Saturday 15 December 2018

'n Besoek aan Isenbruch en Dieck in Duitsland


Een van die handjievol lesers van hierdie blog, André van Dyk, het my daarop gewys dat Isenbruch en Dieck, geleë in die Duitse streek Selfkant, ook 'n moontlike herkoms vir die broers Joost en Burgert van Dyk kon wees.

André het my reeds vroeër daarop gewys dat Joost se boedelinventaris verwys na 'n "Hoogduyts Gebede boekje" en dat hy 'n Duitse herkoms vermoed. Met die wete dat daar Duitse vanne soos Dieck en Dieckmann is, het hy gaan rondkrap op die Duitse Wikipedia en afgekom op die gehuggie Dieck, geleë sowat ses kilometer wes-suidwes van 'n dorpie met die naam Isenbruch. Om te recap: Joost en Burgert is in die skeepsoldyboek opgeteken as Joost Pietersz en Burgert Peters, beide van Isberg. Soos met baie ander V.O.C.-werknemers, is daar 'n moontlikheid dat hulle name, van en plek van herkoms verNederlands is. Met ander woorde, hulle sê een ding, en die Nederlandse V.O.C.-amptenaar skryf op wat hy hoor. Dit word duidelik as mens kyk na al die ander dokumente waarin die broers se name en plek van herkoms genoteer staan: Pietersz, Peters en Petersen; Isberg, Ysenberg, IJsberg, Eijsenbergh. Arme Burgert se naam is op elke moontlike manier verdraai, van Burgert, tot Borgert to Borchard (en variante daarvan, soos Burchert). Ongeveer 1699-1700 het die broers die van Van Dyk aangeneem. Ek vermoed sterk dit was om hulself (en hul kinders) as familie te identifiseer tussen al die hordes Pieters/Peters-persone aan die Kaap. André se vermoede is dus dat "Isberg" verwys na Isenbruch en "van Dyk" kan verwys na Dieck.

Mens kan ook 'n beter idee kry van hoe mense hulle name uitgespreek het deur hulle handtekeninge na te gaan. Interessant genoeg het die broers nooit hulle name as "van Dyk" geteken nie, maar altyd met hulle patroniem. Burgert het nie baie kon skryf nie: aanvanklik het hy dokumente met 'n kruis geteken, later met 'n BP (aanvanklik uiters bewerig, later met meer selfvertroue). Joost het as Jost of Just Peters geteken (ook nou nie die mooiste handskrif nie), en op testament as Jost (of Just) Peters van Isenb..g (laaste letters nie afsonderlik te identifiseer nie).


Net om seker te maak dat Burgert nooit sy volle naam leer skryf het nie, het ek weer gaan kyk na al die beskikbare dokumente, en per ongeluk Joost se seun Burgert se testament oopgemaak. Groot was my verbasing om te sien dat hierdie seun sy naam as Burger van Dieck geskryf het (was ook redelik verbaas dat hy hoegenaamd kon skryf).




Burgert was Joost se eerste seun en dit is dus waarskynlik dat hy van sy ouers leer praat het (anders as Joost se jongste kinders, wat hom nouliks geken het). Dit beteken dat daar 'n goeie kans is dat Joost (en moontlik ook Burgert) hul van as van Dieck uitgespreek het, wat die kans vir Dieck versterk.

So, ons het 'n ooreenkoms vir Peters/Pietersz, vir Dyk/Dieck en vir Isenberg/Isenbruch. Maar wat van hulle voorname? Het hulle in die streek voorgekom in die tyd? Ongelukkig is dit nie so maklik om agter te kom nie, aangesien die kerkrekords uit die tydperk nie meer bestaan nie (of nog êrens, onontdek, in 'n stowwerige argief lê). As ons egter ingedagte hou dat Isenbruch teen die grens van Limburg (die suidelikste provinsie van Nederland) lê, kan ons gaan kyk tussen die beskikbare rekords van daardie provinsie (wat wél vir die tyd beskikbaar is). As mens daar soek (www.allelimburgers.nl), is dit duidelik dat beide name wel deeglik in die gebied voorkom.

Omdat die DTB-boeke (doop-, trou- en begrafnisboeke) van die kerke waartoe Dieck en Isenbruch behoort vir die betrokke tydperk ontbreek, sal enige moontlike papierspoor wat na hulle verwys gesoek moet word in Duisburg. Dit is waar die argiewe van Selfkant gehuisves word. Die argiewe is helaas nie aanlyn beskikbaar nie - selfs die indeks van die argief is nog nie volledig aanlyn beskikbaar nie. Dit is dus 'n missie vir 'n ander jaar (Duisberg is ver en dit sal 'n paar dae neem om die argiewe deur te gaan), maar in die tussentyd het ek dit goedgedink om 'n besoek aan Selfkant te bring en 'n gevoel te kry vir die plek.

Selfkant is die mees-westelike deel van Duitsland, teen-aan die grens van die suidelike deel van Nederland:

 Die grens, in donkergrys loop Noord tussen Echterbosch en Waldfeucht en suid onder Gangelt.




