ons nie dalk ook bietjie water kan uitkry nie.

Die water het 'n hoë ystergehalte (sigbaar aan die rooi-bruin kleur), waardeur dit langer houdbaar was as byvoorbeeld die soetwater wat in Amsterdam verkrygbaar was. Die vate is met bootjies op die sloot, die Skilsloot, na die dyk gevoer. Die sloot was toe baie groter en dieper as vandag. 'n Skip van 360 ton en 300 bemanningslede het vir 'n reis na die Ooste 170 "leggers" van elk ongeveer 150 liter water geneem. Dit was genoeg tot by die Kaap de Goede Hoop, waar nuwe water weer opgelaai is.

Die Skilsloot met sy rooi-bruin water.
Die sloot het nie tot by die dyk deurgeloop nie, maar waar dit die dorpie ontmoet het, is die vate uit die bootjies getel en na die dyk gebring. Hier het 'n bedrywige atmosfeer geheers en was die meeste herberge gevestig. Die seelui se gedrinkery het daartoe gelei dat die gebied bekend geraak het as die Jeneverbuurtjie.  Dit is ook die Kollegat genoem, 'n "kol" is 'n prostituut en 'n "gat" is 'n klein deurgang. Dit was veral terugkomende seelui wat hier hul verdiende geld geruil het vir 'n paar minute se plesier. Die straat staan vandag bekend as 't Buurtje. Geen van die oorspronklike herberge of ander geboue in hierdie buurt bestaan meer nie en vandag is daar slegs huisies.

Die punt waar Trompstraat in die Jeneverbuurtje vasloop.
En die Jeneverbuurtje van die onderkant, waar hy die De Ruyterstraat kruis.

Die uiteindelike ondergang van die V.O.C. aan die einde van die 18de eeu het ook 'n einde aan die welvaart van Oudeschild gebring. Daar was nie meer geld om huise of ander geboue te onderhou nie en vandag is daar slegs een gebou in die hele dorp wat nog uit dié tyd stam - die Zeemanskerk van 1650. Die dorpie het miskien bietjie gekwyn, maar nooit heeltemal verdwyn nie - die hawe wat daar in 1778 aangelê is, was tot 1962 dié ankerplek van skepe en bote afkomstig van die vasteland.

Die Zeemanskerk
Die kerkie se dienste was baie gewild, veral onder vertrekkende seelui - waaraan die kerk sy naam te danke het. Die dienste was só vol, dat 'n uitbreiding genoodsaak is, en die noordelike aanbou is in 1740 teen die bestaande kerk aangebring. Die kerktoring het oorspronklik 'n ui-vormige koepel gehad, maar na weerlig die oorspronklike toring in 1903 vernietig het, is gekies vir 'n meer tradisionele ontwerp.

Die agterkant met die hoofingang. Die aanbou loer aan die regterkant uit.
Die kerkie word steeds as kerk gebruik en nie as museum nie (wel een dag per week in die somermaande), dus het ons gewag tot die Sondag ná die kerkdiens en gou ingeglip en die dominee gevra of ons bietjie foto's mag neem.

Binne-in is daar klomp mense onder die kerkvloer begrawe (8 rye van 13 grafte en in die nuwer deel 3 rye van 9 grafte) en word die eeue-oue grafstene as vloerteëls gebruik, wat beteken dat sommige van hulle jammer genoeg onleesbaar begin raak.

Die grafsteen van die kerk se eerste dominee, Antonius Damburgh.

Nog 'n grafsteen/vloerteël.
 
Waar die plafon van die kerk die toring ontmoet, hang 'n 10 Gebooie-bord wat reeds sedert 1655 daar hang. Die bord was aan die kerk geskenk deur 'n Skotse seeman, Richard Robberts van Glasgow, wat in Nederland woonagtig was.

Die bord afgeneem van die linkerkant...

... en van regs.

Die kansel is ook nog die oorspronklike kansel, met 'n maritieme tema.


Detail van die kansel.
Hier is twee foto's wat die binnekant van die kerk goed weergee:




Die tweede oudste gebou in Texel is 'n herberg wat eers in 1896 gebou is, ná die eeue-oue, 3-verdieping herberg "de Zeven Provinciën" gesloop is omdat dit te vervalle was. Hierdie gesloopte herberg is waar baie seelui geëet en geslaap het voor hulle lang seetogte. Ek vermoed dat slegs die offisiere, krygsrade en ander van hoë rang hier gebly het, terwyl die res heenkome in die Jeneverbuurtje gesoek het. (Die nuwe herberg was gesluit toe ons daar was.)
 
