a1 van Dijk, Joost (c.1663-1718)

Opgedateer op 2015.11.02. 'n Jaar na my oorspronklike (en fout-gevulde) plasing, kan ek 'n opgedateerde weergawe van Joost van Dijk se lewe aan die Kaap plaas. Daar is nog 'n aantal vrae wat ek hoop om in die toekoms te kan beantwoord, maar vir eers bied onderstaande 'n goeie blik op die wel en wee van ons stamvader.

Opgedateer 2016.12.02. Nog 'n jaar later. Bietjie skoongemaak en hier en daar wat bygevoeg.

Dit kan nog nie met sekerheid gesê word waar die twee van Dyk-stamvaders, Joost en sy broer Burgert, vandaan kom nie. (Sien ook Herkoms van Joost en Burgert van Dijk.) In dokumente uit die tyd word daar verwys na onder meer Isberg, Isenberg, Ysenberg en Eijsenberg. Die Wes-Vlaamse dorpie Izenberge (toe Ysenberge) word oor die algemeen aanvaar as hul plek van herkoms, maar die twee broers se dooprekords kom nie voor in die parogieregisters van hierdie dorpie nie. Dit is natuurlik moontlik dat hulle daar gewoon het, alhoewel hulle nie daar gebore is nie, maar daar is talle ander soortgelyk genaamde dorpies in Oos- en Wes-Europa (van Isberg tot Eisenberg) - wat net sowel hul plek van oorsprong kon wees. Die van van Isberg/Isenberg, asook variante van die naam Joost en Burgert (en patroniem Pederson) kom ook in Nordiese lande voor.

Wat wel seker is, is dat Joost Pietersz. saam met sy broer Burgert Peterse in 1686 as soldate by die V.O.C. aangesluit het,1 soos duidelik uit die skeepsoldyboek, of grootboek, van die Huis te Zilverstein (die skip waarmee hulle geseil het). (Joost en Burgert het lank slegs Pietersz. of Peterse as van gebruik - die familienaam van Dijk het eers baie jare later sy verskyning gemaak.)

Jan en Alleman kon by die V.O.C. aangesluit het, as hy maar gesond gelyk het. Armoediges en reislustiges uit die hele Europa het na Nederland gestroom om by die V.O.C. as soldaat aan te sluit. In sy boek, The Afrikaners, noem Hermann Giliomee dat soldate van die V.O.C. só sleg betaal is, dat dit werklik as 'n laaste uitweg gesien is vir mense wat geen alternatief gehad het nie.2


Oor die tou slaap, by 'n Hollandse slaapbaas (sielverkoper). 1830.
Op bepaalde dae van die jaar kon hierdie wanhopiges hulself meld by die V.O.C. se kantore om te registreer. Hul persoonlike besittings het hulle dan in 'n skeepskis geplaas en na die kantoor gebring, waarna hulle gewag het om te vertrek.3 Hierdie wagtyd is deurgebring by 'n "sielverkoper", wat V.O.C.-liede gehuisves het (en etens voorsien het) voor hulle vertrek. Die woord is 'n verbastering van "seëlverkoper" en verwys na die codicil of "seël" - 'n transportbrief wat bewys dat 'n persoon die draer 'n bedrag geld skuld. Sielverkopers het in dié tyd 'n staandaardbedrag van 150 gulde gevra - 'n bedrag wat beide ook Joost en Burgert aan Jurgen Meijer geskuld het.1 Sommige van hierdie sielverkopers was uitbuiters, wat dikwels mense teen hul wil gevange gehou het tot daar weer bemanning nodig was vir 'n tog na die Ooste,4 terwyl ander behulpsame herbergiers was5.