Isenbruch is links, teen die grens met Nederland. Dieck is regs, ongeveer waar die "Hongener und Saeffeler Bruch" is. Isenbruch is 'n klein dorpie, met ongeveer 308 inwoners. Dieck is nog kleiner, 'n gehuggie met met sowat 10 inwoners: slegs 'n paar plase en 'n koffiewinkel (Café Diecker Fahrradtreff op die kaart).


Isenbroick (Isenbruch, bo Susteren) op 'n kaart in 1747. Dieck is geleë in die "Zafel Bosch", tussen die E en J.
(Carte particuliere des environs de Maeseyck Stochem et Hinsberg, gedruk deur Covens & Mortier.)

Die onlangse geskiedenis van Selfkant, alhoewel nie van genealogiese belang nie, is tog interessant. Selfkant en Maasland (die Nederlandse gebied net oor die grens) is deur die eeue al verbind of verenig gewees, hetsy polities of kerklik. Hulle was byvoorbeeld beide deel van die Hertogdom Jülich, waarvan bostaande kaart geteken is. Met die Kongres van Wenen in 1815 en die ontstaan van die Duitse Statebond, is 'n grens getrek wat die streek geskei het. Van toe af was Selfkant deel van die Duitse Statebond, en die dorpe wes van die grens, deel van die Hertogdom van Limburg.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Duitsland die gebied aan Nederland geskenk, as kompensasie vir die verliese wat Nederland tydens die oorlog gely het. Vir die inwoners van Selfkant was dit om't ewe: beide Maasland en Selfkant besig sowieso dieselfde dialek en het 'n gedeelde kultuur. Des te meer, noudat hulle deel van Nederland was, het die inwoners skielik toegang gehad tot koffie en tabak, iets wat relatief skaars was in na-oorlogse Duitsland. Die huise en strate is as deel van Nederland beter herbou en in stand gehou. Op 1 Augustus 1963 word die gebied egter weer deur Duitsland teruggekoop. Handelaars het trokke en huise vol koffie, sigarette en ander smokkelware volgestop en gewag vir die klok om middernag te slaan. 23:57, 23:58, 23:59 en siedaar! Tonne produkte vir die Duitse mark is die land inge"smokkel" - die handelaars het geen belasting daarvoor hoef te betaal nie. Die inwoners het redelik bedrieg gevoel en besluit om 'n esel as eerste voetganger oor die grens te stuur.


En is dat nou ons kleine Zelfkantje?! Spotprent uit 'n Nederlandse koerant van 1949.


 Die eerste grensoorgang in 1963, na Selfkant weer aan Duitsland behoort het.


In Selfkant het ons gebly in die Gasthof Peters, 'n herberg wat al sedert 1650 bestaan het en al 'n paar eeu diens doen as herberg. Die gebou het eers aan ander families behoort, waaronder die Familie Welschen in 1650 en daarna die Familie Reynders. Vóór 1824 was die herberg se naam Dyks  - in hierdie jaar het Leonard Peters met die eienaresse, Maria Dyks (!), getrou, en het die herberg die eerste keer die naam Peters gekry. (Deur hierdie paartjie se stamboom te ondersoek, kan mens moontlik 'n gemeenskaplike voorouer van die Van Dyk-broers kry.)

Ek het oorspronklik gehoop om op die Sondag by die twee kerke in te sluip ('n kapel in Isenbruch en 'n kerk in Saeffelen, waartoe Dieck behoort). Ek het iets soortgelyks gedoen tydens ons besoek aan Texel 'n paar jaar terug. Jammer genoeg moes ek toe leer dat die hele Selfkant - 'n uiters streng godsdienstige streek - elke dag kerk het, maar elke dag in 'n ander dorpie. Die kerke wat ek wou besoek, se beurte was in die week, en nie in die drie-dae tydperk wat ons die plek besoek het nie.

Elke oggend om ses-uur is ons wakker gelui deur die streek se kerkklokke, wat die inwoners herinner dat dit tyd is om hul dag te begin met gebed. Die klokke is ook ses-uur die aand weer gelui. By die deure is in kryt, of mb.v. van plakkers, die jaartal, plus die letters C+M+B geskryf, 'n tradisie waarmee die huis vir die jaar geseën word. My dogter het die eerste ete by die Gasthof deurgebring deur al die gekruisigde Jesus-beeldjies teen die muur te tel (nege, as ek reg onthou).

 
Hierdie streng-gelowigheid is ook te sien by die begrafplase. Die grafte is almal, sonder enige uitsondering, uiters netjies en versorgd. Ons het drie begrafplase besoek om te sien of die name Peters/Pieters of Van Dyk nog daar voorkom. Peters is 'n baie algemene naam in die omgewing van Dieck, maar daar was nie een Peters-graf naby Isenbruch nie.


'n Peters-graf in Höngen, aangrensend met Dieck.