Na die ondergang van die V.O.C. het baie eilandbewoners hul inkomste verdien as "jutters" - mense wat die kus fynkam vir goed wat uit die see spoel. Die Kaap Skil is 'n maritieme en juttersmuseum, waar mens onder andere kan sien watse soort goed alles daar uitspoel.



Die museum het ook 'n voorbeeld gehad van 'n slaai- en kruietuintjie wat saam aan boord 'n skip geneem sou word. Hierdie tuintjie bevat onder ander snybeet, pietersielie, seldery, winterkers, lepelblad, spinasie, radys en slaai.

 Maar my grootste rede om die museum te besoek was 'n model-tentoonstelling van die Rede van Texel:

Die Zeemanskerk is maklik sigbaar in hierdie oorspronklike uitleg van die dorpie.
Daar was ongelukkig nie iemand van die museum aanwesig om meer te vertel oor die uitstalling nie (en die werknemers wat ek elders in die museum aangespreek het, het geskitter in hul onwetendheid). Maar dit gee mens tog 'n uitstekende beeld van die uitleg van Oudeschild toe, asook hoe besig dit was.
Die bruggie regs strek oor die destyds breër Skilsloot en is waar die Jeneverbuurtje was.
 En dan 'n paar kilometer niks...



Tot by die fort, Fort de Schans:


My poging om een van die skepe in detail af te neem:

 

Ons was nie self bo-op die fort nie, maar het net daar langs verbygeloop die Sondagoggend (ook verby Fort Lunette en op pad na die Wezenputte). Die weer was... onsmaaklik, om die minste te sê, en die oumense en kinders was al moeg na ure se geloop. En ons moes nog betyds terug wees voor die kerkdiens om was.
My dogter was nie beïndruk met haar ouers se keuse vir Sondagoggend-aktiwiteit nie. Die wind het geloei en gesuis en deur jou bene gesny.
Hier is 'n foto van hoe die fort vandag lyk:



Sonsopkoms oor die dyk langs Fort Lunette ('n later opgerigde en kleiner fort tussen Fort De Schans en Oudeschild):



En 'n foto van die rede van Texel, geneem vanaf die dyk:

En 'n video, geneem vanaf dieselfde plek (dis die wind wat so raas):


Dit was heerlik om op die dyk te sit en te wonder wat alles deur my voorouers se gedagtes gegaan het, terwyl hulle gewag het op gunstige weer, sodat die skepe kon vertrek. En nou, 330 jaar later, het hul afstammelinge weer die plek besoek (en steeds gewag op gunstige weer).

Thursday, 3 December 2015

Vorderings

Die afgelope tyd het ek minder aandag aan die Stamboom kon spandeer as wat ek sou wou. Buiten die gewone chaos wat my lewe regeer, is ek ook besig om die komende familiebesoek te beplan. Ek het ook begin om 'n aantal mense op die SA Genealogie-poslys te help met hul soektogte (waarin ek snaaks genoeg meer en makliker vordering maak as my eie), wat natuurlik ook tyd in beslag neem.

(Anna) Maria Pieterse van Dijk.  

Ek is nog altyd opsoek na die verkeerdelik aangehaalde "MOOC 15/1 anno 1714", waarin daar blykbaar verwys word na Jan Bastiaanse se vrou as Maria Eli. Ek was optimisties dat dit moontlik in Catharina Greeff se 1714 testament sou wees. Burgert is met Anna Greeff getroud, wat 'n suster genaamd Catharina gehad het. Maar dit was nie raak nie.

Ek gaan nou probeer om langsamerhand ál die 1714-testamente te deursoek, asook dié van die betrokke persone, byvoorbeeld Jan Bastiaanse, Anna Maria de Leeuw (haar skoonma), ens. Sommiges is al reeds bestel, maar die Kaapse Argiewe het 'n maandelikse beperking van 20 bladsye per persoon. Dit is sowat 4-6 dokumente. Hierdie gaan duidelik 'n langtermynprojek wees.

Joost Pietersz. van Dijk

Nog altyd besig met die doopregisters van verskeie Isberg-agtige dorpies. Sal my vorderings daarmee later meer toelig.

