Thursday, 3 September 2015

'n Voorbeeld van 'n Stamboom-speurtog

Ek is terselfdertyd besig met 'n aantal takke van die stamboom: terwyl ek op soek is na meer inligting oor die Van Dyk en Van Vuuren-takke, probeer ek ook die stamboom-legkaart as geheel invul. M.a.w. probeer ek elke tak na te vors tot ten minste by die eerste Stamvader in Suid-Afrika (of verder, indien moontlik).

In baie gevalle is dit maklik, veral met behulp van webwerwe soos MyHeritage.com en Geni.com, waar baie mense al die moeilike werk vír my gedoen het. Maar soms het mens 'n voorouer soos Wesselina Hendrik Cornelia de Beer, getroud met Barend Jacobus Hendrik van Dyk (1865-1947). Hulle was die ouers van my Oupagrootjie Izak Matthys (getroud met Oumagrootjie Tina).

Al wat ek van haar gehad het is haar naam, verkry uit die Geslagsregister van die broers Joost en Burgert van Dyk (1975). Verder kon ek net mooi niks opspoor nie. Ek het selfs 'n navorser betaal om haar sterfkennis in die Nasionale Argiewe te Pretoria te fotografeer. In die sterfkennisse word 'n persoon se ouers, asook hul kinders (dikwels met geboortedatums) gelys. Helaas het Wesselina se seun, Izak Matthys van Dyk (dis nou Oumagrootjie Tina se man) slegs "oorlede" ingevul by die spasies vir die ouers. Gelukkig kon ek daar wél sien waar sy gebore is en ongeveer wanneer sy gebore is en wanneer sy oorlede is (c1874-1941.10.23). (Moet byvoeg dat hy ook ander dokumente van ander familielede gefotografeer het - sommige waaruit ek báie geleer het.)


Aangesien Willemina in die Vrystaat gebore is, het ek toe in die beskikbare Vrystaatse sterfkennisse en boedelinventarise op die webwerf van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika geduik, sonder enige geluk. Daarna sommer deur die beskikbare dokumente van die ander provinsies ook gesnuffel, sonder enige raakskote. (Daar is nog baie meer sulke dokumente wat nie op die webwerf is nie - en waarvoor mense self na die betrokke argief moet reis of 'n navorser moet betaal - maar as jy nie weet watse dokument jy soek nie, m.a.w. die name van één van haar ouers, is dit 'n onbegonne taak.)

Ek gaan loer toe op die uitstekende webwerf British Concentration Camps of the South African War 1900-1902. Hierdie uiters waardevolle bron is die werk van ene Dr. Elizabeth van Heyningen en haar span navorsers aan die Universiteit van Kaapstad. Daar kan mens rekords opsoek van burgers wat tydens die Anglo-Boereoorlog gevangene geneem is en in kampe geplaas is. En dis toe ook waar ek die volgende rekord vind:

Personal Details

Name:
Mrs Wesselina Hendrina van Dyk
Born in camp?
No
Died in camp?
No
Gender:
female
Race:
white
Marital status:
married
Nationality:
Transvaal
Registration as head of family:
Yes
Unique ID:
86249
Camp History

Name:
Age arrival:
28
Date arrival:
03/03/1902
Date departure:
18/04/1902
Destination:
Wentworth, Natal
Tent number:
Farm History

Name:
District:
Status of Husband

Type:
POW
Notes:
Barend Jacobus
Relationships

Mrs Wesselina Hendrina van Dyk

      is the mother of Master Tobias Johannes van Dyk

      is the mother of Master Izaak Matthys van Dyk

      is the unknown of Miss Anna Susanna Elizabeth de Beer

      is the mother of Miss Susarra Maria Catharina van Dyk

      is the mother of Miss Wesselina Hendrina van Dyk

Sources

Title:
Type:
Camp register
Location:
National Archives, Pretoria
Reference No.:
DBC 84
Notes:
p. 63

Hier leer ek toe dat Wesselina saam met haar kinders gevangene geneem is op hul plaas Boschkloof in Middelburg én dat, terselfde tyd, 'n Mejuffrou Anna Susanna Elizabeth de Beer by haar op besoek was, of moontlik vir 'n wyle by hulle gebly het (as mens op die plaas se naam kliek, kan jy sien wie almal daar gevangene geneem is).

