Thursday 3 December 2015

Vorderings

Die afgelope tyd het ek minder aandag aan die Stamboom kon spandeer as wat ek sou wou. Buiten die gewone chaos wat my lewe regeer, is ek ook besig om die komende familiebesoek te beplan. Ek het ook begin om 'n aantal mense op die SA Genealogie-poslys te help met hul soektogte (waarin ek snaaks genoeg meer en makliker vordering maak as my eie), wat natuurlik ook tyd in beslag neem.

(Anna) Maria Pieterse van Dijk.  

Ek is nog altyd opsoek na die verkeerdelik aangehaalde "MOOC 15/1 anno 1714", waarin daar blykbaar verwys word na Jan Bastiaanse se vrou as Maria Eli. Ek was optimisties dat dit moontlik in Catharina Greeff se 1714 testament sou wees. Burgert is met Anna Greeff getroud, wat 'n suster genaamd Catharina gehad het. Maar dit was nie raak nie.

Ek gaan nou probeer om langsamerhand ál die 1714-testamente te deursoek, asook dié van die betrokke persone, byvoorbeeld Jan Bastiaanse, Anna Maria de Leeuw (haar skoonma), ens. Sommiges is al reeds bestel, maar die Kaapse Argiewe het 'n maandelikse beperking van 20 bladsye per persoon. Dit is sowat 4-6 dokumente. Hierdie gaan duidelik 'n langtermynprojek wees.

Joost Pietersz. van Dijk

Nog altyd besig met die doopregisters van verskeie Isberg-agtige dorpies. Sal my vorderings daarmee later meer toelig.

Joost was 'n soldaat in diens van die VOC aan die Kaap tussen 1686 en 1691. As hy in die tyd uitgehuur is as kneg aan 'n vryburger, behoort daar 'n kontrak te wees daarvan by die Kaapse Argiewe. Ongelukkig is daar vir hierdie kontrakte slegs die vryburgers se name geïndekseer, en nie die knegte s'n nie, dus sal ek ál die kontrakte moet deursoek. Op die argiewe se soekenjin verskyn daar egter geen kontrakte vóór 1692 nie. Een van die poslyslede, Johan van Breda, wat my ook Catharina Greeff se testament gestuur het, gaan vir my uitvind daaroor. Aan die een kant hoop ek dat daar geen soldate as knegte uitgehuur is voor 1692 nie - dit sal my 'n hoop werk spaar.

Ons het 'n DNS-toets bestel wat hopelik meer lig sal werp op die haplogroep waaraan die Van Dyk's behoort (en uit watse deel van die wêreld Joost van stam).

Ons gaan ook in Desember op besoek by Texel, waarvandaan Joost en Burgert geseil het. Hierdie word my V.O.C.-vakansie.

Van Vuren

Ons gaan ook in Desember op besoek by Vuren, waarvandaan die Jansen van Vuuren-stamvader kom. Kiekies en verhale volg.

Doodloopstrate

Terselfdertyd sukkel ek ook nog met die volgende doodloopstrate in die stamboom. Ek het al kontak opgeneem met verskeie argiewe en persone, in sommige gevalle sonder sukses, in ander gevalle wag ek nog.

  • Magdalena Elisabeth Droskie (c1830-1911). Oumagrootjie van my oupagrootjie, Izak Matthys van Dyk.
  • Johan Adam Roos (1854-1873). Oupa van Oumagrootjie Tina van Dyk (née Nel).
  • Aletta Catharina Jansen van Vuuren (1816-1877?). Oumagrootjie Tina se een oumagrootjie
  • Johannes Hendrik van Wyk. Ouma Anna se pa. Sy pa was vermoedelik ook Johannes Hendrik van Wyk.
  • Johan Hendrik Breytenbach 1876-1926. Oumagrootjie Alida se pa. Ek het onlangs 'n sterfkennis van hom ontvang met die name van sy ouers: Izak Johannes Breytenbach en Elisabeth Maria Schoeman. Maar hulle is tot dusver ook doodloopstrate.
  • Jacomina/Jacoba Christina van Niekerk (1793-?). Schalk Willem Burger se Ouma aan vaderskant. Sy is ook Ouma Desiree Schoeman se oeroumagrootjie.
  • Magdalena Elizabeth de Villiers (1813-?). Ouma Alida se oer-oumagrootjie.
  • Petrus Johannes J. van Vuuren (?-1966) 
  • Miriam Pienaar (1908-1985)
  • Die Skotte en Engelse aan moederskant blyk ook nog steeds baie moeilik te wees om na te vors, voor hul koms na Suid-Afrika.

De Swart

Ek help ook 'n vrou met die navorsing van die stamvader Guillaume, oftewel Willem, de Swart. Hy is as 12-jarige reeds na die Kaap. Gewoonlik is slegs weeskinders só jonk toegelaat. Ek gaan vir die vrou 'n besoek bring aan die weeshuis se argief by Bergen op Zoom, waar hy gebore is, om te kyk of hy inderdaad daar was. Jammer genoeg is daar nie 'n De Swart in ons stamboom nie (sover ek kan sien - groot dele is natuurlik nog nie ingevul nie). Dis nietemin 'n baie interessante verhaal.