Joost was 'n soldaat in diens van die VOC aan die Kaap tussen 1686 en 1691. As hy in die tyd uitgehuur is as kneg aan 'n vryburger, behoort daar 'n kontrak te wees daarvan by die Kaapse Argiewe. Ongelukkig is daar vir hierdie kontrakte slegs die vryburgers se name geïndekseer, en nie die knegte s'n nie, dus sal ek ál die kontrakte moet deursoek. Op die argiewe se soekenjin verskyn daar egter geen kontrakte vóór 1692 nie. Een van die poslyslede, Johan van Breda, wat my ook Catharina Greeff se testament gestuur het, gaan vir my uitvind daaroor. Aan die een kant hoop ek dat daar geen soldate as knegte uitgehuur is voor 1692 nie - dit sal my 'n hoop werk spaar.

Ons het 'n DNS-toets bestel wat hopelik meer lig sal werp op die haplogroep waaraan die Van Dyk's behoort (en uit watse deel van die wêreld Joost van stam).

Ons gaan ook in Desember op besoek by Texel, waarvandaan Joost en Burgert geseil het. Hierdie word my V.O.C.-vakansie.

Van Vuren

Ons gaan ook in Desember op besoek by Vuren, waarvandaan die Jansen van Vuuren-stamvader kom. Kiekies en verhale volg.

Doodloopstrate

Terselfdertyd sukkel ek ook nog met die volgende doodloopstrate in die stamboom. Ek het al kontak opgeneem met verskeie argiewe en persone, in sommige gevalle sonder sukses, in ander gevalle wag ek nog.

  • Magdalena Elisabeth Droskie (c1830-1911). Oumagrootjie van my oupagrootjie, Izak Matthys van Dyk.
  • Johan Adam Roos (1854-1873). Oupa van Oumagrootjie Tina van Dyk (née Nel).
  • Aletta Catharina Jansen van Vuuren (1816-1877?). Oumagrootjie Tina se een oumagrootjie
  • Johannes Hendrik van Wyk. Ouma Anna se pa. Sy pa was vermoedelik ook Johannes Hendrik van Wyk.
  • Johan Hendrik Breytenbach 1876-1926. Oumagrootjie Alida se pa. Ek het onlangs 'n sterfkennis van hom ontvang met die name van sy ouers: Izak Johannes Breytenbach en Elisabeth Maria Schoeman. Maar hulle is tot dusver ook doodloopstrate.
  • Jacomina/Jacoba Christina van Niekerk (1793-?). Schalk Willem Burger se Ouma aan vaderskant. Sy is ook Ouma Desiree Schoeman se oeroumagrootjie.
  • Magdalena Elizabeth de Villiers (1813-?). Ouma Alida se oer-oumagrootjie.
  • Petrus Johannes J. van Vuuren (?-1966) 
  • Miriam Pienaar (1908-1985)
  • Die Skotte en Engelse aan moederskant blyk ook nog steeds baie moeilik te wees om na te vors, voor hul koms na Suid-Afrika.

De Swart

Ek help ook 'n vrou met die navorsing van die stamvader Guillaume, oftewel Willem, de Swart. Hy is as 12-jarige reeds na die Kaap. Gewoonlik is slegs weeskinders só jonk toegelaat. Ek gaan vir die vrou 'n besoek bring aan die weeshuis se argief by Bergen op Zoom, waar hy gebore is, om te kyk of hy inderdaad daar was. Jammer genoeg is daar nie 'n De Swart in ons stamboom nie (sover ek kan sien - groot dele is natuurlik nog nie ingevul nie). Dis nietemin 'n baie interessante verhaal.

Tuesday, 3 November 2015

Opgedateer: Joost van Dijk (c1663-1718)

Ek het vandag Joost se inskrywing opgedateer. Daar is nog 'n aantal vrae wat ek hoop om in die toekoms te kan beantwoord, maar vir eers bied onderstaande 'n goeie blik op die wel en wee van ons stamvader.
In die toekoms wil ek nog kyk na:
  • Waar is Joost gebore en getöe?
  • Wat het hy van 1686-1690 in diens van die V.O.C. aan die Kaap gedoen?
  • Hoekom het hy en Helena nie kon trou nie?
  • Waar was die Ganse Craal presies geleë?
  • Hoekom is sy besittings verkoop?