Deur Susarra/Sara Maria Catharina verder na te vors en haar as suster van Wesselina aan my stamboom te voeg, het ek gisteraand 'n ooreenkoms tussen my stamboom en dié van 'n Paul Vorster gekry. Sy stamboom bevat die ouers van Wesselina en Sara Maria Catharina, plus al hul broers en susters (verkry uit die ouers se sterfkennisse) - maar sonder die nageslag van Wesselina. Dus weet ek nou dat Wesselina Hendrina Cornelia de Beer die oudste dogter is van Izak Matthys de Beer (1827-1892) en sy tweede vrou, Carolina Wilhelmina Stoltz/Stols (c1830/57-c1888). Gesien dat Wesselina en Barend se eerste seun ook Izak Matthys genoem is, is verdere bevestiging dat dit hier om dieselfde Wesselina gaan. Wesselina se pa het ook vier dogters by sy eerste vrou, Maria Petronella Wessels, gehad.

Buiten haar halfsusters, het sy self ook nog vier susters gehad en twee broers gehad. Haar Pa se voorouers het ek nou al vir élke tak tot by die Stamvader nagetrek. By haar ma sit ek vas. Ek het net haar naam en my eie gissings rakende haar geboortedatum en afsterwe. Verder kan ek net mooi niks opspoor nie. En so duur die speletjie voort...

(En as my man vanaand by die huis kom en wonder hoekom sy klere nie gestryk is nie, dan weet hy nou.)



Friday, 26 June 2015

Geplaas: Siewerts, Helena (c.1690 - 1727)

Die hoeveelheid tyd en moeite wat ek in elke familielid se agtergrond stop is belaglik. Selfs al werk ek voltyds hieraan, sal dit jare duur voordat ek dit volledig het. 'n Groot rede hiervoor, is dat ek in 'n mate die wiel van vooraf moet uitvind. Alhoewel daar baie inligting beskikbaar is by ander stambome, is lank nie almal enigsins besorg oor die akkuraatheid van die inligting wat hulle links en regs van mekaar kopieer nie - ek het al sulke kontrasterende en ooglopend verkeerde inligting gesien dat dit my al moedeloos gemaak het. Selfs sommige bronne, soos die Geslagsregisters van Ou Kaapse families (wat deur baie gebruik word), is baie gebrekkig en sit in sommige gevalle die perd heeltemal mis. Dus kan ek nie anders as om elke feit en elke datum na te gaan om seker te maak dat die inligting in ons Stamboom wél korrek is nie.

Maar dit vat lank. Baie lank. Dus wil ek, in 'n poging om tyd te bespaar, slegs die basiese feite (geboorte, huwelik, kinders en afsterwe) van my voorouers noteer om die boom volledig in te vul. Tussentyds sal ek dan meer tyd spandeer aan spesifieke familielede wat 'n interessante verhaal blyk te hê. Dus is Helena Siewers, "vrou" van stamvader Joost van Dyk, voorlopig die laaste wat 'n diepgaande verhaal sal hê.




Friday, 7 November 2014

Paleografie

Wanneer dit voorkom asof die stamboomondersoek nie vinnig vorder nie, is dit nie omdat ek niks doen nie, maar omdat ek slegs geen vordering maak in die werk wat ek wél doen nie.

Ek sit nou al lank en wonder oor die Van Dyk-familie se herkoms. Ja, ja, ek weet die Geslagsregister sê ons kom uit Ysenberge (tans Izenberge) in België: maar wanneer is Jan van Dyk of sy kinders gebore - hoe oud was hulle toe hulle in Suid-Afrika aangekom het, wat het van die ma geword en, waaroor ek die meeste wonder, waarom het hulle na Suid-Afrika gegaan?

In 'n poging om hierdie vrae te beantwoord, is ek besig om deur die doop- huweliks-, en sterfteaktes van Ysenberge in die periode 1634 tot 1690 te sif. Maar dit vat baie lank, of liewer: baie, baie, baie lank. Hoekom? Wel, om mee te begin is die inskrywings in Latyn, nié 'n taal waarmee ek baie ervaring het nie. Asof dit nie erg genoeg is nie, was dit ook nie altyd 'n taal waarmee die pastoor baie ervaring gehad het nie, wat beteken dat woorde uitgelaat of verkeerd gespel word. En derdens, laat hierdieselfde pastore se handskrifte dikwels veel te wense oor. Dit laat mens met 'n werk wat eintlik voltydse toewyding nodig het, maar waarvoor ek slegs 'n uur of twee per week oor het.

Hier volg 'n paar voorbeelde uit die doopregisters van Ysenberge/Izenberge, met transkripsies en vertaling, ter informasie en vermaak.