Alhoewel ons geen geboortedatum vir Joost en Burgert het nie, is dit wel bekend dat die gemiddelde ouderdom van soldate wat by die V.O.C. aangesluit het, 24 jaar was. Die jongste soldate was ongeveer 18 en die oudste sowat 40 jaar oud.6 Daarom hou ek 'n geskatte geboortedatum van ongeveer 1663 aan vir Joost en 1665 aan vir Burgert.7

Op Vrydag, 24 Mei 1686, het Joost en Burgert met die skip Huis te Zilverstein vanaf die eiland Texel (Noord-Holland), na die Kaap gereis.18 Die Huis te Zilverstein was 'n "spiegelretourschip", wat reeds sedert 1674 deur die V.O.C. in gebruik was. Hul kaptein was Karsten de Gilde en daar was 96 soldate aanboord, saam met 138 ander passasiers.8,9 Die skip was ongeveer 44m lank en sowat 10,5m breed, met plek aan boord vir tot 300 mense.


'n Funksionerede replika van 'n spieëlretoerskip.
V.O.C. soldate het dikwels 'n maand- of loonbrief gehad, waarmee gesinslede wat in die vaderland agtergebly het, tot drie maande se loon aan die soldaat se ouers, eggenote of kinders uitbetaal kon kry. Uit die inskrywings in die V.O.C. se skeepsoldyboeke blyk dat Joost en Burgert geen maandbriewe gehad het nie, dus weet ons nie of hulle enige dierbares agtergelaat het nie. Hulle het wel elkeen 'n skuldbrief gehad, waarmee hulle vooruit betaal is toe hulle aangesluit het.

Joost en Burgert sou geen take aan boord die skip gehad het nie. Hul taak as soldate was om die Nederlandse vestigings oorsee te bewaak en te verdedig, dus was die reis slegs bedoel om hulle daarheen te vervoer. Soldate was wél ingesit as daar gevaar gedreig het tydens 'n reis. Daar was tydens die reis ook ten alle tye een soldaat voor die kajuit en een voor die kamer van die konstabel gestasioneer.10 Hulle het 'n baie lae rang geniet aan boord van 'n skip en, terwyl gewone passasiers in klein dog gemaklike "hutte" agter die mas geslaap het, het die matrose en soldate voor die mas verbly. Hier het hulle hul dae vertoef in die oorloopdek, tussen al die kiste, hangmatte, kanonne en handelsgoedere. Die plafon was baie laag, dus het mens nie regop kon staan nie. Hulle het in hierdie selfde klein, lae ruimtes geslaap op sakke met strooi of in hangmatte. Hulle loon was dan ook baie klein: 9 gulde per maand.1

Op Donderdag, 26 September 1686, het die Huis te Zilverstein aan die Kaap geland: 17 van die passasiers het tydens hul vier-maande lange reis gesterf.8

In die Kaap het hulle tot 1690 vir die Kompanjie as soldate gewerk. Of een van hulle in hierdie tydperk as knegte uitgehuur is, is nog nie vasgestel nie. Joost en Burgert het beide op 28 Desember 1690 vryburgers geword.1 Vryburgers kon gaan boer (wat die Kompanjie verkies het) of 'n ambag beoefen.

Dit was egter nie maklik om te boer nie: daar was nie slegs 'n tekort aan arbeiders nie (slawe en knegte was nie goedkoop nie), maar die vryburgers was nie "vry" om te handel soos hulle wou nie - die V.O.C. het 'n monopolie op die handelsware soos vee, graan en wyn beheer. Hierdie, gepaard met die moontlikheid dat Joost en Burgert nie ervare boere was nie, is miskien die rede dat hulle hulself as houtkappers beskikbaar gestel het vir die V.O.C. Op Dinsdagoggend, 3 April 1691, het die Politieke Raad (die hoogste gesag van die V.O.C. aan die Kaap de Goede Hoop) vergader.11 Die lede van die raad was dit eens dat 'n groot deel van die Raad al self benadeel is deur die "slordig en onordentlike" gekapte hout wat beskikbaar is - en dít wat wel beskikbaar is, was so sleg bewerk, dat dit nie bruikbaar is nie (dat dit voor die voete van die volk weggevoer moes word). Die Raad het gevrees dat hierdie gebrek aan planke ens. daartoe sal lei dat huise, skure, stalle en ander nodige geboue, nie gebou sal kan word nie.