Saturday, 17 October 2015

Vorderings

Die afgelope weke het daar baie gebeur met my navorsing: ten eerste het ek aangesluit by die SAGenealogie-poslys. Dis moeilik om jou 'n vriendeliker en meer behulpsame groep mense voor te stel. Na jare van alleen werk, is dit heerlik om inligting en idees te kan uitruil met ander mense.

Ek het uiteindelik die rekords van Izenberge, Wes-Vlaandere (1631-1681) klaar deurgewerk. My bevindings bespreek ek breedvoerig in hierdie plasing, asook watter moontlike plekke van herkoms ek in die toekoms aandag aan gaan gee.

Ek het geleer dat Joost en Burgert alleen na die Kaap gereis het, 5 jaar vroëer (en beide sowat 10 jaar ouer) as wat oorspronklik aangeneem is (Joost se bladsy moet nog opgedateer word om hierdie bevindings te weerspieël). Dat hul vader nie Jan Pietersz. geheet het nie en nie saam met hulle gereis het nie en dat die meisie wat deur die Geslagsregister as hul suster gesien is, eintlik Burgert se buite-egtelike dogter was.

Alhoewel ek nog besig is om die een of ander oor Joost Pietersz. uit te vind voor ek sy bladsy opdateer, begin ek ook nou kyk na sy seun, Sybrand (die seun van hom waarvan ons afstam). Ons het naamlik twee takke wat na Joost van Dijk (en Sybrand) lei, nie net deur Oupa Hennie se pa, Izak van Dyk, nie, maar ook een deur Oumagrootjie Tina. Izak van Dyk (en dus ook ons Van Dykies) was deur een van sy oumagrootjies óók 'n direkte afstammeling van Burgert van Dijk.

Ek sal ook graag meer wil leer oor die Van Vuuren-kant, maar, alhoewel die inligting oor die stamvader geredelik beskikbaar is,weet ek nog nie van watse een van sy kinders ons afstam nie (ek het nog nie die tak tot by hom kon trek nie). Vir al wat ek weet, leer ek dat sy aanvaarde geskiedenis net so vol foute as dié van Joost en Burgert is. Maar ek haak baie vas met die Van Vuurens...

Die Skotse McDonalds en Engelse Robinsons wat eers later hul verskyning gemaak het, wil ek ook nog in meer detail bestudeer, asook sommige van ons meer eksotiese, noemenswaardige of blootweg interessante voorouers.



Thursday, 15 October 2015

Herkoms van Joost en Burgert van Dijk

(Sien ook hierdie nuwer plasing wat spekuleer oor 'n Duitse herkoms.)

Bietjie meer as 'n jaar terug het ek begin met my missie om die Europese geboorteplek van die Suid-Afrikaanse Van Dyk-familie te bevestig. Ek het my soektog gebaseer op die aannames in J.H. van Dyk se Geslagsregister van die Broers Joost en Burgert van Dyk (1975): dat Joost en Burgert, saam met hul pa, Jan Pietersz., en hul suster Anna, in 1691 vanaf Izenberge (toe Ysenberg), Wes-Vlaandere, België, na die Kaap gereis het.

Hoe het J.H. van Dyk besluit op Izenberge? Hy haal die volgende drie bronne aan: die hersiende Geslagsregisters van ou Kaapse Families (1966, pp183-186), J. Hoge se Bydraes tot die Genealogie van Ou Afrikaanse Families (1958, pp39-40) en H.T. Colenbrander se De Afkomst der Boeren (pp 28, 34 en 92) (laasgenoemde maak egter geen melding van Izenberge nie).

Die enigste van hierdie bronne wat self verwysing maak na 'n oorspronklike dokument, is Bydraes tot die Genealogie van Ou Afrikaanse Families. J. Hoge skryf: 

Die stamvaders van twee families van Dyk was Joost Pietersz van Dyk en Burgert Pietersz van Dyk. Hulle was broers, geb. te Ysenberg in Vlaandere. (C.6, p.364)

Hierdie verwysingsdokument is waarskynlik 'n "Resolusie van die Politieke Raad van die Kaap die Goeie Hoop". Die dokumente word gekenmerk met 'n C as verwysingsletter, gevolg deur 'n syfer. Die resolusies van die betrokke tydperk is getranskribeer en beskikbaar op die webwerf van TANAP, 'n projek gestig deur die Nederlandse Nationaal Archief en die Universiteit van Leiden. Ek het daar geprobeer om die aangehaalde dokument, C6, p364, op te spoor, sonder enige geluk. Sedert 1958, toe Hoge se boek gepubliseer is, is sommige van die dokumente in die reeks hernommer. Ek het kontak opgeneem met die Kaapse Argiewe in die hoop om hierdie dokument tóg op te spoor (ek wag nog op 'n antwoord). Ek het wel 'n ander dokument in die resolusies ontdek wat na Joost en Burgert se herkoms verwys. Of dit dieselfde een is as waarna Hoge verwys, weet ek nie. Ek bespreek die dokument later in die artikel.