Die eerste voorbeeld is die maklikste: hierdie pastoor het redelik duidelik geskryf en kan ek dit sonder te veel moeite oorskryf en vertaal (wat dan ook die betekenis van paleografie is: die oorskrywing van antieke tekste). Die woorde in hakies kom nie self in die teks voor nie en 'n vraagteken dui daarop dat ek nie seker is oor die woord nie.


Die vigesima septima februarij
anni milesimi sexentesimi septuagesimi
quarti baptisavi corneliam filiam
francisci venderloo et Anna van hille
c-jugium nataam vigesima quinta huius (mensis)
susceperunt Joannes venderloo ex
beueren et cornelia van hille ex Isenb:

J Flamour pl? (pastor loci)

Op die 27ste Februarie,
in die jaar 1674 (letterlik uitgeskryf)
is gedoop Cornelia, dogter van
Franciscus Venderloo en Anna van Hille,
eggenote. Gebore die 25 van hierdie (maand).
Doopgetuies was Joannes venderloo uit
Beveren en Cornelia van Hille uit Izenberge.

J. Flamour, plaaslike pastoor


Buiten die woord wat die pastoor uitgelaat het ("mensis"/"maand"), bied bostaande nog 'n voorbeeld van 'n stok tussen my speke: afkortings. By die derde reël van onder is die eerste woord cjugium, maar die c het 'n strepie bo-op. Dit beteken dat die woord afgekort is: dit is eintlik conjugium. Ek herken die woord, want ek het hom al telkemale in ander rekords teëgekom, maar daar is helaas meer as genoeg afgekorte woorde wat ek nie herken nie. Die pastore besluit immers self wat hulle gaan afkort en hoe, eerder as om 'n vooraf bepaalde stelsel te gebruik. Ook is in hierdie geval die woord "maand" ("mensis") uitgelaat.

En dan is daar ongelukkig heeltemal te veel inskrywings waar die pastoor soos 'n krap geskryf het:


Dan probeer ons maar ons bes:

xxiije aprilis
baptizavi barbaram filiam
irberti de holander et petronilla
bransbers/? conogm natum xxi nat:
susceptores Jacobus de holander
ex Ijsenberge Joanna uxor
Jacobi onterseune filij maliardi
ex IJsenberge
23ste April (1634)
Gedoop, Barbara, dogter van
Irbertus de Holander en Petronilla
Bransbers/?, eggenotes. Gebore die 21ste gebore.
Doopgetuies Jacobus de Holander
uit Ysenberg, Joanna, vrou van
Jacobus Onterseune en dogter van Maliardi
uit Ysenberge.

Bogenoemde pastoor het nie baie hard probeer nie: 'n naam soos Irbertus is haas onmoontlik en "gebore die 21ste gebore", is nie baie sinvol nie. Nie seker oor die "Brantbers"-van nie, dit kan ook byvoorbeeld Brantlers of Branslers wees (weereens, 'n uiters ongewone van, selfs vir dié tyd - laat my wonder of die ou hardhorend was).

Die inskrywings volg egter almal dieselfde volgorde, wat dit maklik maak om woorde te herken en die nodige inligting raak te sien.

Maar dan kry mens nou soms 'n inskrywing soos die volgende, wat my hart breek:


My vertaling in hierdie geval moet met 'n knip sout geneem word, want hier is baie nuwe woorde (en Latynse woorde se betekenis verander afhangende van die plek in die sin en die agtervoegsels). Weer het ons Mnr. Flamour, wat nou nie weer só mooi skryf soos in die eerste voorbeeld nie.


1676
Die tertia Januarij anni supradicti
baptisavit Infrascriptus Joannam de Leugen
Inventura in porticu annexo ecclesia Isenbergam
cuius pater et mater facto huiur inde
examine nescitus. susceperunt Petrus
van Roesten disci magister et Catharina Hudens
testetrix uterqe ex Isinberge
J. Flamour
1676
Op die derde dag van Januarie in die jaar hierbo aangegee,
het die ondergetekende gedoop, Joanna de Leugen,
gevind in 'n kamer verbind aan die kerk van Isenberg.

Wie die vader of moeder van die kind inderdaad is,
het ondersoek nie kon toon nie/moet ondersoek word?
Doopgetuies was Petrus  van Roesten "disci magister" en Catharina Hudens, 
beide getuies uit Isinberge.



