Monday 11 January 2016

Besoek aan Texel, Nederland

Die naweek vóór Kersfees het ek en my man my ouers na Texel geneem, 'n eiland in die Noordooste van  Nederland. Dit is die eiland waarvandaan Joost en Burgert Pieterse (later van Dyk) as soldate in diens van die V.O.C. op 24 Mei 1686 na Suid-Afrika geseil het, met die skip Huis te Silversteyn.

Texel is die grootste van die eilande in die Waddesee en word "Tessel" uitgespreek. (Die rede hiervoor is 'n taalkundige interessantheid - tydens 'n geskiedkundige klankverandering in Nederlands is alles x-klanke verander na s, dink maar aan die Engelse en Duitse "fox/Fuchs" en "ox/Ochs" in vergelyking met die Nederlandse/Afrikaanse "vos" en "os".)

Links: die ligging van Texel m.b.t. tot Nederland (noordwes). Regs: Texel, met Oudeschild aan die suidooste.

Texel in 'n 1725-reproduksie van 'n kaart uit 1691.
Op Texel het ons gebly in die dorpie Oudeschild - in die 17de eeu slegs bekend as 't Schilt.

Oudeschild is die dorpie wat as basis gebruik is vir die Rede van Texel, waarvandaan baie van die V.O.C. se skepe vertrek het ('n "rede" is 'n veilige anker- of aanlêplek vir skepe). Hierdie rede het vanaf Oudeschild gestrek tot by Fort de Schans. Die gebied van De Schans na die suide strek vandag in 'n lang, reguit lyn, maar destyds was daar baie meer van 'n inham, alhoewel hierdie nie bevaarbaar was nie a.g.v. sandbanke. As mens 'n destydse kaart met 'n moderne een vergelyk, het die eiland se aangesig al drasties verander.
 
Oudeschild is vandag nog baie klein, met sowat 1100 inwoners. In die tweede helfte van die 1600's was hy ongeveer dieselfde grootte of selfs kleiner en het maar uit twee parallel strate bestaan: een langs die seedyk (tans De Ruiterstraat) en een waarin die kerk gestaan het (vandag Trompstraat).

Zoom by die kaart hieronder in om 'n goeie beeld te kry van Oudeschild. Die gekleurde merkers is plekke wat ek hier onder bespreek.

 
Die strate was verbind met stegies, waarvan een deurgeloop het as 'n pad na die "Wezenputten" - putte waaruit die skepe se watervoorraad teen betaling gehaal is. Die Weeshuis in die dorpie Den Burg was die eienaar van die putte (vandaar die naam) en die geld is dan ook gebruik vir die weeshuis. Nie slegs drinkwater nie, maar ook skape (waarvan daar ook nog vandag baie op Texel rondloop) is op die skip geneem, om geslag te word as vars vleis benodig is.


Daar was oorspronklik vyf putte, maar vandag is daar slegs twee oor. Die water is met behulp van 'n pomp in houtvate gegiet. 

Oupa wonder of ons nie dalk ook bietjie water kan uitkry nie.

Die water het 'n hoë ystergehalte (sigbaar aan die rooi-bruin kleur), waardeur dit langer houdbaar was as byvoorbeeld die soetwater wat in Amsterdam verkrygbaar was. Die vate is met bootjies op die sloot, die Skilsloot, na die dyk gevoer. Die sloot was toe baie groter en dieper as vandag. 'n Skip van 360 ton en 300 bemanningslede het vir 'n reis na die Ooste 170 "leggers" van elk ongeveer 150 liter water geneem. Dit was genoeg tot by die Kaap de Goede Hoop, waar nuwe water weer opgelaai is.

Die Skilsloot met sy rooi-bruin water.
Die sloot het nie tot by die dyk deurgeloop nie, maar waar dit die dorpie ontmoet het, is die vate uit die bootjies getel en na die dyk gebring. Hier het 'n bedrywige atmosfeer geheers en was die meeste herberge gevestig. Die seelui se gedrinkery het daartoe gelei dat die gebied bekend geraak het as die Jeneverbuurtjie.  Dit is ook die Kollegat genoem, 'n "kol" is 'n prostituut en 'n "gat" is 'n klein deurgang. Dit was veral terugkomende seelui wat hier hul verdiende geld geruil het vir 'n paar minute se plesier. Die straat staan vandag bekend as 't Buurtje. Geen van die oorspronklike herberge of ander geboue in hierdie buurt bestaan meer nie en vandag is daar slegs huisies.

Die punt waar Trompstraat in die Jeneverbuurtje vasloop.
En die Jeneverbuurtje van die onderkant, waar hy die De Ruyterstraat kruis.

Die uiteindelike ondergang van die V.O.C. aan die einde van die 18de eeu het ook 'n einde aan die welvaart van Oudeschild gebring. Daar was nie meer geld om huise of ander geboue te onderhou nie en vandag is daar slegs een gebou in die hele dorp wat nog uit dié tyd stam - die Zeemanskerk van 1650. Die dorpie het miskien bietjie gekwyn, maar nooit heeltemal verdwyn nie - die hawe wat daar in 1778 aangelê is, was tot 1962 dié ankerplek van skepe en bote afkomstig van die vasteland.

