Saturday 15 December 2018

'n Besoek aan Isenbruch en Dieck in Duitsland


Een van die handjievol lesers van hierdie blog, André van Dyk, het my daarop gewys dat Isenbruch en Dieck, geleë in die Duitse streek Selfkant, ook 'n moontlike herkoms vir die broers Joost en Burgert van Dyk kon wees.

André het my reeds vroeër daarop gewys dat Joost se boedelinventaris verwys na 'n "Hoogduyts Gebede boekje" en dat hy 'n Duitse herkoms vermoed. Met die wete dat daar Duitse vanne soos Dieck en Dieckmann is, het hy gaan rondkrap op die Duitse Wikipedia en afgekom op die gehuggie Dieck, geleë sowat ses kilometer wes-suidwes van 'n dorpie met die naam Isenbruch. Om te recap: Joost en Burgert is in die skeepsoldyboek opgeteken as Joost Pietersz en Burgert Peters, beide van Isberg. Soos met baie ander V.O.C.-werknemers, is daar 'n moontlikheid dat hulle name, van en plek van herkoms verNederlands is. Met ander woorde, hulle sê een ding, en die Nederlandse V.O.C.-amptenaar skryf op wat hy hoor. Dit word duidelik as mens kyk na al die ander dokumente waarin die broers se name en plek van herkoms genoteer staan: Pietersz, Peters en Petersen; Isberg, Ysenberg, IJsberg, Eijsenbergh. Arme Burgert se naam is op elke moontlike manier verdraai, van Burgert, tot Borgert to Borchard (en variante daarvan, soos Burchert). Ongeveer 1699-1700 het die broers die van Van Dyk aangeneem. Ek vermoed sterk dit was om hulself (en hul kinders) as familie te identifiseer tussen al die hordes Pieters/Peters-persone aan die Kaap. André se vermoede is dus dat "Isberg" verwys na Isenbruch en "van Dyk" kan verwys na Dieck.

Mens kan ook 'n beter idee kry van hoe mense hulle name uitgespreek het deur hulle handtekeninge na te gaan. Interessant genoeg het die broers nooit hulle name as "van Dyk" geteken nie, maar altyd met hulle patroniem. Burgert het nie baie kon skryf nie: aanvanklik het hy dokumente met 'n kruis geteken, later met 'n BP (aanvanklik uiters bewerig, later met meer selfvertroue). Joost het as Jost of Just Peters geteken (ook nou nie die mooiste handskrif nie), en op testament as Jost (of Just) Peters van Isenb..g (laaste letters nie afsonderlik te identifiseer nie).


Net om seker te maak dat Burgert nooit sy volle naam leer skryf het nie, het ek weer gaan kyk na al die beskikbare dokumente, en per ongeluk Joost se seun Burgert se testament oopgemaak. Groot was my verbasing om te sien dat hierdie seun sy naam as Burger van Dieck geskryf het (was ook redelik verbaas dat hy hoegenaamd kon skryf).




Burgert was Joost se eerste seun en dit is dus waarskynlik dat hy van sy ouers leer praat het (anders as Joost se jongste kinders, wat hom nouliks geken het). Dit beteken dat daar 'n goeie kans is dat Joost (en moontlik ook Burgert) hul van as van Dieck uitgespreek het, wat die kans vir Dieck versterk.

So, ons het 'n ooreenkoms vir Peters/Pietersz, vir Dyk/Dieck en vir Isenberg/Isenbruch. Maar wat van hulle voorname? Het hulle in die streek voorgekom in die tyd? Ongelukkig is dit nie so maklik om agter te kom nie, aangesien die kerkrekords uit die tydperk nie meer bestaan nie (of nog êrens, onontdek, in 'n stowwerige argief lê). As ons egter ingedagte hou dat Isenbruch teen die grens van Limburg (die suidelikste provinsie van Nederland) lê, kan ons gaan kyk tussen die beskikbare rekords van daardie provinsie (wat wél vir die tyd beskikbaar is). As mens daar soek (www.allelimburgers.nl), is dit duidelik dat beide name wel deeglik in die gebied voorkom.

