Thursday 22 September 2016

Stand van sake

Sedert ek in Maart weer begin werk het, het ek feitlik geen tyd meer gehad vir stamboomnavorsing nie. Onlangs het ek Woensdae af gekry, wat my so drie uur per week gee om weer tussen die grafstene en kerkrekords in te duik.

Omdat die tyd so beperk is, moet ek noodgedwonge ook my navorsing beperk tot die volgende:

  • Herkoms van die van Dyks en hul tyd aan die Kaap.
    • Ek wag nou al sedert Januarie vir die skeepsboek van die Huis te Zilverstein om beskikbaar te word. Die Nationale Archief het toe begin om al die VOC-dokumente te digitaliseer, waartydens hulle nie ingesien kan word deur die publiek nie. Die boeke bevat dikwels meer inligting as wat deur die Archief geïndekseer is (soos ek ontdek het met Guilliaume de Swart se inskrywing, toe ek dit opgesoek het vir iemand).
  • Doodloopstrate: Miriam Pienaar en Petrus Johannes Jansen van Vuuren - my ma se ouma en oupa. Beide ongekoppeldes in die Jansen van Vuuren- en Pienaar-stambome en sonder enige inligting oor húlle ouers.
  • J.H. van Wyk Jr. en Sr. - my pa se oupa en oupa grootjie.
    •  Johannes Jr. was betrokke in die Tweede Wêreldoorlog. Navorsing sal fokus op sy ervarings en aktiwiteite daar.
    • Johannes Sr. weet ek byna niks van nie, behalwe 'n vertroulike brief wat ons van hom het van President Louis Botha in 1912, waarin hy met sy "vriend" die val van die regering bespreek. Hy vra hom om sy invloed te gebruik om die publiek rustig te hou, gesien die kwaadwillige gerugte wat die rondtes doen.
  • Bevestiging en argivering van bestaande inligting. Aan die begin van die oefening het ek baie naïef te werke gegaan en baie inligting is met MyHeritage gekopiëer sonder om die bronne te bevestig of te noem. Sedertdien het ek geleer hoe baie foute deur ander gemaak word en sal ek baie van hierdie inligting opnuut moet nagaan.
  • Invulling van onlangse generasies.