Vir 'n geruime tyd al het niemand aangebied om gesaagde timmerhout teen vasgestelde pryse te lewer nie. Daarom het "Joost Pietersz en Borchard Pietersz van Isenberg", broers en vryburgers, woonagtig in die Kaapse distrik, hulle by die vergadering gemeld om toestemming te verkry om in die "Compagnie se bosch" in Houtbaai te gaan houtkap. Dit sou vir vyf jaar wees en die hout sou te koop aangebied word aan die inwoners van die Kaapse distrik. Die Raad het eenstemmig besluit om aan die broers se versoek te voldoen, onder 'n aantal voorwaardes m.b.t. die minimum hoeveelheid hout wat elke jaar gelewer moet word en die pryse wat hulle daarvoor mag vra. Indien hulle nie aan hierdie voorwaardes kan voldoen nie, sou hulle elke jaar drieduisend jong eikebome in die Kompanjie se bos moes plant.

Die houtkappery blyk redelik suksesvol te gewees het: oor die volgende vyf jaar sou Joost jaarliks 'n kneg huur van die V.O.C. om hom te help. In 1696 het hy ook twee slawe gekoop wat aan boord die skip "Amity" was, Pieter van Malabar (Indië) vir 80 Ryksdaalders en Anthony van Madagaskar vir 90 Ryksdaalders. Die verhaal van die "Amity" is ook 'n interessante een: die bemanning het hulself voorgedoen as Engelse handelaars, maar agteraf het dit geblyk dat hulle seerowers uit New York was. Die slawe wat hulle in Februarie 1696 aan die Kaap verkoop het, is waarskynlik verkry van die tallose skepe wat hulle geplunder het.12

Dit is ook in hierdie tyd wat Joost sy toekomstige vrou, Catharina Verburgh, ontmoet het. Die twee is op 4 Maart 1696 in die NG Kerk in Kaapstad getroud.


Joost en Catharina se huweliksrekord (3de op die bladsy) uit die trouregister van die NG Kerk te Kaapstad:  Persoonen die haer inde egt begeven / 4 Mart 1696 /Joost Pieters jongm: met / Catharina Verburg jongd:

Catharina se herkoms is 'n bietjie van 'n misterie. Geen rekord van haar geboorte of wie haar ouers was kon nog gevind word nie, maar 'n slawe-afkoms lyk nie waarskynlik nie.

'n Bietjie meer as 'n jaar ná hul troue, word die twee se eerste kind gebore. Burgert is op 18 Mei 1697 gedoop in Kaapstad. Die getuies was die sieketrooster Albert Coopman en sy vrou, Agnieta van der Gracht.


Doopboek van die NG Kerk te  Kaapstad. 1697: 18 Maij / Gedoopt het kind van Joost Pieterz / van IJsenberg en Catharina Verburg / onder getuijge van Albert Coopman / en Agnieta vander Gracht, genaemt / Burchert.
'n Paartjie se eerste seun is in hierdie tyd tradisioneel na die man se pa vernoem, dus is dit veelseggend dat Joost se eerste seun nié Pieter genoem is nie, maar eerder na sy broer vernoem is (of dat sy pa moontlik ook 'n Burgert was). Burgert (Joost se broer) het sý eerste seun vernoem na sy skoonpa, Matthijs Greef. Hierdie seun is egter jonk oorlede en sy volgende seun is "Adam" gedoop. Daar blyk dus geen liefde verlore te wees tussen Joost en Burgert en hul pa nie - óf hulle het hom nooit geken nie.

Die houtkappery het Joost nog steeds besig gehou en uit die vryburgerkontrakte van die tyd leer ons dat hy in 1697 nog twee soldate van die V.O.C. as knegte gehuur het. In 1698 het hy nog 'n slaaf gekoop, Kinza van Madagaskar, vir 120 Ryksdaalders -  aansienlik duurder as sy eerste twee.