Die blou riviertjie op die kaart, wat 'n dyk genoodsaak het (waarna die naam Dieck verwys), is die Saffelbeek, of Saeffelerbach in Duits. Hierdie stroompie stel vandag nie baie voor nie, of hy in die verlede bruisender was, weet ek nie. Dit is wel so dat ons op die oomblik een van die droogste jare in die geskiedenis beleef, dus is die rivier waarskynlik gewoonlik hoër. Mens kan egter aan die bank sien dat hy selfs as hy vol is, nie baie breed is nie:

Die volgende stap is om die argiewe in Duisburg te besoek (moontlik dat die argiewe in Sittard ook van hulp kan wees). Aangesien kerkrekords van die tyd nie meer beskikbaar is nie, kan mens kyk na boedelaktes, eiendomsaktes of enige ander burokratiese dokumente van die tydperk wat vandag nog bestaan. Dit kan ook loon om te soek vir genealoë in die streek op Duitse genealogie-forums, wat Dyks/Dieck en Peters navors.

Enige vordering sal gemeld word.

Friday 17 August 2018

Indeksdatabasis

Soos baie ander stamboomondersoekers, wemel my fisiese en digitale boekkaste met geskiedkundige bronne. En telkens as ek inligting soek oor iemand, moet ál die bronne - of in ieder geval dié wat die betrokke tydperk dek - weer van vóór af deursoek word.

Dit het my so 'n tyd terug laat dink om 'n alles-omvattende databasis te skep, waarin ek slegs 'n naam hoef in te tik, en die komper dan vir my sal kan sê of en waar ek die persoon kan terugvind in my databasis.
Nou is dit miskien bietjie té ambiseus; ek het immers letterlik honderde boeke. En na ek twee algemene geskiedenisboeke verwerk het, het ek besef ek moet die ding anders aanpak.

Daar is drie of vier soorte boeke (volgens my) wat waarde het vir 'n genealoog (buiten geslagsregisters) :
1. Outydse reisbeskrywings, waar die skrywer moontlik op 'n voorouer se plaas oornag het, ens.. Selfde geld vir boeke oor 'n belangrike gebeurtenis in die geskiedenis wat vanuit een persoon se oogpunt vertel word. 
2. Boeke oor gespesialiseerde onderwerpe. As jou voorouers 'n wynboer, of 'n dominee, of 'n onderwyser, of ander spesialis was (moontlik sonder dat jy daarvan weet) word hy/sy moontlik genoem in skrywes oor (die geskiedenis van) sy vak.
3. Plaaslike geskiedenisboeke. Byvoorbeeld oor die geskiedenis van 'n spesifieke stad/kontrei. 
4. Boeke wat oorspronklike dokumente bevat, byvoorbeeld dagboeke of onderhoude.

Met bostaande ingedagte het ek weereens my boekrakke deurgekyk en besluit op sowat 20 boeke wat ek dink aan die vereistes voldoen en hulle indekse in 'n databasis verwerk. Dit het 'n wyle geduur. 

Die skakel hiervoor is:


Die boeke wat verwerk is, is:
        1. Belangrike Kaapse Dokumente: Memoriën en Instructiën 1657-1699
        2. Belangrike Kaapse Dokumente: Uit die Raad van Justisie 1652-1672
        3. Precis of the Archives of the Cape of Good Hope: Journal 1662-1670
        4. Precis of the Archivesof the Cape of Good Hope: Journal 1699-1732
        5. Precis of the Archives of the Cape of Good Hope: Letters Received 1695-1708
        6. Precis of the Archives of the Cape of Good Hope: Letters Despatched, 1696-1708
        7. Het Dagboek van Adam Tas (1705-1706)
        8. De Kaap de Goede Hoop: een Nederlandse vestigingskolonie, 1680-1730
        9. The Shaping of South African Society: 1652-1820
        10. The Afrikaners: Biography of a People
        11. Education in South Africa, 1652-1922
        12. Geschiedenis van de Gemeente Swellendam 1798-1899
        13. Reizen in Zuid-Afrika I, Tochten naar het Noorden: 1652-1686
        14. Reizen in Zuid-Afrika II, Tochten naar het Noorden: 1686-1806
        15. Reizen in ZA III, Tochten langs die ZO-kust en naar het Oosten: 1670-1752
        16. Reizen in ZA IV, Tochten in het Kafferland: 1776-1805
        17. Kaapse Wyn & Brandewyn 1795-1860
        18. Geschiedenis, werken en streven van S.P.E Trichardt 1811-1907
        19. Kerkelijk en Godsdienstig leven der Boeren na den Grooten Trek 1837-1914
        20. De Boerenoorlog [1884-1902]
        21. Oudstryder-herinneringe van die Anglo Boereoorlog (1899-1902)
        22. Vereeniging [1892-1968]

Nie alle boeke het indekse gehad nie. Ek het met groot waardering gebruik gemaak van die indekse deur Karel Schoeman, wat op Daniel Jacobs se webwerf beskikbaar is (gendata.co.za). Sommige ander boeke het reeds indekse gehad, terwyl ek vir die res self indekse geskep het. 
 
Ek is besonders bly oor my eie indeksering van Oudstryders se herinneringe m.b.t. die oorlog (ses volumes). Dit was 'n uiters emosionele taak, maar bevat baie waardevolle inligting. Ek hoop om in die komende weke stukkies daaruit hier te deel.

By die bronnelys word skakels verskaf vir boeke wat digitaal beskikbaar is, en inligting om dié wat nie is nie, op te spoor.