 Die gegewe van, "Leugen", verwys na die kerkportaal waar sy gevind is: in baie Wes-Vlaamse dorpies het die kerkportaal as "De Leughen" bekend gestaan, want dit is waar almal na die oggenddiens gaan staan en skinder het oor die plaaslike skandale.

Alhoewel ek nog hoegenaamd geen van Dyk's gevind het nie - en ook geen persone met dieselfde voorname nie  - is die 'n interessante tydverdryf: mens leer die inwoners en pastore van hierdie klein dorpie in die 1600's - en die manier waarop hulle gelewe het - baie goed ken. Ek betwyfel intussen egter sterk of énige van die Van Dyk's daar gebore is. Moontlik het die vader as kind daar grootgeword en homself as "van Ysenberg" beskou (alhoewel hy nie daar gebore is nie), of het hy daarheen verhuis ná die gebore van sy jongste kind, Anna. Hoe dit ook al sy, ek sal dit eers met sekerheid kan bevestig ná ek al die rekords deurgesif het.





Sunday, 14 September 2014

Geplaas: Joost van Dijk (c.1675-1718)

Nou net Joost van Dijk se inskrywing geplaas. Dit was 'n interessante twee weke wat ek met hom en sy baie vrouens spandeer het. Ek het aansoek gedoen om lidmaatskap by die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, waardeur ek hopelik in die toekoms makliker en meer inligting sal kan kry.


Saturday, 6 September 2014

van Dijk, Jan - opgedateer

Ek het so pas die bladsy van Jan van Dijk opgedateer met 'n bronnelys en  die volgende inligting:

Welke datum Jan van Dijk dan ook in Suid-Afrika aangekom het, hy is in 1691 grond toegeken in die buurt van Stellenbosch, wat toe nog maar pas aangelê was. ... Die plase was groot genoeg vir landbou-doeleindes, maar te klein vir vee. Die boere het egter al die naburige land, wat aan niemand gegee is nie, as gemeenskaplike weivelde gebruik. Die huise van die verskillende boere was relatief naby aan mekaar, wat 'n gevoel van isolasie teëgewerk het. 

Die koloniste het dikwels in kontak gekom met die Khoi (destyds genoem die Hottentotte, 'n naam wat die klanke van hul taal gena-aap het). Die inboorlinge sou ligte werk op die plase doen, soos velde oes, in ruil vir tabak en alkohol. Die jonger Khoi-meisies het werk aangeneem as bediendes, wat daartoe bygedra het dat die Nederlandse taal verder versprei het.




Die begin

Dis nou al jare wat ek wil-wil ondersoek doen na my familie (van Dyk) se stamboom en na 'n paar halwe beginne het ek uiteindelik halsoorkop in die genealogie-wêreld ingeduik met 'n Premium Plus rekening op myheritage.com. Gewapen met die "definitiewe" geslagsregister (gepubliseer 1975) het ek begin om my wortels op te grawe. Mettertyd het ek egter moes leer dat die geslagsregister nie so betroubaar is as wat ek (en baie ander amateur-genealoë) gedink het nie. Sommige familielede verskyn glad nie daarin nie, terwyl ander verkeerdelik as getroud genoem word - ander het selfs die verkeerde ouers.

Die blog (of webjoernaal, as jy wil) is dus bedoel om hierdie foute te korrigeer: alhoewel my stamboom vir iedereen toeganklik is op www.hoogendoorn-vandyk.myheritage.com (lewendige persone se inligting is slegs toeganklik vir diegene wat 'n individuele uitnodiging ontvang het), is dit lank nie baie gebruikersvriendelik nie en is dit moeilik om 'n oorsigtelike prentjie te kry van 'n persoon of sy gesin.

Ek het drie hoofdoele:
1. Om meer uit te vind oor die van Dyk's en hul herkoms uit Wes-Vlaandere.
2. Om die moederlyne na te vors tot in Europa (ek het immers 2048 direkte voorouers as ek 11 geslagte terug kyk).
3. Die gegewens oor die meer onlangse geslagte volledig in te vul.

Punt 2 is ook waarom die blog SA Stamboom, in plaas van Van Dyk Stamboom heet: ek is net soveel 'n Van Vuuren, Kruger, Schoeman, Mouton, McDonald, De Klerk, Robinson, Nel, Siewerts, de Vlamingh, ens. as wat ek 'n Van Dyk is en dit sou jammer wees om nie ook die verhale van hierdie families in te sluit nie.

En dus, sonder enige verdere uitstel, bied ek die eerste inskrywing:
Jan Pietersz. van Dijk (c. 1635-73)