Omdat die DTB-boeke (doop-, trou- en begrafnisboeke) van die kerke waartoe Dieck en Isenbruch behoort vir die betrokke tydperk ontbreek, sal enige moontlike papierspoor wat na hulle verwys gesoek moet word in Duisburg. Dit is waar die argiewe van Selfkant gehuisves word. Die argiewe is helaas nie aanlyn beskikbaar nie - selfs die indeks van die argief is nog nie volledig aanlyn beskikbaar nie. Dit is dus 'n missie vir 'n ander jaar (Duisberg is ver en dit sal 'n paar dae neem om die argiewe deur te gaan), maar in die tussentyd het ek dit goedgedink om 'n besoek aan Selfkant te bring en 'n gevoel te kry vir die plek.

Selfkant is die mees-westelike deel van Duitsland, teen-aan die grens van die suidelike deel van Nederland:

 Die grens, in donkergrys loop Noord tussen Echterbosch en Waldfeucht en suid onder Gangelt.




Isenbruch is links, teen die grens met Nederland. Dieck is regs, ongeveer waar die "Hongener und Saeffeler Bruch" is. Isenbruch is 'n klein dorpie, met ongeveer 308 inwoners. Dieck is nog kleiner, 'n gehuggie met met sowat 10 inwoners: slegs 'n paar plase en 'n koffiewinkel (Café Diecker Fahrradtreff op die kaart).


Isenbroick (Isenbruch, bo Susteren) op 'n kaart in 1747. Dieck is geleë in die "Zafel Bosch", tussen die E en J.
(Carte particuliere des environs de Maeseyck Stochem et Hinsberg, gedruk deur Covens & Mortier.)

Die onlangse geskiedenis van Selfkant, alhoewel nie van genealogiese belang nie, is tog interessant. Selfkant en Maasland (die Nederlandse gebied net oor die grens) is deur die eeue al verbind of verenig gewees, hetsy polities of kerklik. Hulle was byvoorbeeld beide deel van die Hertogdom Jülich, waarvan bostaande kaart geteken is. Met die Kongres van Wenen in 1815 en die ontstaan van die Duitse Statebond, is 'n grens getrek wat die streek geskei het. Van toe af was Selfkant deel van die Duitse Statebond, en die dorpe wes van die grens, deel van die Hertogdom van Limburg.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Duitsland die gebied aan Nederland geskenk, as kompensasie vir die verliese wat Nederland tydens die oorlog gely het. Vir die inwoners van Selfkant was dit om't ewe: beide Maasland en Selfkant besig sowieso dieselfde dialek en het 'n gedeelde kultuur. Des te meer, noudat hulle deel van Nederland was, het die inwoners skielik toegang gehad tot koffie en tabak, iets wat relatief skaars was in na-oorlogse Duitsland. Die huise en strate is as deel van Nederland beter herbou en in stand gehou. Op 1 Augustus 1963 word die gebied egter weer deur Duitsland teruggekoop. Handelaars het trokke en huise vol koffie, sigarette en ander smokkelware volgestop en gewag vir die klok om middernag te slaan. 23:57, 23:58, 23:59 en siedaar! Tonne produkte vir die Duitse mark is die land inge"smokkel" - die handelaars het geen belasting daarvoor hoef te betaal nie. Die inwoners het redelik bedrieg gevoel en besluit om 'n esel as eerste voetganger oor die grens te stuur.


En is dat nou ons kleine Zelfkantje?! Spotprent uit 'n Nederlandse koerant van 1949.


 Die eerste grensoorgang in 1963, na Selfkant weer aan Duitsland behoort het.