Saturday 25 November 2017

Hersien: Helena Siewertsz. (1690-1727)

Ek het gister die biografie van Helena Siewertsz. opdateer. Dit is ook beskikbaar by die Van Dyk-register: http://vandykregister.com/histories/helenasiewertsz.php

Bietjie meer inligting bygvoeg oor haar tweede man, Anthonij Wagenaer, asook sommige spekulasie regverdig of verwyder.

Maar verreweg die interessantste toevoeging kom uit 'n reeks boeke wat ek onlangs aangeskaf het: die Requesten (Memorials) 1715-1806 deur H.C.V. Leibbrandt; 'n opsomming van gevalle wat deur die Raad aan die Kaap verhoor is.

Die eerste twee volumes is al lank op die Internet beskikbaar, gesien dat hulle in 1905 geskep is en dus lankal nie meer onder kopiereg beskikbaar word nie. Leibbrandt is egter in 1911 oorlede voordat die res van die reeks gepubliseer is. Sy manuskrip vir volume 3 was grotendeels klaar, maar vir volume 4 was daar slegs 'n paar bladsye beskikbaar. Werknemers van die argief het die werk reeds in 1920 voltooi en in die tagtigerjare het Me. Fransie Rossouw volume 5 geskep - 'n 453-bladsy lange indeks wat die eerste vier volumes dek.

Meeste van die Van Dyks kom in volume 4 voor, gesien dat dit alfabeties gerangskik is. Waaronder ook die volgende, gesorteer onder 1716:


 Ek het al jare gewonder na watse "hindernisse" Joost in sy testament verwys het, as rede waarom hy nooit met Helena kon trou nie. Nooit gedroom dit sou só iets wees nie. Met 'n bietjie geluk het Johan van Breda vir my die oorspronklik kon opspoor in die Kaapse argiewe, wat ek ook by haar biografie gevoeg het (skakel bo, of in die kieslys regs).

Die toevoeging van verwysings in HTML bly 'n nagmerrie en baie tydrowend.


Tuesday 14 November 2017

Herkoms van die Broers van Dyk 2

Ek het al baie gespekuleer oor die herkoms van die broers Joost en Burgert van Dyk (sien hier), maar onlangs het André van Dyk die volgende uitgewys:

"Geleë in die munisipaliteit Selfkant, in die verre weste van Duitsland teen die Nederlandse grens is die twee klein dorpies genaamd ‘Isenbruch’ en ‘Dieck’. Kon hulle moontlik tussen die twee plekke groot geword het of op albei? En dit dalk was hoekom hulle soms ‘Van Ysenberg’ en soms ‘Van Dyk’ is. Uit ‘n Nederlandse oor is dit eenvoudig om te sien hoe van Isenbruch ‘van Ysenberg’ [geword het, of] ‘Dieck’ ‘ dyk’ word."

Die ligging (ongeveer) van Isenbruch (links) en Dieck (regs) in Duitsland, aan die grens met Nederland.

Ek het byna van my stoel afgeval. Nog nooit hierdie gehuggies teëgekom in my eie soektogte nie. Aanvanklik was ek skepties (soos ek maar oor alles is), maar dit wil lyk asof "Joost" en "Burchart" (en variante) baie algemene name was in hierdie gebied in die betrokke tydperk. My hoofrede om Wes-Vlaandere destyds as plek van herkoms af te skryf, was nie slegs omdat geen van die seuns in die doopboek van Izenberge voorkom nie, maar ook omdat hul voorname slegs met enkele uitsonderings (Joost) of selfs glad nie (Burgert) daar voorgekom het nie.

"Dieck" is dan ook 'n ou Duitse woord vir "dyk". Die dorpe was deel van die gemeente St. Lucia. Ongelukkig begin die kerkboeke vir die gemeente eers in 1696 (die kerk is reeds in 1510 gebou) - en is ook nie aanlyn beskikbaar nie.

Isenbruch behoort tot die gemeente van St. Gertrud Havert. Die kerkboeke van hierdie gemeente begin nog later - eers in 1734, alhoewel die kerk (of oorspronklike kapel) reeds uit die 16de eeu stam.

Hoe nou gemaak? Wel, sover ek kan sien, is daar geen maklike opsies nie (alle voorstelle welkom). Mens kan die Dieck-boeke deurgaan om te kyk of daar 'n familie is waarin die seuns sou pas (as Joost en Burgert familiename was, sou hulle steeds in die agtergeblewe familie voortgebruik geword wees). Dit is wel 'n monumentale taak, maar nie 'n onmoontlike een nie: as mens sowat dertig tot vyftig jaar van 'n doop (en, as ons gelukkig is, trou- en sterfboek) transkribeer, kry mens 'n baie goeie beeld van die verskillende families van 'n plek.

Isenbruch s'n begin te laat om van nut te wees, dink ek.

Mens kan ook kyk vir ander dorpies wat tot dieselfde gemeente behoort. Daar is 'n skraal kans dat hulle doopboeke wél vroeër begin en dat die seuns in een van hierdie dorpies gedoop is en later na Dieck/Isenbruch getrek het.

Mens kan ook soek vir ander bronne - letterlik enige boeke geskryf in die tydperk oor die plekke, waaruit name van destydse inwoners geneem kan word. Weereens, iets wat net so links van "onbegonne taak" lê. Maar ek sal nog daarby uitkom (tensy 'n ander vrywilliger sy hand opsteek).