Op 19 April 1699 het die paartjie hul tweede kind gedoop, Hendrik, weereens te Kaapstad. Die getuies was die Nederlandse Steven Vermij en die Duitse Geertruyd de With. 'n Interessante sytak is dié van Hendrik - dit wil lyk asof hy 'n drankhandelaar was en is moontlik die bron vir die familielegende wat noem dat ons van 'n dranksmous afstam. Ek sal op 'n latere tyd nadere aandag aan hom spandeer. Ons stam egter nie van Hendrik af nie.


Doopregister van die NG Kerk te Kaapstad: 19 April 1699. gedoopt een kind van Pieter / Joost van Dyck en Catharina / Verburg, onder getuyge van Steven / Vermij en geertruyd de With gent: / Hendrick
Die dooprekord van Hendrik is ook (sover bekend) die eerste keer wat Joost se van as "van Dijk" i.p.v. "Pietersz" geskryf word. Hy sou voortaan die van "van Dijk" bly gebruik het. Burgert het ook rond die tyd begin om die van Dyk-van te gebruik. Vóór die tyd, was hulle beide bekend as Joost en Burgert Pietersz/Pieterse - en Joost, vir 'n wyle, as Joost van Eisenberg/Isbergh. Dit dui daarop dat hulle nie as "van Dijk" bekend gestaan het in hul plek van herkoms nie, maar saam besluit het om die van aan hulself toe te ken.

Beide die getuies by hierdie doop - Aelbert Coopman (sieketrooster, uit Naerden) en sy vrou, Agnieta van der Gracht (weduwee van Jacob Rootsteen), uit Gorinchem - asook dié van Burgert se doop, die Nederlandse Steven Vermij en Duitse Geertruyd de With - is volgens skatting 'n generasie ouer as Joost en Catharina (wie se geboortedatums ons kan skat aan die hand van die geboortedatum van hul oudste kind en Joost se indienstreding by die V.O.C.). Ek vermoed dat hierdie getuies kennisse of vriende was van Catharina se ouers en dat sommige as haar voogde opgetree het, maar kan nog niks bewys nie. Ek vermoed dat Catharina se ouers, indien hulle ooit aan die Kaap was, reeds teen hierdie tyd oorlede was, anders sou hulle as getuies by ten minste één van die dope verskyn het. Geen van hierdie getuies verskyn as getuies op die dope van Joost se kinders met ander vrouens nie. Catharina was ook bekend as Trijntje Hendriks,13 wat daarop dui dat haar pa moontlik ene Hendrik Verburgh was.

Catharina is ná die geboorte van Hendrik oorlede en Joost het 'n verhouding begin met Elisabeth van Wijk. Daar word al lank gespekuleer oor haar herkoms,14 maar die waarskynlikste is dat sy gedeeltelik 'n slawe-afkoms het, veral aangesien die doop van een van haar kinders in die slawe-doopboek verskyn.15 Haar en Joost se verhouding kom stormagtig voor en waarskynlik was nie een van beide baie getrou aan mekaar nie. Elisabeth het hom twee kinders gebaar: Willem en Johannes. In 1703 het Elisabeth ook 'n ander kind gehad, Christina Matthysen, waarvan die vader nie bekend is nie.1415 Gesien die patroniem "Matthysen"en Joost se gewilligheid om beide sy seuns by Elisabeth te erken en saam te verskyn by hulle doop, kan ons aanvaar dat Christina nie sy kind was nie.

Hulle eerste kind, Willem, is op 24 April 1701 in Kaapstad gedoop.16

Doopregisters van NG Kerk Kaapstad. 24 April 1701. van Joost Pieterzs van Dyk en Lysbeth / van Wijk, onder getuyge van Pieter / de Gryp en Caspara van Staden / gent: - Willem

Hul tweede kind, Johannes, is op 14 Junie 1705 gedoop (te Kaapstad).[33]

Doopregisters van NG Kerk Kaapstad: 14 Junij [1705]. van Joost Pieterz van Dyk en / Lijsebet van Wyk, onder getuyge van / Hendrik Brant en Maanda Gracia / gent: - Johannes

