Friday 26 June 2015

Geplaas: Siewerts, Helena (c.1690 - 1727)

Die hoeveelheid tyd en moeite wat ek in elke familielid se agtergrond stop is belaglik. Selfs al werk ek voltyds hieraan, sal dit jare duur voordat ek dit volledig het. 'n Groot rede hiervoor, is dat ek in 'n mate die wiel van vooraf moet uitvind. Alhoewel daar baie inligting beskikbaar is by ander stambome, is lank nie almal enigsins besorg oor die akkuraatheid van die inligting wat hulle links en regs van mekaar kopieer nie - ek het al sulke kontrasterende en ooglopend verkeerde inligting gesien dat dit my al moedeloos gemaak het. Selfs sommige bronne, soos die Geslagsregisters van Ou Kaapse families (wat deur baie gebruik word), is baie gebrekkig en sit in sommige gevalle die perd heeltemal mis. Dus kan ek nie anders as om elke feit en elke datum na te gaan om seker te maak dat die inligting in ons Stamboom wél korrek is nie.

Maar dit vat lank. Baie lank. Dus wil ek, in 'n poging om tyd te bespaar, slegs die basiese feite (geboorte, huwelik, kinders en afsterwe) van my voorouers noteer om die boom volledig in te vul. Tussentyds sal ek dan meer tyd spandeer aan spesifieke familielede wat 'n interessante verhaal blyk te hê. Dus is Helena Siewers, "vrou" van stamvader Joost van Dyk, voorlopig die laaste wat 'n diepgaande verhaal sal hê.