Indien daar nie dokumente is waarin uitdruklik verwys word na 'n persoon se plek van herkoms nie, gebruik 'n mens die persoon se toponiem. Toponieme is plekname, wat ook dikwels gebruik is as van. Dink maar aan van Vuuren, van Rensburg, van den Berg, ens. In die geval van Joost en Burgert word daar twee verskillende toponieme gebruik: van Dijk en, in Joost se geval, variante van van IJsberg.

Die pleknaam, hetsy as toponiem of verwysing in 'n dokument, is egter nie noodwendig die plek waar die persoon gebore en/of gedoop is nie. Moontlik het hy daar groot geword, al is hy nie daar gebore nie, of moontlik is dit slegs die plek waar hy gewoon het vóór hy na die Kaap gereis het. Hoe het ook al sy, dit is 'n beginpunt en, wanneer mens nie enige ander leidrade het nie, is dit dan ook die enigste beginpunt.

Toe ek begin het met my soektog, het ek slegs die Geslagsregister van die broers van Dyk gehad, wat aandring op Izenberge, Wes-Vlaandere as herkoms, dus het ek begin soek na die doopregisters van hierdie Belgiese dorpie. Met moeite en baie geluk, het ek dit opgespoor op die webwerf van die Belgiese Ryksargief.  Aan die hand van die beskrywing in die Van Dyk-Geslagsregister - Joost en Burgert as jong seuns in 1691, met Anna 'n klein dogtertjie van 11 - het ek geskat dat Joost en Burgert ongeveer 1675 gebore is. Moontlik 1675 en 1677/1678 (Anna se doopdatum word as 1680 aangegee). Hul vader, die vermeende Jan Pietersz., sou dan sowat 25 jaar ouer wees, gebore in ongeveer 1653. Ek het besluit om, vir die sekerheid, die jare 1631-1681 deur te gaan: miskien is hulle gebore uit 'n tweede huwelik, of was hulle die laaste van 'n groep van 10 kinders.
 
Soos ek al voorheen verduidelik het, is dit nie 'n maklike taak om die inskrywings daar te lees nie. Die twee pastore met wie ek so baie ure sou deurbring, Menere Flamour en Reijphins, se handskrif het dikwels veel te wense oorgelaat (so ook soms hul Latyn). Woorde is uitgelaat of afgekort en soms het die pastoor ook maar gesukkel om 'n naam wat hom onbekend voorgekom het, neer te skryf.

Gou het ek geleer dat die handskrif en Latynse woordeskat nie my enigste hindernis sou wees nie, maar selfs die name is verlatyns! Dit beteken dat Joost nie geskryf is as Joost nie, maar as Judocus. Maar dan het Latyns ook naamvalle, wat beteken dat Judocus weer Judocum geword het. Burgert (ook Burchard gespel in die tyd), kon geskryf word as Boissart, Bolle, Bollin, Bossaert, Bossin, Boussart of Bussin. (Vir redes wat ek in 'n volgende artikel sal beskryf, het ek onlangs besef dit sal nie baat om verder te soek na dooprekords vir Anna óf hul vermeende pa, Jan Pietersz. nie.)

Selfs al het ek 'n doopinskrywing vir 'n Joost of 'n Burgert gevind - hoe sou ek seker kon wees dat dit dieselfde persoon is? Sommige name was baie gewild en 'n patroniem soos "Pietersz" uiters algemeen. Maar ons Van Dyk-navorsers kan baie bly wees dat ons nie één nie, maar twee verwante stamvaders het. Met ander woorde, as ons 'n doopinskrywing van 'n Joost kan kry, plus 'n doopinskrywing van 'n Burgert, met dieselfde ouers, dan is ons al 'n stappie verder.