Ek is nog nie gereed om Skandinawië as plek van herkoms af te skryf nie, veral gesien die DNS-ooreenkoms met 'n Skandinawiër. Maar Middel-Noord-Europa (waar Dieck/Isenbruch) geleë is, is dan ook nie só ver dat dit onmoontlik is nie - die gemeenskaplike voorvader se familie het 300 jaar tyd gehad om te migreer.

Enige iemand wat my wil borg sodat ek voltyds aandag hieraan kan bestee?





Wednesday 25 October 2017

Nuwe Van Dyk-webwerf: vandykregister.com

Saam met Wilhelm van Dyk en Kobus van Dyk het ek vandykregister.com opgerig. Hulle bemoei hulle met al die Van Dyks, ek bemoei my met die eerste geslagte en my eie "Middelburg"-tak. Die doel is om alles m.b.t. die Van Dyks in een boom, op een plek - met bronne! - te hê. My navorsing sal ek nog steeds hier plaas, maar daar word dit ook outomaties opgelaai en opdateer.

Ek begin dink om so 'n webwerf vir my en my man se familie ook te skep - dit sal dan nie net Van Dyks wees nie (dog slegs die van my tak), maar ook Jansen van Vuurens, van Wyks, Hoogendoorns, Nelle, Schutte en Staudte ... te veel om op te noem. Dit sal 'n bietjie meer struktuur bied as slegs 'n "blog" en enige navorsing kan daar geplaas word en aan die betrokke persone gekoppel word.

Ek het baie lank gesoek na die regte publikasie-sagteware en uiteindelik op TNG: The Next Generation of Genealogy Sitebuilding besluit. Ek is baie bly met die resultaat.


Thursday 27 October 2016

Skeepsoldyboek: Huis te Zilverstein


Die vroegste rekord wat ons van Joost en Burgert, die Van Dyk-stamvaders, het, is hul inskrywings in die Grootboek van die Huis te Zilverstein, die skip waarmee hulle na Suid-Afrika gereis het. Skanderings van hierdie boek is onlangs beskikbaar gemaak op die webwerf van die Nederlandse Nationaal Archief. Toe ek reg aan die begin van die jaar (2016) die stukke wou insien daar, is ek reeds vertel dat ek sal moet wag, omdat hulle besig is om al die VOC-stukke in te skandeer.

Dus moes ons vir 'n lang tyd tevrede gewees het met die inligting wat reeds op hulle webwerf verskyn het:

Voornaam opvarende Joost
Achternaam opvarende Pietersz:
Herkomst opvarende Isberg
Datum indiensttreding 24-05-1686
Functie bij indiensttreding Soldaat
Uitleg over functie Militair
Uitgevaren met het schip Huis te Zilverstein
Datum uit dienst 1690-12-28
Waar uit dienst Kaap de Goede Hoop
Reden uit dienst Vrijburger
Uitleg over reden einde dienstverband Dit wordt ingevoerd als de laatste post vermeldt dat de opvarende vrijburger wordt. Soms wordt een opvarende vrijburger en treedt daarna weer in dienst. Als een opvarende vrijburger wordt en de datum van overlijden wordt gegeven, staat dit bij opmerkingen.
Opmerkingen 1718 overleden
Schuldbrief Ja
Maandbrief Nee
Bronverwijzing Nummer toegang: 1.04.02, inventarisnummer: 5342, folionummer: 222

Voornaam opvarende Burgert
Achternaam opvarende Peters
Herkomst opvarende Isberg
Datum indiensttreding 24-05-1686
Functie bij indiensttreding Soldaat
Uitleg over functie Militair
Uitgevaren met het schip Huis te Zilverstein
Datum uit dienst 1690-12-28
Waar uit dienst Kaap de Goede Hoop
Reden uit dienst Vrijburger
Uitleg over reden einde dienstverband Dit wordt ingevoerd als de laatste post vermeldt dat de opvarende vrijburger wordt. Soms wordt een opvarende vrijburger en treedt daarna weer in dienst. Als een opvarende vrijburger wordt en de datum van overlijden wordt gegeven, staat dit bij opmerkingen.
Opmerkingen 1720 overleden
Schuldbrief Ja
Maandbrief Nee
Bronverwijzing Nummer toegang: 1.04.02, inventarisnummer: 5342, folionummer: 223


En hier moet ek weereens my dank betuig aan die uitstekende openarch.nl, sonder wie se gevorderde soekfunksie ek selfs bostaande rekords miskien nooit sou kry nie. (Ek was immers op soek na twee broers met die familienaam van Dyk, wat in 1691 na die Kaap gereis het, soos vertel deur die 1975-Geslagsregister van die Broers Joost en Burgert van Dyk.)

Hier onder volg die digitale kopieë van die skeepsoldyfolio's, met transkripsie en verduideliking. Met 'n baie groot dankie aan Elmien Wood en Corney Keller, wat my beide baie gehelp het met die transkripsie en met die agtergrond van die inhoud.