Die Zeemanskerk
Die kerkie se dienste was baie gewild, veral onder vertrekkende seelui - waaraan die kerk sy naam te danke het. Die dienste was só vol, dat 'n uitbreiding genoodsaak is, en die noordelike aanbou is in 1740 teen die bestaande kerk aangebring. Die kerktoring het oorspronklik 'n ui-vormige koepel gehad, maar na weerlig die oorspronklike toring in 1903 vernietig het, is gekies vir 'n meer tradisionele ontwerp.

Die agterkant met die hoofingang. Die aanbou loer aan die regterkant uit.
Die kerkie word steeds as kerk gebruik en nie as museum nie (wel een dag per week in die somermaande), dus het ons gewag tot die Sondag ná die kerkdiens en gou ingeglip en die dominee gevra of ons bietjie foto's mag neem.

Binne-in is daar klomp mense onder die kerkvloer begrawe (8 rye van 13 grafte en in die nuwer deel 3 rye van 9 grafte) en word die eeue-oue grafstene as vloerteëls gebruik, wat beteken dat sommige van hulle jammer genoeg onleesbaar begin raak.

Die grafsteen van die kerk se eerste dominee, Antonius Damburgh.

Nog 'n grafsteen/vloerteël.
 
Waar die plafon van die kerk die toring ontmoet, hang 'n 10 Gebooie-bord wat reeds sedert 1655 daar hang. Die bord was aan die kerk geskenk deur 'n Skotse seeman, Richard Robberts van Glasgow, wat in Nederland woonagtig was.

Die bord afgeneem van die linkerkant...

... en van regs.

Die kansel is ook nog die oorspronklike kansel, met 'n maritieme tema.


Detail van die kansel.
Hier is twee foto's wat die binnekant van die kerk goed weergee:




Die tweede oudste gebou in Texel is 'n herberg wat eers in 1896 gebou is, ná die eeue-oue, 3-verdieping herberg "de Zeven Provinciën" gesloop is omdat dit te vervalle was. Hierdie gesloopte herberg is waar baie seelui geëet en geslaap het voor hulle lang seetogte. Ek vermoed dat slegs die offisiere, krygsrade en ander van hoë rang hier gebly het, terwyl die res heenkome in die Jeneverbuurtje gesoek het. (Die nuwe herberg was gesluit toe ons daar was.)
 
Na die ondergang van die V.O.C. het baie eilandbewoners hul inkomste verdien as "jutters" - mense wat die kus fynkam vir goed wat uit die see spoel. Die Kaap Skil is 'n maritieme en juttersmuseum, waar mens onder andere kan sien watse soort goed alles daar uitspoel.



Die museum het ook 'n voorbeeld gehad van 'n slaai- en kruietuintjie wat saam aan boord 'n skip geneem sou word. Hierdie tuintjie bevat onder ander snybeet, pietersielie, seldery, winterkers, lepelblad, spinasie, radys en slaai.

 Maar my grootste rede om die museum te besoek was 'n model-tentoonstelling van die Rede van Texel:

Die Zeemanskerk is maklik sigbaar in hierdie oorspronklike uitleg van die dorpie.
Daar was ongelukkig nie iemand van die museum aanwesig om meer te vertel oor die uitstalling nie (en die werknemers wat ek elders in die museum aangespreek het, het geskitter in hul onwetendheid). Maar dit gee mens tog 'n uitstekende beeld van die uitleg van Oudeschild toe, asook hoe besig dit was.
Die bruggie regs strek oor die destyds breër Skilsloot en is waar die Jeneverbuurtje was.
 En dan 'n paar kilometer niks...



Tot by die fort, Fort de Schans:


My poging om een van die skepe in detail af te neem:

 

Ons was nie self bo-op die fort nie, maar het net daar langs verbygeloop die Sondagoggend (ook verby Fort Lunette en op pad na die Wezenputte). Die weer was... onsmaaklik, om die minste te sê, en die oumense en kinders was al moeg na ure se geloop. En ons moes nog betyds terug wees voor die kerkdiens om was.
My dogter was nie beïndruk met haar ouers se keuse vir Sondagoggend-aktiwiteit nie. Die wind het geloei en gesuis en deur jou bene gesny.
Hier is 'n foto van hoe die fort vandag lyk:



Sonsopkoms oor die dyk langs Fort Lunette ('n later opgerigde en kleiner fort tussen Fort De Schans en Oudeschild):



En 'n foto van die rede van Texel, geneem vanaf die dyk:

En 'n video, geneem vanaf dieselfde plek (dis die wind wat so raas):


Dit was heerlik om op die dyk te sit en te wonder wat alles deur my voorouers se gedagtes gegaan het, terwyl hulle gewag het op gunstige weer, sodat die skepe kon vertrek. En nou, 330 jaar later, het hul afstammelinge weer die plek besoek (en steeds gewag op gunstige weer).