My pa, en dus waarskynlik Joost, se haplogroep is I-M223 (ook bekend as I2a2a). Wat beteken dit? As ek dit reg verstaan, beteken dit dat Joost en Burgert (of hul voorvader) uit een van die volgende gebiede kom:
Nou nie dat ek 'n lengte- en breedtegraadligging verwag het nie, maar om met só 'n wye gebied gekonfronteer te word, maak mens ook maar moedeloos. Mens kan wel verder laat toets (en hier is waar my brein begin breek) vir SNP's - 'n Singe Nucleotide Polymorphism, wat 'n verandering van mens se DNS-kode by 'n spesifieke punt is. So kan mens jou klade meer spesifiek vasstel. Daar is vier subklades wat onder I-M223 val:
- I2a2a1 (M284+) word byna geheel en al in Britanje gevind, waar dit blykbaar 3000 jaar terug ontwikkel het.
- I2a2a2 (L701+) is wyd verspreid. Dit word in die hele Middel Europa gevind, van Duitsland en die voormalige Oostenrykse Keiseryk, tot Pole, Romenië en Oekraïne. Maar ook, in minder mate, in Griekeland, Italië, Frankryk, Spanje, Engeland, Ierland en Armenië (waar dit moontlik deur die Gote versprei is). Hierdie klade is afwesig in Skandinawië en Skotland.
- I2a2a3 (Z161+) is die grootste van die vier subklades en word hoofsaaklik in Germaanse lande gevind, veral in Denemarke, Duitsland, Nederland, Engeland en die noordwestelike deel van Sisilië (waar 'n Noorse vestiging was). Dit word ook in minder mate gevind in die res van Europa, van Portugal tot Rusland.
- I2a2a4 (L1229+) is tipies van Engeland, Normandië (en ander dele van Frankryk) asook Midde- en Noord-Duistland. Die hoë aantal gevalle in Duitsland en Engeland (en afwesigheid in Denemarke en Sisilië), dui op 'n Angel-Saksiese lyn, eerder as 'n Noorse/Viking-lyn.
Maar dan wonder ek weer oor die van "Isberg/Isenberg/IJsenberg". Soos ek al voorheen genoem het, kom die familienaam "Isberg/Isenberg" in Swede voor, asook die voorname Just/Jest en Berger/Borger/Birger. (As ek na Joost se handtekening kyk, wonder ek of die mense aan die Kaap nie maar net "Joost"gehoor het nie. Burgert se naam kom in alle variasies voor, van Borchard tot Borger tot Burgert.)
Joost se handtekening uit 'n V.O.C.-kontrak uit die 1690's. |
Joost se handtekening in sy 1718 testament. |
Miskien sit ek die bal mis en kom die twee uit Nederland, Frankryk, België of Duitsland. Maar op die oomblik is my plan van aanpak as volg:
1) Om myself te verdiep in Sweedse genealogie/geskiedenis en hopelik vas te stel of dit 'n realistiese plek van oorsprong kon wees.
2) Ek is ook van plan om 'n SNP-pakket te bestel, om die subklades van my pa se DNS verder vas te stel (wat 'n Skandinawiese oorsprong kan uitsluit).
3) Verder wil ek ook drie ander manlike Van Dyks vind wat bereid is om hul DNS te laat toets, om uit te sluit dat een van die voorvaders op die stamboom die melkman se kind was. Die beste sal wees om afstammelinge van die volgende persone te vind:
- Nog één van Joost se seuns: verkieslik Burgert of Hendrik - wie se ma Catharina Verburgh was. Of dan Andries of Joost (junior). Ons stem self van Sybrand af.
- Twee van Burgert se seuns: een afstammeling elk van Adam en Tobias.
Op FamilyTreeDNA.com is ook die Cape Dutch DNA Stamouer Project. Al die DNS van die Suid-Afrikaanse stamouers, kan daar besigtig word.
No comments:
Post a Comment