Ek behandel eers Joost s'n, daarna dié van Burgert. Kliek gerus op die foto's om 'n groter weergawe te kry.



folio 222a

Maij
24
Aen d: E: Comp: over 2/m gagie @/9:- smaents
1..f+
  18   -    -

    •  
Aen d: E: Comp: over schult aen Jurgen Meijer
1..+
150   -   -

    •  
Aen kisten over 1 stuck
241..+
     4    7   -

    •  
Aan bultsacken over 1 stuck
242..+
     1  10   -
Junij
10
Aen hemden over 2 stucx
239..+
      4    6  -

    •  
Aen cousen over 1 paar wolle
238..+
      -   12  -

    •  
Aen ditto over 1 paar linne
238..+
      -   10  -


Somma

  179   5   -





1687
xber
f8 betaelt ae marritie martens wegens de schult
vold: op fo 235

f8
1688
9ber
f34 betl aen marritje martens wegens d'schult voldaen op fo 259

f34
1689
decemb
f58 _ op dato beaelt aen marrijtje marttens wegens
de f150_schult voldaen indese op .............................................f259


f58
1691
Januarij
f30 betaelt aen marritie martens sijn acts
vold: op fe(?)                                                                                         259:


30
1692
30 Sept
f12:2:8 betaelt aen Marritje Martens sijn acts borge
Adriaen Cuiper camerbode
(handt: Marritje martens) (hand: A. Cuiper)

12.2.8

  folio 222b
Septem
24
pe: d: E: Compagnie over 4/m gagie a_f 9:- smaents bij hem ver-
dient zedert den 24 Maij dat uit Texel zijn uitgesijlt tot
dato deses dat (gode loff.) aen Cabo de bonne Esperance arrij-
verende en aldaer door ordre d' E: Commandeur vander Stel
aen Land gaet..........................................................................




1..+

--
p:re: d'E: Comp: soo veel pe: Zlot te quaet blijft
1..+



Somma




1686
ulto (xber)
over 3/m 6d aende Caep fo183 Lqt
f142.0.4 cont
1687
ulto d:o
over 12/m op d:o fo 129 Lequade
f108.2.cont
1688
ulto ditto
over 12/m op ditto f89: teqt
f50-5-ct
1689
ulto ditto
over 12/m fo71 teqt in leening
f20-2-ct
1690
15 feb:
over 1.5/m op Ditto, dat sijn gagie afgeschreven wordt
                                                              fo 63 teqt
Is 28 xber vrij geworden

7:17:5 (of 8)
1718
1 Feb
overleden, testament gemaekt hebbende
en eenige kinderen naelatende, per Caepsvrijn: fo71


Vooraf, 'n kort uitleg van die geld wat hulle gebruik het. Die Nederlanders het die gulde gebruik: die naam was afkomstig van "gulden florijn", oftwel "goue floryn" en die valutateken was ƒ. 'n Gulde was in die 17de eeu verdeel in 20 stuiwers en 8 duite: 20 stuiwers was gelykstaande aan 1 gulde; 8 duite was gelyk aan 1 stuiwer (dus was 8x20 - 160 duite gelyk aan 1 gulde).

'n Bedrag is dus dikwels genoteer as ƒ12-2-8, oftwel 12 gulde, 2 stuiwers en 4 duite. Aldus die Internationaal Instituut voor Sociale Geschiedenis, het ƒ10 in 1686 ongeveer dieselfde koopkrag gehad as €110 euro vandag in Nederland - of R637 in Suid-Afrika. Dus wat mens vandag vir €110 in Nederland of R637 in Suid-Afrika kan koop, sou mens destyds vir ƒ10 kon koop. Alle bedrae onder word ook in Euro en Rand gegee (met verwysing na koopkragpariteit)

Joost Pietersz. van Isberg, Soldaat, debiet

Op die 24ste Mei 1686 het Joost die volgende skuld opgeloop:

• twee maande salaris (twee keer 9 gulde, ongeveer = koopkrag €100 / R579 per maand). Hierdie geld het hy gekry die dag wat hy by die V.O.C. aangesluit het en het dit as't ware dus aan die V.O.C. geskuld tot hy dit afgewerk het.

Dit is hier duidelik dat 'n loopbaan as V.O.C.-soldaat werklik iets was waarvoor slegs die wanhopigstes of avontuurlustigstes hulself opgegee het. Die vergeleke loon is sowat R579 per maand - aansienlik minder as die R1805 wat die minimumloon van 'n sekuriteitswag in Suid-Afrika is (een van die slegsbetaalde werke in SA).

• Die volgende skuldbedrag is ƒ150 (€ 1675,71 / R9696,69). Hierdie bedrag was hy skuldig aan die persoon wat hom akkommodasie voorsien het voor sy reis na Suid-Afrika...

Zielverkopers of slaapbazen was mense wat werklose en wanhopige mense gehuisves het tot tyd en wyl hul skepe vertrek het. In ruil daarvoor het 'n matroos of soldaat 'n deel van hul geld en 'n skuldbrief afgestaan.  Hierdie skuldbrief is ook genoem 'n transportbrief, of schuldcedule/transportcedule. Hierdie cedule is weer vereenvoudig tot ceel. Die slaapbase het dikwels hierdie skuldbriewe verkoop aan ander (wat die skuld kon inwin) en het bekend gestaan as ceelverkopers wat dan weer verbaster is tot zielverkoper. Aldus Corney Keller het die zielverkopers die skuldbriewe verkoop teen 'n gemiddelde markprys van ƒ80 (moontlik denkende dat ƒ80 nóú beter is as ƒ150 wat waarskynlik eers oor 'n paar jaar terugbetaal sou word, indien ooit - baie seeliede het byvoorbeld gesterf voor hul skuld afbetaal is). ƒ150 is sowat 17 maande se salaris vir 'n V.O.C.-soldaat.