Johannes is as babatjie oorlede[10] en Joost en Elisabeth is kort na sy geboorte/afsterwe uitmekaar. Joost se eerste twee seuns, Burgert en Hendrik (toe sowat 9 en 7 jaar oud), het vermoedelik by Joost gebly (of het in ieder geval goeie kontak met hul vader behou). Willem is egter saam met Elisabeth weg - sy sou in 1718 met die Duitse Nicolaus von Wielligh trou, ná sy hom reeds ses kinders gebaar het. Willem word later glad nie in Joost se testament genoem nie, maar wél in sy moeder s'n. Self is hy in 1733 ongetroud oorlede en noem slegs sy half-suster Christina Matthysen en sy Von Wielligh-halfbroers en -susters in sý testament; geen melding van enige van die Van Dyk's nie.14

In die tyd wat Joost en Elisabeth saam was, blyk sy besigheid as houtkapper agteruit of tot stilstand gekom het. Geen nuwe knegte is ná 1702 gehuur nie en die reeds genoemde kontrakte was telkens slegs vir 'n jaar. In sy testament van 1718 word hy as "Lantbouwer" beskryf en op sy boedelinventaris verskyn daar onder meer 32 beeste (en 2 kalwers), asook 'n opstal in die platteland.  Hierdie skuif van houtkapper na boer was moontlik doelbewus gekies - om byvoorbeeld meer by die huis te kan wees, eerder as om lang poses weg van die huis af te gaan hout kap - óf genoodsaak, indien dit met die houtkap-besigheid minder goed gegaan het.

Nog 'n moontlike rede vir Elizabeth en Joost se skeiding, is sy verhouding met Helena Siewerts. Ek kan nie bewys dat Joost en Helena 'n verhouding gehad het terwyl hy en Elizabeth nog 'n paartjie was nie, óf dat Elizabeth daarvan geweet het nie. Maar as ek hier bo kyk en sien Johannes is op 14 Junie 1705 gedoop, en hier onder sien dat Sybrand (Helena se seun) moontlik reeds op 9 Mei 1706 gedoop is, is die moontlikheid aanwesig.

Sommige bronne17 beskou die volgende doopinskrywing as moontlik dié van Helena:


den 18 Junius van de E[..]d Comps. slavin kinderen gedoopt t[en]

overstaen van Sr. Andries de Man, ende den Capt. Willem

Padt, ghetuijgen van Comps. weegen

Een kindt van Souwa, genaemt Helena een halfslagh


Indien korrek, is Helena gebore as die "halfslag" (d.w.s. "half blank") dogter van Souwa, 'n V.O.C.-slavin uit Madagaskar, en 'n onbekende wit man: Helena was dus outomaties ook 'n slaaf. Haar slawestatus word bevestig in verskeie ander rekords, soos die dooprekords van haar kinders. In sy testament van 1718, verklaar Joost dat hy en Helena verloof was: "den Comparant betuijgde … sigh te hebben geëngageert met sekere helena Siebers".18[13] Hy berou egter dat hy sy goeie voornemens om met haar te trou, deur aanhoudende verhinderings nie kon uitvoer nie. Wat hierdie verhinderings kon wees, gaan ek nog ondersoek.

Joost en Helena se eerste kind saam was Sybrand. Sybrand se geboorte- en doopdatum is nie bevestig nie. Aldus die Geslagsregister van die Broers Joost en Burgert van Dyk (1975) is hy in 1712 op Stellenbosch gebore.[14] Geen dooprekord vir 'n Sybrand met as ouer Joost of Helena kon in die doopregisters van Stellenbosch of elders gevind word nie. Gesien dat al sy ander kinders in Kaapstad gedoop is, lyk 'n Stellenbosch-oorsprong vir Sybrand onwaarskynlik, dog nie onmoontlik nie.

Delia Robertson van The First Fifty Years Project vermoed dat Sybrand reeds in 1706 gebore is, lank voor die res van Helena en Joost se kinders.[15] Op 9 Mei 1706 is die doop van ene "Sybrand" genoteer in die V.O.C.-slawedoopboek, te Kaapstad. Sy moeder is genoteer as die V.O.C.-slavin Helena Scholt.