Oorspronklik het ek elke inskrywing woord-vir-woord getranskribeer en vertaal. Dit het ure (en maande) geduur, maar ek het daarby gebaat om die nodige Latyn te leer en gemaklik te raak met die handskrif en skryfwyses van die plaaslike pastore. Namate die tyd verbygegaan het sonder enige sukses, het ek begin om slegs die bladsy- en inskrywingnommer, doopnaam en datum te noteer. Na meer as 'n jaar se werk, kan ek egter met volle vertroue verklaar dat daar géén Burgert (of Boissart ens.) in Izenberge gedoop is in die gegewe tydperk nie (ook niemand met die van van Dyk nie). Daar is wél 'n Judocus in 1663 gebore, nog een in 1664, twee in 1666 en nog een in 1671. Wat van die Josephius van 1664, sou hy ook 'n moontlike "Joos" kon wees? Slegs een Judocus se pa se naam het hoegenaamd met 'n P begin: Petrus Bastinck. Alhoewel geen van hierdie inskrywings die van van Dyk gedra het nie, is dit natuurlik moontlik, selfs waarskynlik, dat die "van Dyk"-deel eers in Suid-Afrika in gebruik geneem is. As onderstaande wél ons Joost was, sou ek verwag het dat hy en Burgert die van Bastinck sou voortgebruik het in Suid-Afrika.


8ste Januarie 1671.
Ek die ondertekende, het gedoop Joost, seun van Petrus Bastinck en Joanna Terman, eggenotes. Gebore die 7de Januarie.  Die doopouers was Joost Calliaus en Jacoba, vrou van Richard de Ruijtere uit Isenb.  J. Reijphins, plaaslike pastoor. (Parochieregisters - doopakten 1634-1682. Izenberge, parochie Sint-Mildreda.)

Gesien die bestaande "Bastinck"-van en die feit dat hierdie ouers ook ander kinders daar gedoop het, maar geen Burgert nie, het my ook laat besluit dat hierdie nie die doopinskrywing van Joost is nie.

Nader aan die einde van my soektog het ek egter selfs begin wonder oor die Izenberge-oorsprong. Ek het daarom besluit om te gaan kyk na die kronologiese gebruik van toponieme, patronieme en plekname verkry uit verskeie oorspronklike dokumente. Die resultaat was verassend:



Burgert Peters - 1686 VOC-skeepssoldyboek
Borchard Pietersz - 1691 C. 21, pp. 17-23.
Borgert Pietersz - 1691 monsterrol
Borgert Pietersz - 1694 VOC-kontrak
Burchert Pietersz  - 1697 MOOC 8/1.31
Borgert Pietersz - 1700 VOC-kontrak
Burgert Pieterse van Dijk - 1701 trourekord
Burgert Pietersz van Dijk - 1701 VOC-kontrak
Burgert Pietersz  - 1702 monsterrol
Borger Pieterse van Dyk - 1702 doopgetuie
Burgert Pietersz - 1703 VOC-kontrak
Burgert Pieterz van Dyk - 1704 dooprekord
Burghert Pieterse - 1706 dooprekord
Burger Pieterse van Dijk - 1709 dooprekord
Burgert Pietersz. van Dijk - 1711 boedelinventaris
Burgert Pietersz van Dijk - 1711 VOC-kontrak
Burgert Pietersze van Dijk - 1712 boedelinventaris
Burgert Pietersz van Dijk - 1712 monsterrol
Burgert Pierss van Dijk - 1713 monsterrol
Joost Pietersz: - 1686 VOC-rekord
Joost Pietersz - 1691 C. 21, pp. 17-23.
Joost Pietersz - 1691 monsterrol
Joost Pietersz - 1693 VOC-kontrak
Joost Pieters - 1694 VOC-kontrak
Joost Petersen - 1695 VOC-kontrak
Joost Pieterse van Isbergh - 1695 monsterrol
Joost Pieterz van Ysenberg - 1697 dooprekord
Joost Pietersz: van Eijsenbergh - 1697 VOC-kontrak
Pieter Joost van Dyck - 1699 dooprekord
Joost Pietersz van IJsberg -  1699 VOC-kontrak
Joost Pietersz van Ijsenbergh - 1700 VOC-kontrak
Joost Pieterz van Dyk - 1701 doopgetuie
Joost Pietersz van Dijk - 1702 monsterrol
Joost Pieterz van Dyk - 1705 dooprekord Johannes
Joost Pietersz van Dijk - 1712 monsterrol
Joost Pieterse van Dijk - 1713 monsterrol
Joost Pietersz. van Dijk - 1714 dooprekord
Joost Pietersz van Dijk - 1716 dooprekord
Joost Pietersz van Dijk - 1718 dooprekord