Hierdie sielverkopers het nie 'n goeie reputasie gehad nie. Daar is verhale van jongmans wat soggens wakker geword het en dan uitgevind het hulle is opgesluit in die kelder tot die dag wat die skip gevaar het, of dat hulle uitgehonger word en dan ellendig en "uitgemergeld" aan boord gaan (wat daartoe lei dat sommige nie die reis oorleef het nie).

Nie álle sielverkopers was sleg nie, daar is ook verhale van goeie slaapbase, wat genoeg kos voorsien het. Soos byvoorbeeld koffie en witbrood met kaas vir ontbyt, in die middag twee geregte met bier, in die namiddag tee en dan soetmelk (warm of koud), witbrood en vis/eiers met groentestamppot.

Was Jurgen Meijer, die slaapbaas van Joost (en Burgert) bloot 'n mensehandelaar, of het hy ook goed vir sy inwoners gesorg? Dit weet ek (nog) nie. Elmien Wood vertel dat ƒ150 'n standaardbedrag was vir matrose en soldate.

Die volgende bedrae in die boek was sy uit- en toerusting waarvoor hy self moes betaal, gewoonlik met geld wat hy van die Kompanjie geleen het. In Joost se geval het hy die volgende moes betaal:
• 'n kis (waarskynlik om al sy goed in te bêre), teen 4 gulde en 7 stuiwers, oftwel ƒ4-7-0 (€52,51/R303,86)
• 'n "bultsak" - 'n skeepsterm vir matras, teen ƒ1-10-0 (€12,29/R71,12) Aldus Elmien Wood het die V.O.C. die matrasse ná die sewentiende eeu verskaf, sodat die matroos nie self een moes aanskaf nie.

Op 10 Junie, terwyl hulle op reis was, het hy ook nog die volgende teen skuld gekry:
• twee stuks hemde, teen ƒ4-6-0 (€51,39/R297,37)
• 1 paar wolkouse, teen  ƒ0-12-0 (€ 1,34/R7,75 ZAR)
• 1 paar linnekouse, teen ƒ0-10-0 (€ 1,12/R6,48)

Dus het Joost, voordat hy voet aan wal gesit het in Suid-Afrika, reeds ƒ179-5-0 skuld gehad. Dis nou sowat € 2005,27 of R11 603,73 in vandag se geld.

Onderaan kan ons sien wanneer hy al die geld terugbetaal, ƒ8 in 1687, ƒ34 in 1688, ƒ58 in 1689, ƒ30 in 1691, en dan die laaste ƒ12-2-8 in 1692. Dit is hier ook duidelik dat Jurgen Meijer sy skuldbrief deurverkoop het aan Marritie Martens (of dat sy vir hom gewerk het en hy haar volmag gegee het om die geld in te win).

Op 30 September 1692 teken beide Marrijte Martens en Adriaen Cuiper (namens die V.O.C.) om te bevestig dat die skuld afbetaal is.

Op die volgende bladsy verskyn die datum en plek van Joost se uitreis (24 Maij ... uit Texel). Daar staan ook dat "Commandeur vander Stel" reeds die bevel gegee het dat hulle aan land moes gaan. Waarskynlik het Van der Stel vooraf aan die V.O.C. deurgegee hoeveel manskappe aan die Kaap benodig word (die res sou deurgaan na Indonesië). Of die soldate vooraf kon kies waarheen hulle sou gaan en of hulle willekeurig 'n bestemming aangewys is, weet ons nie. Siende dat Joost en Burgert beide vir die Kaap gemerk is, kan beteken dat hulle ten minste gevra het om beide na dieselfde plek te gaan. Ek vermoed, gebaseer op die feit dat slegs 'n klein breukdeel van die bemanning aan die Kaap gebly het en dat hierdie persone se inskrywings in die skeepsoldyboek nie op mekaar gevolg het nie, dat hulle óf aangegee het dat hulle na die Kaap wil gaan, óf ingestem het om daarheen te gaan toe hul gevra is.

Die eerste bedrag, ƒ36, is sy maandelikse salaris wat hy verdien het tydens die reis na die Kaap.

Die tweede bedrag is wat hy nog skuldig is teen 24 September, met hul aankoms aan die Kaap: ƒ143-5: dus is die ƒ36 alles weer mooi teruggeneem om die ƒ179-5-0 skuld te begin afbetaal. Die woorde "te quaet" oftewel "te kwaad" beteken dat die Kompanjie hom nog die geld moet gee.

Die volgende is die jaarlikse boekhouding van wat hy as soldaat in diens van die V.O.C. verdien het. Die finansiële jaar het geloop van 1 September tot 31 Augustus die volgende jaar. Die voorlaaste inskrywing is in 1690, waarin ook staan dat hy op 24 Desember 1690 'n vryman geword het (x = 10 = decem in Latyn +ber).