Slawedoopboek: 9 Maij 1706: Helena Scholt - Sybrand halfs:

'n Ander moontlike situasie is dat die Sybrand wat in 1706 gebore is, vóór 1712 oorlede is en dat Joost en Helena hul volgende kind ook Sybrand genoem het (wat in daardie tyd die gebruiklike tradisie was). Dit is ook moontlik dat die 1706-doop betrekking op 'n ander Helena en Sybrand het. Self dink ek dat die eerste moontlikheid - dat bogenoemde die doop van Joost se eerste kind saam met Helena is, die waarskynlikste is.

Wanneer hy ook al gebore mag wees, dit is van hierdie Sybrand wat ons tak van die van Dyk's afstam.

Hul tweede kind saam was Andries, gedoop op 19 Augustus 1714, te Kaapstad.  Andries se doop is ook in die slawedoopboek genoteer - maar hierdie keer in die burgerslawedoopboek.


1714: 19. Augusti. - gedoopt een slaavenkind van burgert Pietersz. / van Dijk: de vader Joost Pietersz. van Dijk; de / moeder Helena Sietwerts: de getuigen Christiaan / van de Kust, en Susanna van Batavia - Andries

Uit die inskrywing blyk dat Helena, en ook haar seun Andries, in besit is as slawe van Burgert, Joost se broer. Indien Delia Robertson korrek is in haar vermoede rakende Sybrand se doop, sou dit beteken dat daar ongeveer 8 jaar verskil is tussen Sybrand en Andries. Die enigste rede waarom 'n paartjie só lank geen kinders gehad het nie, is as hulle mekaar nie privaat kon sien nie. Helena se werk as V.O.C.-slavin het haar moontlik verhinder om kontak te hê of tyd met Joost te spandeer. Uit Andries se dooprekord is dit duidelik dat Burgert haar sedert Sybrand se geboorte by die V.O.C. oorgekoop het. Het Burgert haar gekoop sodat sy en Joost nader aan mekaar kon wees - wat die twee toegelaat het om hul verhouding voort te sit?

Hoe dit ook al sy, ná Andries se doop is Helena vrygekoop of vrygestel - die res van hul kinders se dope verskyn onder dié van die vryburgers. Hul derde kind saam was Joost, gedoop 13 September 1716. Joost se tweede seun, Hendrik, toe reeds ongeveer 17 jaar oud, was een van die doopgetuies.


[1716]. 13.do [ditto - September]. - Joost. - Joost Pietersz. van Dijk, / en Helena Siewerts. / Hendrik Pietersz. van Dijk en Helena Siewerts.

Hulle laaste kind saam, was Sophia. Sy is gedoop op 20 Maart 1718.

[1718] 20. do. [ditto-Maart] Sophia - Joost Pietersz. van Dijk, en / Helena Siewertsz. - Floris Abramsz. en / Rebekka van Bengalen.

Ligging van die Swartland in die Kaapkolonie.

Ten tye van sy dood het Joost 'n huis besit in Tafelvallei, maar ook 'n "opstal" genaamd die "Ganse craal" in die Swartland. Of hierdie 'n "opstal" was in die Nederlandse sin van die woord - 'n onbewoonde stuk land, of in die Afrikaanse sin van die woord,  "woning [met bygeboue] op 'n plaas" (H.A.T), weet ek nie. Joost het 'n huurder gehad wat in sy huis in Tafelvallei gewoon het, Christiaan Wijnands. Of dit sáám met die gesin was, en of die gesin almal in die Swartland was, waar Joost met sy beeste sou boer, weet ek ook nie.

'n 1714-skildery van Tafelvallei, waar Joost 'n huis gehad het.
Tydens Helena se swangerskap (met Sophia) het Joost baie siek geword, of was moontlik al reeds 'n geruime tyd. Op 28 Januarie 1718 stel hy sy testament op - hy was teen hierdie tyd reeds bedlêend en geglo dat hy op die punt van afsterwe was.[12]  Sy handtekening was uiters bewerig, in vergelyking met sy gewone handskrif.