In Selfkant het ons gebly in die Gasthof Peters, 'n herberg wat al sedert 1650 bestaan het en al 'n paar eeu diens doen as herberg. Die gebou het eers aan ander families behoort, waaronder die Familie Welschen in 1650 en daarna die Familie Reynders. Vóór 1824 was die herberg se naam Dyks  - in hierdie jaar het Leonard Peters met die eienaresse, Maria Dyks (!), getrou, en het die herberg die eerste keer die naam Peters gekry. (Deur hierdie paartjie se stamboom te ondersoek, kan mens moontlik 'n gemeenskaplike voorouer van die Van Dyk-broers kry.)

Ek het oorspronklik gehoop om op die Sondag by die twee kerke in te sluip ('n kapel in Isenbruch en 'n kerk in Saeffelen, waartoe Dieck behoort). Ek het iets soortgelyks gedoen tydens ons besoek aan Texel 'n paar jaar terug. Jammer genoeg moes ek toe leer dat die hele Selfkant - 'n uiters streng godsdienstige streek - elke dag kerk het, maar elke dag in 'n ander dorpie. Die kerke wat ek wou besoek, se beurte was in die week, en nie in die drie-dae tydperk wat ons die plek besoek het nie.

Elke oggend om ses-uur is ons wakker gelui deur die streek se kerkklokke, wat die inwoners herinner dat dit tyd is om hul dag te begin met gebed. Die klokke is ook ses-uur die aand weer gelui. By die deure is in kryt, of mb.v. van plakkers, die jaartal, plus die letters C+M+B geskryf, 'n tradisie waarmee die huis vir die jaar geseën word. My dogter het die eerste ete by die Gasthof deurgebring deur al die gekruisigde Jesus-beeldjies teen die muur te tel (nege, as ek reg onthou).

 
Hierdie streng-gelowigheid is ook te sien by die begrafplase. Die grafte is almal, sonder enige uitsondering, uiters netjies en versorgd. Ons het drie begrafplase besoek om te sien of die name Peters/Pieters of Van Dyk nog daar voorkom. Peters is 'n baie algemene naam in die omgewing van Dieck, maar daar was nie een Peters-graf naby Isenbruch nie.


'n Peters-graf in Höngen, aangrensend met Dieck.

Die blou riviertjie op die kaart, wat 'n dyk genoodsaak het (waarna die naam Dieck verwys), is die Saffelbeek, of Saeffelerbach in Duits. Hierdie stroompie stel vandag nie baie voor nie, of hy in die verlede bruisender was, weet ek nie. Dit is wel so dat ons op die oomblik een van die droogste jare in die geskiedenis beleef, dus is die rivier waarskynlik gewoonlik hoër. Mens kan egter aan die bank sien dat hy selfs as hy vol is, nie baie breed is nie:

Die volgende stap is om die argiewe in Duisburg te besoek (moontlik dat die argiewe in Sittard ook van hulp kan wees). Aangesien kerkrekords van die tyd nie meer beskikbaar is nie, kan mens kyk na boedelaktes, eiendomsaktes of enige ander burokratiese dokumente van die tydperk wat vandag nog bestaan. Dit kan ook loon om te soek vir genealoë in die streek op Duitse genealogie-forums, wat Dyks/Dieck en Peters navors.

Enige vordering sal gemeld word.

Friday 17 August 2018

Indeksdatabasis

Soos baie ander stamboomondersoekers, wemel my fisiese en digitale boekkaste met geskiedkundige bronne. En telkens as ek inligting soek oor iemand, moet ál die bronne - of in ieder geval dié wat die betrokke tydperk dek - weer van vóór af deursoek word.

Dit het my so 'n tyd terug laat dink om 'n alles-omvattende databasis te skep, waarin ek slegs 'n naam hoef in te tik, en die komper dan vir my sal kan sê of en waar ek die persoon kan terugvind in my databasis.
Nou is dit miskien bietjie té ambiseus; ek het immers letterlik honderde boeke. En na ek twee algemene geskiedenisboeke verwerk het, het ek besef ek moet die ding anders aanpak.