Daar is ook na hulle in ander dokumente verwys, byvoorbeeld boedelinventarisse en vendusierolle, maar dit sou te lank neem om elke liewe inskrywing hier te lys. Ek het egter nog nie 'n ander inskrywing teëgekom wat hierdie patroon teësit nie.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat Joost en Burgert die van van Dijk eers in die jare 1699-1701 begin gebruik het, voor die tyd was hulle slegs bekend onder hulle patroniem "Pietersz" en Joost, in die jare 1695-1700, as Joost Pietersz van Ijsenbergh.

As ons die toponieme ondermekaar sit, lyk dit so:
Isbergh (1695 monsterrol)
Ysenberg (1697 dooprekord)
Eijsenberg (1697 VOC-kontrak)
IJsberg (1699 VOC-kontrak)
IJsenberg (1700 VOC-kontrak)

Ek het egter drie ander dokumente ontdek waarin hulle herkoms ook genoem word. Die broers se inskrywings in die V.O.C. se skeepssoldyboeke is iets waarna ek letterlik jare lank na gesoek het. Ek het begin wonder of dit is omdat hulle moontlik geval het onder die handjievol V.O.C.-skeepsoldyboeke wat in die laaste eeue verlore gegaan het. Om een of ander rede het ek toe een aand besluit om 'n wyer net te gooi en die 1691-datum van J.H. van Dyk te ignoreer.

Aitsa.

Hier is die gegevens van Joost en Burgert soos dit verskyn op die webwerf van die Nederlandse Nationaal Archief:

Gegevens van Burgert Peters uit Isberg
Datum indiensttreding:    24-05-1686   
Functie bij indiensttreding:    Soldaat   
Uitgevaren met het schip:    Huis te Zilverstein   
Maandbrief:    Nee   
Schuldbrief:    Ja
Datum uit dienst:    28-12-1690
Reden uit dienst:    Vrijburger
Waar uit dienst:    Kaap de Goede Hoop

Opmerkingen:    1720 overleden       

Gegevens van Joost Pietersz: uit Isberg
Datum indiensttreding:    24-05-1686  
Functie bij indiensttreding:    Soldaat  
Uitgevaren met het schip:    Huis te Zilverstein  
Maandbrief:    Nee
Schuldbrief:    Ja  
Datum uit dienst:    28-12-1690
Reden uit dienst:    Vrijburger
Waar uit dienst:    Kaap de Goede Hoop

Opmerkingen:    1718 overleden      
     
Asof ek nie reeds 100% seker was dat hierdie inskrywings op mý Joost en Burgert betrekking gehad het nie, is die rekords selfs opgedateer om hul sterfdatums in te sluit.  Beide Joost en Burgert kom, volgens hierdie inskrywings, uit "Isberg" (geen land of provinsie genoem nie). En hulle het nie as jong seuns in 1691 na die Kaap gereis nie, maar as soldate in 1686! Uit 'n genealogiese oogpunt, is dit jammer dat hulle geen maandbriewe gehad het nie - 'n maandbrief was in besit van 'n ouer, eggenoot of kind, waarmee tot drie maande van die betrokke V.O.C.-werker se betaling aan die besitter van die maandbrief uitbetaal is. Nie Joost óf Burgert het dus iemand agtergelaat vir wie hulle finansiëel verantwoordelik gevoel het nie.

Met die wete dat die broers dus al reeds baie vroeër in die Kaap was (en ook elk ten minste sowat 10 jaar ouer as aanvanklik geskat), het ek ál die V.O.C.-dokumente in die TANAP-argiewe deurgegaan. Daar vind ek toe die Resolusie van die Politieke Raad, C. 21, pp. 17-23. (1691), waarin hulle deur die V.O.C. as houtkappers aangestel word (en nie boere, soos J.H. van Dyk aangeneem het nie). In hierdie dokument word daar genoem dat hulle van Isenberg is ("Joost Pietersz en Borchard Pietersz van Isenberg") - weer sonder land of provinsie. Dus kan ons bostaande lys opdateer:

Isberg (1686 skeepsboek)
Isberg (1686 skeepsboek)
Isenberg (1691 resolusie)
Isbergh (1695 monsterrol)
Ysenberg (1697 dooprekord)
Eijsenberg (1697 VOC-kontrak)
IJsberg (1699 VOC-kontrak)
IJsenberg (1700 VOC-kontrak)

Toe ek m.b.v. die bogenoemde inskrywings leer dat die broers van Texel, Noord-Holland, af gevaar het, het dit my weer laat begin wonder oor die Belgiese Izenberge, as Joost en Burgert se geboorteplek. Texel is immers 277 km vanaf Izenberge (soos die kraai vlieg), en daar was baie ander hawens tussen-in waarvandaan die V.O.C. ook gevaar het. Dit, gepaard met die feit dat Burgert nie 'n naam is wat in die omgewing van Izenberge in die 1660's voorgekom het nie, het my laat kyk na ander moontlike plekke van oorsprong.

Die volgende dorpies is dus plekke met soortgelyke name, waaraan ek meer aandag wil bestee:

Ysbrechtum - Friesland, Nederland

Ysbrechtum is opmerklik gesien sy ligging - uiters naby aan Texel - asook die feit dat Burgert en veral Joost algemene name in Friesland was in die tydperk. Ook is daar hier geen tekort aan dyke nie (alhoewel ons nie met sekerheid kan sê dat hul plek van oorsprong hul uiteindelike van geïnspireer het nie). Helaas is die doopboeke van Ysbrechtum eers vanaf die begin van die 1700s beskikbaar.

Isselburg (Ysselberge), Duitsland

Isselburg is ook opmerklik vanweë sy ligging - in noord-wes Duitsland aan die Nederlandse grens. Daar was ontsaglik baie Duitsers in diens van die V.O.C. Die doopboeke van Isselburg is op mikro-film beskikbaar, maar daarvoor sal ek die argiewe in Duitsland moet besoek, aangesien dit nog nie aanlyn beskikbaar is nie.

Isbergues (Isberg), Nord-Pas-de-Calais, Frankryk

Hierdie dorpie se naam is vir my net so opvallend as die van Izenberge in Wes-Vlaandere. Isbergues het in dié 1600s as Isberg tot Nederland behoort, maar is tans in Frankryk. Pogings om die doopregisters op te spoor (indien hulle nog bestaan) is gaande.

Isenburg, Nordrhein-Westfalen, Duitsland en
Isenburg, Rheinland-Pfalz, Duitsland

Ek het nog nie tyd gehad om in diepte na hierdie twee Duitse dorpies te kyk nie. Ek vermoed dat enige doopregisters, indien hulle bestaan, nog nie aanlyn is nie.

Skandinawië

(Met "Skandinawië" bedoel ek hier nie slegs Noorweë, Denemarke en Sweden nie, maar ook Finland.) Daar is talle Skandinawiese stamvaders: Cornelissen, Griesel, Maartens, Heyberg, Hougaard, Londt, Pansegrouw, Brand, Grove, Sandberg, Knoesen, Oelofse, Andersen, Appelgyrn, Blomerus, Everts, Toerien, Trichardt en Erlank - om maar 'n paar te noem.

'n Moontlike Skandinawiese oorsprong is noemenswaardig, dink ek, gesien 1) die voorkoms van die van "Isberg/Isenberg" in hierdie gebied in die 1600s, 2) die feit dat hierdie lande ook patronieme gebruik, soos Joost en Burgert aan die begin uitsluitlik gedoen het en 3) dat die name Joost (soms as Just) en Burgert (soms as Birgir/Borger/Berger), ook in hierdie lande voorkom. Jammer genoeg is ek nie die moedertale van hierdie lande magtig nie, dus kan ek nie dadelik op soek gaan daar na soortgelyk genaamde dorpies nie en sal ek nie weet waar om te begin om te soek vir doopregisters nie.

Elders

Moontlik is Joost en Burgert tóg van Izenberge in Wes-Vlaandere, maar hulle kon net so goed uit een van die bogenoemde dorpies gekom het. Ek het ook gewonder of die dorpie Isberg/Ysenberg miskien glad nie meer bestaan nie. In Bert Stulp se vyf-delige reeks boeke "Verdwenen dorpen in Nederland" kom in elk geval geen dorpie met 'n soortgelyke naam voor nie. Maar dit beteken nie dat dit miskien 'n verdwene dorp uit 'n ander land is nie.

Maar ek sal bly soek na hierdie naald in 'n genealogiese hooimied.