Joost se handtekening uit 'n V.O.C.-kontrak uit die 1690's.

Joost se handtekening in sy 1718 testament.

Sy testament is opgestel en onderteken "aan Cabo voorn. ten huise van den Comparant", wat vir my daarop dui dat dit die huis in Tafelvallei is. As hy steeds op sy plaas "Ganse craal" was, dink ek hulle sou in die testament na die Stellenbosche distrik verwys het, eerder as "dese Tafelvallei" en "aan Cabo" (Kaapstad). So ook, sou die weesmeesters waarskynlik nie al die pad na die Swartland gereis het om die boedel te inventariseer nie, maar sou dit dan deur familie of naburige burgers gedoen word.

Sy eerste twee seuns, Burgert en Hendrik, laat hy al sy besittings ("soo roerende als onroerende"), om gelykop gedeel en vir ewig en erflik besit te word ("euwigh en erfflijk beseten te werden"). Aan Helena laat hy 500 rijksdaalders, om gebruik te word vir hulle kinders se opvoeding en nodige onderhoud. Joost is op 1 Februarie 1718 oorlede (slegs 4 dae na hy sy testament opgestel het).[15a]

Sy boedel is op 15 Junie 1718 geïnventariseer.[16] Op 17 Junie 1718 is sy eiendomme verkoop tydens 'n publieke vendusie.[17] Ek probeer nog uitvind hoekom (aangesien alles tog aan sy twee oudste seuns gelaat is). Beide sy broer Burgert en seun Burgert was daardie dag kopers.

Sy broer Burgert het onder meer "1 karritje met 1 ballitje"(karretjie met 'n balletjie) vir - as ek nou reg lees - 1,5 stuiwers gekoop. 'n Baie klein bedrag vir iets wat moontlik sentimentele waarde gehad het. Verder het Burgert gekoop: "86 silvere knoopen", "1 spiegel met een vergulde lijst" ("lijst" is 'n raam), "1 rol tabak", "1 kist" en sekerlik nie die minste nie, Joost se opstal, genaamd Gansekraal "gelegen in't Swarte Land".

Interessant is dat Burgert slegs 10 Ryksdaalders betaal het vir (die) Gansekraal, terwyl die Kaapse huis verkoop is vir 1850 Ryksdaalders. Dat die plaashuis/landgoed só min werd was, beteken waarskynlik dat dit 1) nie 'n standvastige konstruksie bevat het nie en/of 2) werklik in die middel van nêrens was.

Joost se seun, "d'jonge Burgert van Dijk", het sy pa se "kooper thee keeteltje en 1 kooper voetje" gekoop, asook twee van sy pa se beeste.

Ten tye van sy dood was sy oudste kind, Burgert, 21 jaar oud, sy jongste, Sophia, nog nie eers gebore nie. Helena het kort na Joost se afsterwe met Anthonij Waagenaar uit Hamburg getrou en hom ook twee kinders gebaar. Dit was algemeen vir beide weduwees en wewenaars om vinnige te hertrou, indien hulle kon (of in Helena se geval, bloot te trou). Beide het gebaat by die sorg en huishouding wat die vrou voorsien het, en die finansiële en fisiese beskerming wat die man gebied het.

Helena is in 1727 oorlede, moontlik a.g.v. komplikasies van haar tweede bevalling: haar dogter Anna Margaretha is op 20 April 1727 gedoop en Helena se boedel is op 1 September van daardie jaar geïnventariseer.[18] Waarskynlik is die jong Anna Margaretha ongeveer dieselfde tyd oorlede: Antonij het 'n jaar later in 1728 gesterf en slegs hul eersgeborene, Christina, word in die boedelinventaris genoem.[19]