Die laaste inskrywing is om sy afsterwe te vermeld, op 1 Februarie 1718: hy het 'n testament gemaak en 'n aantal kinders nagelaat (per die Kaapse vryboek).  Voordat ek hierdie skeepsoldyboek onder oë kon kry, het ek slegs kon gis oor die datum van afsterwe - êrens tussen 28 Januarie 1718 (toe hy sy testament opgestel het) en 15 Junie 1718 (toe sy eiendom geïnventariseer is).

Nou vir Burgert se inskrywing:



Maij
24
Aen d'E:comp: over 2/m gagie @/9 - smaents
1..+
18   -   -

    •  
Aen d'E:comp: over schult aen Jurgen Meijer
1..+
150   -   -

    •  
Aen kisten over 1 stuck
241..+
4    ,   -

    •  
Aen bultsacken over 1 stuck
242..+
1 10   -


Somma

173  17   -





1688
12 Januarij
21 betl: aen Trijn Jans sijn act:s borge
B Weseman Camerbode
(handt: Trijentje Jans) (hand: B Weseman)

f21-
1688
24 9ber
43:- betaelt aan Johannes (S)iebout wegens de Schult borge (C:t) Barentsz Camerbode
(handt: Johannes Siebout) (handt: Barentsz)

f43a-
1689
21 (maand?)
betl aen Catalijna van Goch wegens
de Schult, borge C: barentse Camerbode
(handt: Catalijna vangoch)(handt: Barentsz)

f74-

1691
3 Jannuw
f12 op dato betaelt aen Catalyna v goch tot
voldoeninge vande f150- schult borg B Weseman
(handt: catelijna van Goch) (handt: Bweseman)

f12
971
no 295




 
September 24
P:r
d E: Comp: over 4 maenden a f9:- smaents bij hem verdient
zedert den 24 Maij dat uit Texel zijn uitgeseijlt tot dato deses
dat (gode loff) aan Cabo de bonne Esperance arrijverende
en aldaer door ordre van d' E: Commandeur vander Stel aen
Land gaet




1..+




   36    -    -
-
P:r
d' E: Comp: soo veel pe:r Zaldo te quaet blijft
1..+
137  17   -


Somma

173  17   -





1686
ulto xber
aende Caeb over 3/m 6d: a fo182 Lqt 129.2.4.cont.


1687
    • xber
Over 12/m op Ditto f:io 129 te q:t f85:12:4 ct


1688
ulto ditto
over 12/m op ditto . . . . f88 te qt . . . . f11-10-4ct
f150-wegens d ingediende schult
f150-

1689
    • ditto
f9-15-12 rest van 12/m op ditto
f70f
9  15  12
1690
15 feb
f12:4:8 rest van 1.5/m op ditto, dat sijn gagie afgeschreven wordt
fo 62f
12:4:8


Is 28 xber vrij geworden


1718
ulto aug:o
continuicht per caepsvrijboek fo 3-


1719
---- d:o
---------                                            " 3


1720
----9:o
-------------------------------------------"3




1720 9 Julij als vrijman aende Caep sonder testament te maaken, vrouw en kinderen nae laetende overleden



Burgert Peters v. Isberg, Soldaat, debiet

Burgert se eerste inskrywings lyk baie op dié van Joost: weereens die twee maande loon, 'n skuldbrief van ƒ150 aan Jurgen Meijer en 'n kis en matras. Blykbaar het Burgert reeds klere gehad. Of het Joost miskien klere vir hul beide gekoop? Hy het immers twee hemde en twee paar kouse gekoop.

Soos by Joost, is ook Burgert se skuldbrief moontlik verkoop: eers aan Trijn Jans, daarna aan Johannes Siebout en daarna weer aan Catalijna van Goch. In hierdie geval is dit egter waarskynlik dat hulle almal werknemers was van Jurgen Meijer, aangesien die laaste persoon, Catalijna van Goch, Jurgen Meijer se vrou was (met dank aan Corney Keller wat dit uitgewys het). Dit is ook moontlik dat die skuldbrief wel verkoop was, en dat Catalijna en Jurgen dit uiteindelik weer teruggekoop het.

Die tweede bladsy lyk ook op dié van Joost, met dieselfde verklaring vir die inskrywings. Weereens word hier vermeld dat ook Burgert op 28 Desember 1690 'n vryman geword het.

Die laaste inskrywing vermeld sy afsterwe: 9 Julie 1720, sonder testament en hy laat 'n vrou en kinders agter.

Buiten al die bostaande inligting, bied die skeepsoldyboek moontlik baie meer inligting. Daar is ook ander inskrywings gemaak tydens die reis, wat meer oor hul reis self vertel. Is daar ook iets te leer uit die vergelyking van soldate wat almal na die Kaap gereis het? Of vergelyking van soldate wat almal by Jurgen Meijer gelogeer het? Miskien kan mens iets meer leer deur Jurgen Meijer self na te vors? Of die Kaapse Vrijboek waarna die skeepsoldyboek verwys? Ons sê nie verniet dat in stamboomondersoek, elke antwoord weer tien nuwe vrae meebring nie!