Daar is drie of vier soorte boeke (volgens my) wat waarde het vir 'n genealoog (buiten geslagsregisters) :
1. Outydse reisbeskrywings, waar die skrywer moontlik op 'n voorouer se plaas oornag het, ens.. Selfde geld vir boeke oor 'n belangrike gebeurtenis in die geskiedenis wat vanuit een persoon se oogpunt vertel word. 
2. Boeke oor gespesialiseerde onderwerpe. As jou voorouers 'n wynboer, of 'n dominee, of 'n onderwyser, of ander spesialis was (moontlik sonder dat jy daarvan weet) word hy/sy moontlik genoem in skrywes oor (die geskiedenis van) sy vak.
3. Plaaslike geskiedenisboeke. Byvoorbeeld oor die geskiedenis van 'n spesifieke stad/kontrei. 
4. Boeke wat oorspronklike dokumente bevat, byvoorbeeld dagboeke of onderhoude.

Met bostaande ingedagte het ek weereens my boekrakke deurgekyk en besluit op sowat 20 boeke wat ek dink aan die vereistes voldoen en hulle indekse in 'n databasis verwerk. Dit het 'n wyle geduur. 

Die skakel hiervoor is:


Die boeke wat verwerk is, is:
        1. Belangrike Kaapse Dokumente: Memoriën en Instructiën 1657-1699
        2. Belangrike Kaapse Dokumente: Uit die Raad van Justisie 1652-1672
        3. Precis of the Archives of the Cape of Good Hope: Journal 1662-1670
        4. Precis of the Archivesof the Cape of Good Hope: Journal 1699-1732
        5. Precis of the Archives of the Cape of Good Hope: Letters Received 1695-1708
        6. Precis of the Archives of the Cape of Good Hope: Letters Despatched, 1696-1708
        7. Het Dagboek van Adam Tas (1705-1706)
        8. De Kaap de Goede Hoop: een Nederlandse vestigingskolonie, 1680-1730
        9. The Shaping of South African Society: 1652-1820
        10. The Afrikaners: Biography of a People
        11. Education in South Africa, 1652-1922
        12. Geschiedenis van de Gemeente Swellendam 1798-1899
        13. Reizen in Zuid-Afrika I, Tochten naar het Noorden: 1652-1686
        14. Reizen in Zuid-Afrika II, Tochten naar het Noorden: 1686-1806
        15. Reizen in ZA III, Tochten langs die ZO-kust en naar het Oosten: 1670-1752
        16. Reizen in ZA IV, Tochten in het Kafferland: 1776-1805
        17. Kaapse Wyn & Brandewyn 1795-1860
        18. Geschiedenis, werken en streven van S.P.E Trichardt 1811-1907
        19. Kerkelijk en Godsdienstig leven der Boeren na den Grooten Trek 1837-1914
        20. De Boerenoorlog [1884-1902]
        21. Oudstryder-herinneringe van die Anglo Boereoorlog (1899-1902)
        22. Vereeniging [1892-1968]

Nie alle boeke het indekse gehad nie. Ek het met groot waardering gebruik gemaak van die indekse deur Karel Schoeman, wat op Daniel Jacobs se webwerf beskikbaar is (gendata.co.za). Sommige ander boeke het reeds indekse gehad, terwyl ek vir die res self indekse geskep het. 
 
Ek is besonders bly oor my eie indeksering van Oudstryders se herinneringe m.b.t. die oorlog (ses volumes). Dit was 'n uiters emosionele taak, maar bevat baie waardevolle inligting. Ek hoop om in die komende weke stukkies daaruit hier te deel.

By die bronnelys word skakels verskaf vir boeke wat digitaal beskikbaar is, en inligting om dié wat nie is nie, op te spoor.