Notas en verwysings

1. Huis te Zilverstein Grootboek en Journaal, 1686-1687. Nationaal Archief. Verenigde Oostindische Compagnie, argiefinventaris 1.04.02, inventarisnummer 5342, folio 222 en 223.
2. p.4 The Afrikaners: Biography of a People. Hermann Giliomee. 2003, Hurst & Company, London.
3. Het leven aan boord van een V.O.C. schip, op die webwerf van die Zeeuws Archief.
4. Zielverkoper op die weberf van vaartips.nl
5. Eerherstel voor de zielverkoper, deur Maarten Hell. 2013.
6. Aldus privaatkommunikasie met Jaap van Overbeek, beheerder van www.vocsite.nl. Ouer soldate sou meer ervaring en dus meer verantwoordelikheid en belangriker take gehad het.  Hy verwys self na Herman Ketting se Leven, werk en rebellie aan boord van Oost-Indiëvaarders (2005).
7. J.H. van Dyk bied in sy 1975 Geslagsregister geen rede aan vir hoekom Joost juis as die ouer broer aangewys is nie. Waarskynlik is dit omdat hy eerste getrou en gesterf het. Tensy kontrasterende bewyse gevind word, is daar egter geen rede om van die huidige nommering (Joost as a1, Burgert as a2) af te wyk nie.
8. Details of voyage 1526.4 from Texel to Batavia, op die webwerf van die Huygens Instituut voor Nederlandse Geschiedenis.
9. Huis te Silverstein (1674), op die webwerf van De VOC Site.
10. Functies en rangen aan boord(1674), op die webwerf van De VOC Site.
11. Resolusies van die Politieke Raad: Verwysingskode C.21, pp17-23. Verkry op die TANAP-databasis.
12. Inskrywing vir Thomas Thornhil by die Fifty First Years Project, deur Delia Robertson. URL:  http://www.e-family.co.za/ffy/g16/p16256.htm
13. Kaapse Monsterrol 1696 - Vryburgers. Getranskribeer deur Corney Keller. Bron: Kaapse Argiewe, Verbatim Kopieë VC 39, volume 1, p158-174. Verky op die webwerf van eGGSA: http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/muster-rolls/cape-archives-vc-copies/368-cape-muster-roll-1696
14. Margaret Cairns: Elizabeth van Wijk 1685-1720., soos verskyn in Familia, 12(3), 1975, pp. 55-59.-
15. 1703... 17 Junij/ een kind/ van Lysbeth vande Caab, Cristyna, halfs:. Company Slave Baptisms 1696-1712, getranskribeer deur Corney Keller. Verkry op die webwerf van eGGSA.org.
16. 24 April 1701/van Joost Pieters van Dyk en Lysbeth/van Wijk, onder getuyge van Pieter/de Gryp en Caspara van Staden/gent: / - Willem. Cape Town Baptisms 1701, getranskribeer deur Corney Keller. Verkry by die webwerf van eGGSA.org.
17. Inskrywing vir Helena Siebers by die Fifty First Years Project, deur Delia Robertson.
18. Testament van Joost van Dijk, Kaapse Argiewe, MOOC 7/1/2-92 1718.

[13] Aldus die Woordenboek der Nederlandsche Taal ('n "historisch wetenschappelijk beschrijvend woordenboek van het Nederlands van 1500 tot 1976"), beteken engageren "verloof".

[14] Geslagsregister van die Broers Joost en Burgert van Dyk. J.H. van Dyk (1975). p 10 en 51

[15] Inskrywing vir Sybrand van Dyk by die Fifty First Years Project, deur Delia Robertson. URL:
  http://www.e-family.co.za/ffy/g12/p12997.htm

[15a] Huis te Zilverstein: Grootboek en journaal, 1686-1687, by die Nationaal Archief te Den Haag, Nederland. Argiefinvantaris: 1.04.02. Inventarisnummer: 5342, folio 222.

[16] Inventarisse van die Weeskamer: Joost Pietersse van Dyk, 15 Junij 1718. MOOC 8/3.77

[17] Inventarisse van die Weeskamer: Joost Pietersse van Dyk, 17:e Junij 1718. MOOC 10/2.2

[18] Inventarisse van die Weeskamer: Helena Siebers, 1 September 1727. MOOC 8/5.3

[19] Inventarisse van die Weeskamer: Anthonij Wagenaar, 21 Augustus 1728. MOOC8/6.19

No comments:

Post a Comment